Só lyk klimaatscenario vir volgende vyf jaar

Gepubliseer: 6 Mei 2021

4679
Johan van den Berg,
onafhanklike landbou-weerkundige

Droëlandgraanproduksie word hoofsaaklik bepaal deur die hoeveelheid reën in die produksieseisoen, tweedens deur die opgegaarde grondwater voor planttyd en derdens deur in watter groeistadiums die reënval in die seisoen voorkom.

Onderliggend bly die hoeveelheid reën binne die groeiseisoen die grootste faktor, want dit sorg vir die aanvulling van grondwater om die effek van swak verspreide reënval oor tyd te verminder.

Dit is gevaarlik om historiese graanproduksiestatistieke te gebruik om projeksies te maak, want heelwat faktore wat opbrengs beïnvloed, het met verloop van tyd verander. So byvoorbeeld het die gemiddelde mielie-opbrengs (t/ha) in die laaste vier dekades omtrent meer as verdriedubbel as gevolg van verbeterde genetika, beter bewerkings en gebalanseerde bemesting, slegs hoër potensiaalgronde wat bewerk word asook beter bestuur oor die algemeen.

Deur die langtermyn- gemiddelde tendenslyn van opbrengste oor die jare te bereken, kan afwykings tussen werklike opbrengste en die geldige langtermyn- gemiddelde opbrengs op ’n spesifieke tyd bereken word. Byvoorbeeld: In die rampdroogteseisoen van 1991/1992 was die werklike gemiddelde mielie-opbrengs vir Suid-Afrika 0,85 t/ha teenoor die berekende langtermyn- gemiddelde opbrengs vir daardie tyd van ongeveer 2,9 t/ha. Dit was byna 70% onder die gemiddelde opbrengs. In 2013/2014 was die werklike gemiddelde mie­lie-opbrengs 5,3 t/ha teenoor die berekende gemiddelde opbrengs van 4,35 t/ha vir daardie seisoen, wat ongeveer 22% bo die gemiddelde opbrengs was. Deur hierdie metode te gebruik, is die afwykings vanaf die verwagte gemiddeld vir die Suid-Afrikaanse mielie-opbrengste vanaf 1970/1971 bepaal. Die volgende tendense het na vore gekom:

  • Vanaf 1970/1971 tot 1980/1981 het daar oor die algemeen bogemiddelde opbrengste voorgekom as dit vergelyk word met die verwagte gemiddelde opbrengs­te vir daardie tydperk.
  • Vanaf 1981/1982 tot 2002/2003 het daar oorwegend ondergemiddelde opbrengs­te gerealiseer. Die uitsondering was ’n paar seisoene soos 1988/1989 toe daar ’n redelik sterk La Niňa-verskynsel was met bogemiddelde reënval asook in 1993/1994 toe die tydsberekening en verspreiding van reënval baie goed was te midde van ’n reeks El Niňo-verskynsels.
  • Bogemiddelde opbrengste het voorgekom vanaf ongeveer 2003/2004, met die uitsondering van 2006/2007, 2012/2013, 2014/2015 asook 2015/2016 toe daar redelik sterk El Niňo-verskynsels was met ondergemiddelde reënval.

Daar blyk langertermynpatrone te wees, alhoewel dit ’n gevaarlike afleiding is om te maak gegrond op die relatief kort periode van data, die beperkings van die data self asook veranderde tendense as gevolg van klimaatsverandering. Tog lyk dit asof daar tans nog ’n sogenaamde beter produksieperiode heers.

’n Blik op die komende seisoen
Ongeveer 40% van La Niňa-verskynsels in die verlede is opgevolg deur ’n volgende La Niňa-episode wat herontwikkel het na afloop van die winter in dieselfde kalenderjaar. Die La Niňa-verskynsel wat vanaf ongeveer September 2020 geheers het, het in Maart 2021 tot ’n einde gekom en sal oorgaan in ’n neutrale fase gedurende die winter. Alhoewel die winter se voorspellings van oppervlaktemperature van die Niňo-gebiede onakkuraat is en heelwat kan verander, is daar tog sterk aanduidings van ten minste neutrale toestande of die herontwikkeling van La Niňa vanaf die lente van 2021. Tans word die kanse vir die ontwikkeling van El Niňo-toestande op minder as 10% bereken en die gesamentlike waarskynlikheid vir neutrale tot La Niňa-toestande op 90%.

Soortgelyke opvolgende La Niňa-episodes het plaasgevind vanaf 1970 tot 1972, 1974 tot 1976, 1999 tot 2001, 2007 tot 2009 asook 2010 tot 2012. In sommige van hierdie La Niňa-seisoene het die opvolgende La Niňa sterker geword soos in 1973 tot 1975 en soms het dit swakker geword soos in 2010 tot 2012.

