Olie steek dieselpryse aan die brand

Gepubliseer: 7 Mei 2021

1140
Corné Louw
senior ekonoom, Graan SA
corne@grainsa.co.za

Die ruolieprys het die afgelope twaalf maande skerp gestyg nadat pryse verlede jaar ’n laagtepunt bereik het weens wêreldwye inperkings as gevolg van COVID-19. Ekonomiese aktiwiteit het stelselmatig begin toeneem en Opul-kartellede (Organisasie van Petroleumuitvoerlande) het produksie begin rantsoeneer. Die plaaslike dieselprys het as gevolg hiervan in April sy hoogste vlakke in 18 maande bereik, teenoor die hoogste prys op rekord van R16,13 per liter in November 2018.

Vanaf Maart 2020 tot Maart 2021 het die prys van ruolie met meer as 90% gestyg – vanaf ’n gemiddeld van $34/vat tot $66/vat. Gelukkig het die waarde van die rand oor hierdie tydperk met 10% versterk, wat die styging in internasio­nale brandstofpryse effe teengewerk het. In vergelyking hiermee het die groot­han­delsprys van diesel met 16% vanaf April 2020 tot April 2021 toegeneem.

Grafiek 1 dui aan wat op ’n maan­delikse basis sedert 2010 met die Brent-ru­olieprys en die wisselkoers gebeur het. Diesel maak ongeveer 12% van ’n graan- en oliesadeprodusent se lopende produksiekoste uit. Hierdie skerp styging in dieselpryse kan dus ’n groot impak hê tydens strooptyd in die somergraanproduksiegebiede asook in die wintergraangebiede waar produ­sente aan die plant is.

Grafiek 1: Brent-ruolieprys en rand/dollar-wisselkoers.

Prys van diesel
Die groothandelsprys van diesel het in April 2021 op R14,78/liter gestaan – die hoogste dieselprys sedert Oktober 2019 en 16% hoër as verlede jaar dieselfde tyd.

As daar na die samestelling van die dieselprys gekyk word, bestaan 47% uit die werklike brandstofkoste (invoerprys van diesel), terwyl heffings en belasting 53% van die prys uitmaak. Die grootste gedeelte (76%) van die heffings en belasting bestaan uit die algemene brandstofbelasting en die Padongelukkefondsheffing.

Heffings en belasting wat die groothandelsprys in Suid-Afrika opmaak, word gereguleer. Grafiek 2 toon die samestelling van die groothandels­prys van diesel in April 2021 aan.

Grafiek 2: Samestelling van die groothandelsprys van diesel in April 2021.

Dieselrabat vanaf April 2021
Die dieselrabat waarvoor produsente kwalifiseer, bestaan uit 40% van die algemene brandstofbelasting en 100% van die Padongelukkefondsheffing.

Die Minister van Finansies het in Februarie 2021 aangekondig dat die algemene brandstofheffing en die Pad­ongelukkefondsheffing onderskeidelik in April met 15 sent/liter en 11 sent/liter gaan toeneem. Dit bring mee dat die dieselrabat in April 2021 vanaf 349 sent/liter na 366 sent/liter toegeneem het – vir 80% van regmatige gebruik. Vir April 2021 het die dieselrabat 24,8% van die groothandelsprys van diesel uitgemaak. Grafiek 3 toon hoe die dieselrabat oor tyd toegeneem het.

Grafiek 3: Toename van die dieselrabat oor tyd.

Meer verantwoordelikheid
Ondanks die feit dat heffings en belasting dus toeneem, is dit duidelik dat die dieselrabat ’n noemenswaardige deel daarvan uitmaak. Dis belangrik dat die landbousektor die dieselrabat­ met die nodige omsigtigheid en ver­antwoordelikheid moet hanteer en ten alle tye moet beskerm – dit is van die min ondersteuningsmaatreëls wat die sektor wel ontvang.

Nuwe dieselrabatvoorstel vorder
Die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) en die Tesourie het in Februarie 2021 ’n tweede konsep vir ’n nuwe voorgestelde dieselrabatsisteem vir kommentaar vrygestel. Van die belangrikste veranderinge in die voorgestelde stelsel is soos volg:

  • ’n Elektroniese stelsel soortgelyk aan eFiling wat kommunikasie en die byhou van inligting sal verbeter.
  • Wat belangrik gaan wees, is dat produsente hul boerderyprofiel so volledig as moontlik moet opstel. Produsente gaan net kan eis wat op die profiel gelaai is.
  • Daar is verder heelparty veranderinge vanaf die huidige stelsel wat verwarring sal verminder.
  • Daar word ruimte geskep vir doelgerigte voertuie (dedicated vehicles) wat hoofsaaklik kwalifiserende aktiwiteite verrig. Hiervoor word ’n meer eenvoudige logboek voorgestel. Graan SA het kommentaar gelewer om seker te maak hierdie lys is so volledig as moontlik.
  • Alhoewel produsente nou vir 100% van kwalifiserende gebruik kan kwalifiseer, dui die SAID of Tesourie nie die bedrag waarvoor gekwalifiseer word, aan nie. Graan SA beveel sterk aan dat die dieselrabat steeds 40% van die brand­stofbelasting en 100% van die Padon­gelukkefondsheffing moet wees.
  • Daar word ook na drie verskillende logboeke verwys, maar nog geen duidelikheid of voorstel is hieroor gedeel nie. Graan SA het dit ernstig beklemtoon dat die inhoud van die logboeke gaan bepaal of die nuwe stelsel ’n sukses gaan wees al dan nie.
Klik op die QR-kode vir meer inligting oor die hantering van die dieselrabat en aktiwiteite wat kwalifiseer (skedule 6, deel 3).

Oor die algemeen is die nuwe voorstel ’n verbetering op die huidige stelsel, veral wat grys areas en probleme met kommunikasie betref.

Kry jou voetwerk oor die rabat in orde

  1. Eis die dieselrabat op grond van verbruik en nie op aankope nie.
  2. Vir bakkies en vragmotors veral moet so deeglik as moontlik boekgehou word.
  3. Hou volledig boek van dieselgebruik op die plaas (vanaf die hoofverspreidingspunte):
      • Datum waarop diesel ingegooi is.
      • Hoeveelheid diesel wat ingegooi is.
      • Beskrywing van voertuig.
      • Die rede waarvoor diesel aangewend is, moet duidelik beskryf word.