Ervaring tel wanneer rekordoes geberg word

Gepubliseer: 3 Junie 2021

934
Awie Kriel,
streeksbestuurder:
Kommoditeite, Kaap Agri
Wessel Lemmer,
hoofbestuurder,
Agbiz Grain

Graanoeste is seisoenaal en die omvang daarvan kan groot variasies toon. Ervare silopersoneel is hierop bedag, want dit is nie so maklik om hulpbronne uit te rol wanneer ’n rekordoes skielik op hande is nie.

’n Suksesvolle span weet wanneer die pas aangegee moet word om meer graan in dieselfde tydsbestek te hanteer en op te berg. Vlugvoetige silopersoneel beskik oor vaardighede soos vêrsiendheid, ’n bereidwilligheid om altyd te leer, aanpasbaarheid en veerkragtigheid. ’n Span met lede wat oor hierdie eienskappe beskik, kan vinnig ’n rekordoes met bestaande hulpbronne baasraak.

Vêrsiendheid en ervaring as ’n vroeë waarskuwingstelsel
Vêrsiendheid help ’n silospan om op hul voete te dink en betyds vir veranderende omstandighede te beplan. As ’n normale koringoes byvoorbeeld teen September in die Wes-Kaap verwag word en dit blyk dat produksie-omstandighede dermate verbeter het dat ’n rekordoes oor vier weke verwag kan word, moet die planne reeds agtermekaar wees.

Goeie silopersoneel is vertroud met hoe weersomstandighede op ’n weeklikse basis die produksietoestande van die oes in diesilokompleks se bedieningsgebied direk kan beïnvloed. Tegniese kennis rakende produsente se produksie-aktiwiteite kan ’n goeie aanduiding gee van die oesgrootte wat verwag kan word. Die span se goeie kommunikasieverhoudinge met hul kliënte (produsente) verseker ook dat hulle ’n uitstekende diens kan lewer. Die span by die silokompleks is dus in staat om die produksie-omgewing vooraf te takseer en veranderinge vroegtydig te verwag. Hul vêrsiendheid en ervaring is ’n betroubare vroeë waarskuwingstelsel vir enige opberger.

Pas vinnig aan by veranderende omstandighede
Die vermoë van personeel om aanpasbaar en buigsaam te wees, is van onskatbare waarde wanneer ’n rekordoes verwag word. Die veranderende omstandighede dwing ’n span om hul aanvanklike aannames rakende die komende oes vinnig te hersien. Strategieë en prosesse moet merkbaar aangepas word om ’n groter oes te kan inneem. Dit kan beteken dat alternatiewe opbergingsfasiliteite tydig in plek gestel moet word om bykomende graanlewerings te akkommodeer. Personeel pas hul planne dus dadelik aan om die optimale funksionering van ’n silo­kompleks reeds voor oes in plek te stel.

Ingeligte besluite stel kliënte se behoeftes eerste
Die ligging van die silokompleks tydens ’n rekordoes is ’n sleutelfaktor in die sukses daarvan. Dit kan daartoe lei dat graan geskuif moet word om die kliënt steeds in staat te stel om by sy naaste leweringspunt van keuse te lewer. Opbergers maak dit dus vir kliënte gerieflik om sonder onderbre­kings en oponthoude graan tydens oestyd te lewer. Kliënte behoort nie verontrief te word deur graan by verafgeleë en onbekende leweringspunte te moet lewer nie.

Silobestuurders het uitstekende verhoudinge met produsente in hul omgewing en kommunikeer daagliks met kliënte om hulle op hoogte te hou van die verande­rende omstandighede by die silokompleks. Gereelde kommunikasie met kliënte stel ’n silobestuurder in staat om die daaglikse skedule akkuraat te bestuur. Die personeel­korps by silo’s is ervare, wat baie help wanneer die span met die logistieke uitda­gings van ’n groot inkomende oes gekonfronteer word.

Bereidheid om te leer
’n Silokompleks se personeel streef daarna om die voorkeur- en grootste diensverskaffer in die opberging van graan in sy bedieningsgebied te wees. Opbergers speel ’n belangrik rol in prysontdekking en die tydige lewering van graan is daarvoor nodig sodat kliënte mark­verwante pryse behaal. Die meeste produsente verkoop hul graan voor en tydens die oes en daarom is die doeltreffende hantering van graan juis ook tydens die insameling van ’n rekordoes so belangrik.

Dit is belangrik dat kliëntediens vir die silopersoneel ’n passie­ moet wees sodat die kliënt ’n goeie ervaring sal hê. Soos in die bankwese moet verhoudings met kliënte altyd eerste kom. Dit is in die meeste gevalle ’n goeie kliënteverhouding en uitstekende ligging wat mededingers in opberging van mekaar onderskei. Vertroue word deur goeie verhoudinge gebou en verseker dat kliënte jaar na jaar van dieselfde opberger gebruik maak om graan op te berg en deur die fasiliteite te bemark.

Veerkragtigheid
Goeie kommunikasie met kliënte en ervaring maak ’n span veerkragtig. Ervaring van die suksesse en mislukkings wat gedurende vorige oesjare behaal is, stel ’n span in staat om ’n rekordoes doeltreffend te hanteer. Of dit nou ’n swak oesjaar of ’n rekord­oesjaar is, perso­neel verseker aan die einde van die dag dat die kliënt ’n onvergeetlike kliëntedienservaring het. Ongunstige produksie-omstandighede moenie ’n span by ’n silokompleks ontmoedig nie. ’n Span moet veerkragtigheid toon en gereed wees om van seisoen tot seisoen vinnig en gemaklik by veranderende omstandighede en nuwe planne aan te pas.

Opsomming
Dit is nie noodwendig die beskikbare fasiliteite en belegging in nuwe infrastruktuur wat daartoe lei dat ’n opberger ’n rekordoesjaar suksesvol insamel of nie. Dit is die mense by elke silokompleks waarom alles draai. Tydige besluite wat op ervaring gebaseer is, is noodsaaklik. Kliënte se behoeftes moet eerste gestel word en goeie kommunikasie moet deurlopend gehandhaaf word sodat die produsent met gerief sy oes kan insamel en wegry na die silokompleks van sy keuse – daar waar prysontdekking doeltreffend plaasvind, veral in ’n rekordoesjaar.