Dus lyk dit waarskynlik dat 2021/2022 ook na ’n La Niňa gaan neig met nat toestande in die somer van 2021/2022.

Ander faktore wat produksie kan beïnvloed
Die effek van oppervlaktemperature in die Indiese Oseaan op reënval in Suidelike Afrika is omtrent net so belangrik soos die voorkoms van El Niňo- en La Niňa-episodes. In die afgelope byna twee dekades was oppervlaktemperature oorwegend warmer as normaal, met negatiewe gevolge op reënval. In die afgelope seisoen was dit oorwe­gend koeler as normaal en dit lyk ook asof dit naby aan die gemiddeld gaan bly vir die komende seisoen. Dit kan verder bydra tot verbeterde kanse vir reën in die somer van 2021/2022.

’n Ander faktor wat ’n invloed op klimaatspatrone het, maar nog min regstreeks aan reënvaltendense gekoppel is, is die sogenaamde sonvleksiklus. Dit is ’n siklus van ongeveer vyf tot ses jaar van toenemende aktiwiteit en dan dieselfde periode met afnemende aktiwiteit. Dit veroorsaak nie noodwendig ’n verandering in die direkte sonstra­ling wat die aarde bereik nie, maar eerder elektromagnetiese energieverskille as gevolg van uitbarstings op die son.

Die nuwe sonvleksiklus met toenemende aktiwiteit (sonvleksiklus nommer 25) het teen die einde van 2020 begin. Alhoewel nie statisties bewys nie, is daar ’n tendens dat die fase van afnemende aktiwiteit meer korreleer met swakker reënvaltoestande en groot droogtes en omgekeerd. Die meeste groot droogtes in Suid-Afrika, soos in die 1930’s, 1963 tot 1966, 1982 tot 1987, 1992 tot 1996, 2003 tot 2007 asook 2013 tot 2018, het in die fase van dalende aktiwiteit voorgekom. Daar was egter ook droogtes wat voorgekom het in die fase van toenemende aktiwiteit, soos in 1968/1969 en natter periodes wat voorgekom het in die dalende fase, soos in 1973 tot 1976. Hierdie uitskieters is waarskynlik veroorsaak deur faktore soos El Niňo (1968/1969) of La Niňa (1973 tot 1976). Tans is dit die begin van die fase van toe­nemende sonvlekaktiwiteit tot ongeveer 2025, wanneer ’n piek bereik gaan word en dit weer in die fase van minder aktiwiteit sal ingaan.

Die invloed van lokaliteit
Om by ’n antwoord uit te kom, is dit ook nodig om te vra of al hierdie faktore wat die klimaat en veral reënval beïnvloed, oral in Suidelike Afrika dieselfde effek het. Dit is beslis nie ewe geldig nie en verskil van oos na wes en waarskynlik ook van suid na noord. Tydens La Niňa-episodes neig die band van reën meer oor die sentrale tot westelike dele van Suidelike Afrika met droër toestande ooswaarts waar dit tradisioneel in ander jare meer reën. Dit is dan veral in die tweede helfte van die somerseisoen vanaf ongeveer Desember dat reën weswaarts skuif en dit ooswaarts begin droër word. Die teenoorgestelde is waar tydens El Niňo-episodes waar die reënval oor die sentrale tot westelike dele van die land besonder negatief beïnvloed word.

Om sin te maak uit al die inligting en siklusse is moeilik, want sekere siklusse kan mekaar versterk aan die een kant of laat verswak aan die ander kant.

Wat is die mees moontlike produksiescenario vir die volgende vyf jaar?

  • ’n Natter siklus of ’n paar jaar van agtereenvolgende beter reënvaltoestande tot ten minste 2024/2025.
  • Daar gaan wel ten minste een ondergemiddelde reënvaljaar wees oor veral die sentrale tot westelike dele, want daar gaan ten minste een El Niňo-gebeurtenis voorkom, waarskynlik in 2022/2023 of 2023/2024.
  • Die kanse is besonder goed dat goeie reënvaltoestande gaan voortduur in die 2021/2022-seisoen oor veral die sentrale tot westelike dele.
  • Daar is gevaarligte vir die oostelike produksiegebiede in die sogenaamde natter seisoene, want dit beteken minder reën in Januarie en Februarie.
  • Alles dui daarop dat daar weer meer as een seisoen van ondergemiddelde reënval kan voorkom vanaf ongeveer 2025.