Graan SA se leierskap het in April vir so ’n paar dae tyd eenkant spandeer om te bepaal waar die organisasie tans is en waarheen ons op pad behoort te wees.
Baie is gesê oor ons DNS ten opsigte van die volhoubaarheid van graanproduksie (winsgewendheid, mense-ontwikkeling en die bewaring van die omgewing waarin ons boer), wat ons nooit kan losmaak van wie ons is en wat ons doen nie. Daar is ook gepraat en beplan oor die Graan SA-kultuur wat die afgelope jare gevorm is en wat ons rigting help bepaal.
Die sake in ons operasionele kookpot het heelwat denke en bespreking nodig gehad. Die volhoubare befondsing van Graan SA en die belangrikheid van goeie verhoudings in die bedryf, is van die sake wat boontoe gedryf het. Hierdie volg die lys (nie volledig nie) van sake wat tans groot gewig dra:
- Leaf Services: Die staat wil alle graan laat gradeer ten spyte van die feit dat dit reeds gedoen word – en dan alle produsente voor die voet daarvoor laat betaal.
- JSE-sake soos die alternatiewe differensiaalstelsel en markaangeleenthede.
- Die chemiesepaspoortsisteem, waar verwag word dat produsente moet verklaar dat alle voedselveiligheidswetgewing nagekom is.
- Wintergraanbedryf: Die toekomstige befondsing van navorsing en dienste via ’n vrywillige of ’n statutêre heffing.
- Veranderinge aan die mieliegraderingstelsel.
- Garsbedryf: Sommige opbergers kan nie (en wil nie) meer die koper se vereistes ten opsigte van kwaliteit nakom nie. Daar is ook probleme by die garsteelprogram wat dringende aandag benodig.
- Grondboonbedryf: Nuwe inisiatiewe waar gevestigde belange van rolspelers ’n groot rol kan speel en tot onstabiliteit kan lei, is bespreek. Oplossings is nodig om nuwe kultivars vir produsente te ontwikkel.
Om hierdie sake te hanteer, was nog altyd deel van ons besigheid. Dit is egter raar dat so baie van hierdie gewigtige sake terselfdertyd op ons tafel beland het en dat meer as een van dié kwessies regsraadpleging benodig. Dit plaas groot druk op ons menslike en finansiële hulpbronne. As produsente onder druk is, dan is die ongeduld vir oplossings en uitkomste ook heelwat meer. Die mate van samewerking in die bedryf om oplossings te bereik, hang af van ons verhoudinge met almal in die waardeketting.
Soos almal weet, kan jy nie net op ’n dag by die bank aankom en vir rente vra as jy nooit ’n belegging gemaak het nie. Graan SA sal steeds moet voortgaan om in die toekoms te fokus om beleggings te maak in al ons verhoudinge in die bedryf én met die regering sodat ons kan rente trek as die maer jare aanbreek.
Dit is strooptyd in die noorde en die suide se produsente begin met aanplantings vir die winter – ’n lekker en besonder besige tyd van die jaar vir almal. Daar is soveel swaar sake op ons land se sakelyste en die gemoed van mense wil net nie ligter raak nie. Tog hoor ek die produsente se optimisme as hulle die stropers uit die skuur trek en die planters begin kalibreer. Ons is die Vader ewig dankbaar vir die geleenthede wat ons het om te kan produseer.
Die feit dat Graan SA as organisasie nou in ’n tydvak ingaan waar die HUB vervang moet word, is iets wat die kookpot van operasionele sake gaan raak en die land se huidige uitdagings verder gaan bemoeilik. Ons beplan mooi en doen deeglike analises en werk, maar steeds is daar bepaalde risiko’s en onstabiliteit wat verwag kan word. Dit bring egter ook nuwe geleenthede wat ons nie moet misloop nie.
Al kan ons nie in Meimaand die NAMPO Oesdag hou nie, is die oestyd steeds ’n tyd van genade en vreugde.