Topografie affekteer klimaat en landbou só

Gepubliseer: 30 Maart 2021

49
Johan van den Berg, onafhanklike landbouweerkundige

Die topografie van ’n gebied kan beskryf word as die rangskikking van natuurlike asook kunsmatige terreinvorms. Dit kan voorwerpe van verskillende hoogtes bo seevlak wat teen verskillende hellings ten opsigte van die horisontale of vertikale asse van die aarde geplaas is asook oriëntasies ten opsigte van die son, insluit.

Topografie het ’n besonder groot invloed op bykans alle weer- en klimaatselemente. Temperatuur, reën, hael, sneeu, wind, sonstraling, lugdruk en selfs lugvog word grootliks deur topografiese eienskappe beïnvloed.

Presipitasie (reën, hael en sneeu)
Vogtige lug moet ’n meganisme vind om dit hoër in die atmosfeer op te neem sodat afkoeling kan plaasvind om wolke te vorm sodat dit kan reën. Daar is hoofsaaklik drie meganismes wat reën kan laat ontstaan. Eerstens kan laagdruksisteme ontstaan – hoofsaaklik oor warmer oppervlaktoestande – wat lug laat styg om wolke en reën te vorm. Tweedens laat koue fronte ook reën ontstaan, omdat koue lug swaarder as warm lug is, met die frontale stelsel wat naby aan die oppervlak van die aarde beweeg waar dit onder die warmer lug inbeweeg. Dit laat dié lug styg om wolke en reën te vorm. Derdens is daar die sogenaamde orografiese reën, waar topografie ’n rol speel en wind teen ’n obstruksie soos ’n berg vaswaai, dan opwaarts beweeg en reën kan veroorsaak.

Orografiese reënvalhoeveelhede varieer baie en vorm oneweredige reënvalpatrone aan weerskante van die obstruksie. Aan die kant waar die wind waai (windkant) reën dit gewoonlik meer, maar aan die agterkant van die obstruksie (lykant) heelwat minder, omdat die meeste vog aan die windkant reeds as reën voorgekom het. Wind met minder vog beweeg dan oor die obstruksie na die lykant om ’n “reënskaduwee” te vorm.

Obstruksies is ook ’n belangrike meganisme om haelvorming en sneeu te stimuleer en dus is die voorkoms van hael en sneeu in hoërliggende gebiede soos naby die Drakensberge heelwat hoër. Die invloed van topografie op reënval is op ’n redelike makroskaal en klein obstruksies soos koppies en kleiner bergreekse sal min of geen invloed uitoefen nie. “Obstruksies” soos groot stede en reekse van hoë geboue kan wel ’n minimale invloed uitoefen. Dit is egter waarskynlik meer as gevolg van die hitteborrel­effek (heat bubble effect) deur die hitte-uitstraling en weerkaatsing vanaf strate en dakke wat ’n swak laag­druksisteem kan laat ontwikkel wat lug laat styg, eer­der as die fisiese effek van wind teen geboue. Dit kan veroorsaak dat groot stede en omliggende gebiede effens meer reën kry.

Temperatuur
Temperatuur is die belangrikste weerelement wat deur topografie beïnvloed word – dit is ook die dryf­veer van omtrent al die ander elemente. Temperatuur kan ook op ’n mikroskaal of in klein gebiede soos gedeeltes van ’n plaas, groot verskille toon.

Verskil in hoogte
Omdat koue lug swaarder as warm lug is, versamel koue lug nader aan die aarde se oppervlak. Verskille van tot 5°C of selfs meer kan voorkom tussen die grond­oppervlak en die eerste meter of twee bokant die grond. Temperatuurmetings word standaard op 1,2 m bokant die grond geneem en voorspellings is dikwels misleidend, want ’n voorspelling van 0°C kan alreeds -5°C op die grond beteken. Omdat koue lug in laag­liggende gebiede versamel, kom rypskade ook meer intens voor in hierdie gebiede oftewel ryp­holtes. Dit is veral hoëwaardebesproeiingsgewasse wat naby klein waterbronne verbou word wat skade kry, aangesien die dam of rivier ook gewoonlik die gebied is wat die laagste geleë is en waar die koue lug versamel. Indien die waterbron groot genoeg is, kan dit egter energie aan die omliggende omge­wing vrystel op koue nagte en die effek van kouelugdreinering teëwerk, maar dit is slegs die geval met besonder groot waterbronne.

Helling en aspek
Die helling is die gradiënt van skuinste, terwyl die aspek beskryf kan word as die rigting van die helling. Dit is veral in die winter – wanneer die son verder weg is van die vertikale as of lyn bokant die aarde en nader aan die noordelike horisontale as of lyn – waar noordelike hellings heelwat meer energie as suidelike hellings kry. Warmer toestande teen die noordelike en noordwestelike hellings kan help om rypskade te beperk, want meer hitte-energie kan bedags in die grond gestoor word om snags vrygestel te word. Plante neig dan ook om vinniger te groei en te ontwikkel as teen suidelike hellings. Interessant is dat hierdie vinniger groei en ontwikkeling in sekere gevalle meer rypskade kan veroorsaak, want plante kom gouer in die sensitiewe groeistadiums en kan soms meer skade kry as plante wat stadiger groei.

Dit is beter om so twee derdes op teen die helling te verbou, want indien daar op die kruin van die helling geplant word, kan koueskade as gevolg van wind voorkom. Wind kan die aanvoelbare temperatuur verlaag en swartryp tot gevolg hê. Een van die gewasse wat die meeste rypskade in die laaste klompie seisoene ervaar het, is winterkoring in die somerreënvalgebied. Groot skade het in laagliggende gedeeltes van veral die Benede-Oranjeriviervallei asook langs die Vaalrivier voorgekom, waar die meeste besproeiingskoring aangeplant word.

Windbeweging kan ook deur topografie bepaal word en baie skade het al voorgekom tussen obstruksies soos berge waar windtonnels ontstaan. In die beplanning van byvoorbeeld druiwepriële en -boorde moet dit deeglik in ag geneem word. Heinings of ander strukture kan opgerig word om die rigting en intensiteit van die wind te manipuleer.

Beplanning
Daar is dikwels kleiner gebiede op ’n plaas of ’n gebied waar die topografie van so ’n aard is dat spesialisgewasse eintlik buite hulle normale gebiede hier aangeplant kan word. Een so ’n voorbeeld is in die dorpie Vanderkloof langs die Oranjerivier. Die dorp is teen die noordelike helling van die rante en berge suid van die Vanderkloofdam ontwikkel. Daar is gedeeltes van die dorp waar tropiese en subtropiese vrugte groei in ’n gebied wat andersins te koud is. Dit is slegs as gevolg van die topografie met ’n noordelike helling wat meer hitte ontvang en hoërliggende gebiede aan die suidekant wat koue winde uit die suide herlei. Die diep dam se energiesto­ring in die water kan ook ’n bydrae lewer om in die winter meer energie aan die res van die gebied rondom die dam te verskaf.

Die beplanning om die beste mikro- en mesoklimaatsgebiede te identifiseer, word dikwels onderskat. Hier speel die beskikbaarheid van grond en water gewoonlik die belangrikste rol. Dit is uiters belangrik om na die klimaatsrisiko as gevolg van die topografie te kyk, want dit kan op die lang duur groot finansiële implikasies inhou. Voordat nuwe lande gemaak word of nuwe gewasse aangeplant word – veral hoë-inkomstegewasse soos neutbome, vrugte en druiwe – moet topografie in ag geneem word en die gebiede met die laagste risiko geïdentifiseer word.

Graan SA fotokompetisie – Gerda Bester, 2012