Integriteit en geloofwaardigheid – ’n blik op die graanmark

Alzena Gomes, skakelbeampte, Graan SA
Gepubliseer: 30 Maart 2021

947

Die 2020-jaar het die hele wêreld op ondenkbare wyses beïnvloed en verandering teweeggebring. En al was masker dra almal se voorland, is ’n paar kontraste­rende realiteite terselfdertyd ontmasker.

2020 was ’n goeie jaar vir produksietoestande, maar dit het met groot onsekerheid gepaardgegaan. Dit was ’n jaar waarin ons die noodsaaklikheid van ondersteunings­netwerke besef het toe die ontnugtering van die nuwe “normaal” almal tref. Dit was die jaar waarin alles wat ons geweet het en hoe ons instinktief opgetree het, verander het.

Landbou het aangepas, getransformeer, planne beraam, vorentoe gedu en het selfs verbeter – en produsente het maar net by alles aangepas. Landbou het die kuberruimte gevind, daar ontmoet en daar begin sake doen. Produsente, werkers, landbou-ondernemings en die waardeketting het aangepas en die tegnologie gebruik, wat almal in staat gestel het om elektronies te “vergader” sonder om na ’n gemeenskaplike plek te reis. Almal het so goed moontlik aangepas en so is die weg gebaan vir die Graan SA Kongres – bestem vir virtuele vertoning soos landbou nog nie beleef het nie.

Tydens die jaarlikse Kongres op 3 en 4 Maart 2021 het Graan SA virtueel met lede, produsente, regeringsamptenare, rolspelers, akademici, vennote en belanghebbendes in die kuberruimte byeengekom om dié jaar se tema “Geloofwaardigheid van die Graanmark/Credibility of the Grain Market” te bespreek.

Dié tema het onder meer gepoog om die klem op kennis versus inligting te plaas en dieper te delf in die onderwerp van geloofwaardigheid, wat op sekere tye amper al die logiese gespreksvoeringe oorheers het. Jannie de Villiers, Graan SA se uitvoerende hoofbe­stuurder, het daarop gewys dat produsente weet hoe om natuur- en produksiekwessies te hanteer. Hulle moet egter 100% seker wees dat die mark goed presteer – daarom die belangrikheid om die Suid-Afrikaanse graanmark teen die internasionale mark te meet en produsente die geleentheid te bied om weer krities na ons eie mark te kyk. Bo en behalwe die kongresafgevaardigdes se aanlyn deelname, het Graan SA ’n lewendige uitsending van Kongres op YouTube vir gaste en belangstellendes beskikbaar gestel, wat die eerste dag al 1 119 besoekers gehad het!

Op die kongrespaneel en voor die kameras was Ramodisa Monaisa, wat herkies is tot visevoorsitter, Jannie de Villiers, wat sy laaste Kongres as uittredende uitvoerende hoofbestuurder meegemaak het, Derek Mathews, herkies tot voorsitter, Nico Vermaak (bestuurder: Korporatiewe Dienste) en Richard Krige, ook herkies tot visevoorsitter van Graan SA.
Die kongrespaneel staan gereed vir dag een van Kongres. Van links is Ramodisa Monaisa (visevoorsitter), Jannie de Villiers (uitvoerende hoofbestuurder), Derek Mathews(voorsitter), Nico Vermaak (bestuurder: Korporatiewe Dienste) en Richard Krige (visevoorsitter).

Die agenda is in drie sessies aangebied en het afgeskop met ’n aanbieding deur dr Justin Choe, graananalis by die Amerikaanse Departement van Landbou (USDA) se World Agricultural Outlook Board, wat ’n oorsig oor die internasionale mieliemarkte gebied het. Dr Choe het gefokus op die integriteit van die organisasie se data en het ook die beginsel van die VSA se oesbalansstaat verduidelik en die kernbeginsel dat aanbod gelyk is aan vraag, bespreek. Hy het verder die Suid-Afrikaanse databronne, wat onder meer die Suid-Afrikaanse Graaninligtingsdiens (SAGIS), die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SARS), die Nasionale Oesskattingskomitee (NOK) en SiQ insluit, uitgesonder as betroubaar en toepaslik op die standaarde wat die USDA intern gebruik.

Oom Kallie Schoeman en lede van Streek 9 het selfs gesorg dat hulle met naamplaatjies en al reg is vir Kongres 2021.
Hier is lede van Streek 10 – goed ingerig om deel te hê aan die verrigtinge.
Regoor die land het Graan SA-lede in groepe bymekaar gekom om Kongres virtueel by te woon en dalk ’n vleisie te braai. Hier is lede van Streek 2 bymekaar.
Uittredende hoofbestuurlid, Jaap van der Westhuizen, het gesorg dat lede in sy streek die Kongres in gemak kon meemaak.

Dr Johan Willemse, afgetrede professor in agri-ekonomie, het sy siening oor die geloofwaardigheid van instellings in die graanmarkte in die volgende sessie gedeel. Hy het ’n historiese oorsig oor die mark voor 1997 gegee en Suid-Afrika se deregulering en oorskakeling na ’n vryemarkstelsel sowel as die vereistes vir ’n werkende mark bespreek. Dr Willemse het die behoefte aan akkurate, onpartydige en tydige markinligting vir alle rolspelers beklemtoon en in sy opinie die integriteit van die markinligtingsisteem onder toesig van die bedrywe bevestig.

Tydens die leierskapverkiesing is Derek Mathews herkies as die organisasie se voorsitter en Richard Krige en Ramodisa Monaisa as visevoorsitters. Die onbestrede herverkiesing van die leierskorps getuig van die vertroue wat produsente in dié uitvoerende gesag het, veral na aanleiding van die afgelope moeilike jaar wat die landboubedryf moes deurmaak.

In die oudiovisuele voorsittersverslag het Derek en Jannie die hoogtepunte en uitdagings van die 2020-jaar bespreek. En uitdagings was daar beslis! Met COVID-19 en die grendeltydperk het almal se visie vinnig verander.

Tegniese personeel het met hul kundigheid gesorg dat ’n virtuele Kongres wel moontlik is.

Impak
Landbou is van meet af as ’n noodsaaklike diens beskou en produ­sente kon aanhou werk en redelik normaal voortgaan met sake. “Dat COVID egter ’n impak op Graan SA gehad het, is ’n werklikheid – en dat COVID ’n impak op die land en die wêreld se ekonomie gehad, en nog steeds het, is selfs meer werklik. Niemand is daarvan vrygestel nie,” het Derek gesê.

Ten spyte daarvan dat die 2021 Graan SA Kongres virtueel aangebied is, kon personeel, hoofbestuurslede, lede van die tegniese span en lede van die media by die opname-ateljee bymekaarkom om dit mee te maak.

Die ingrypende en groot veranderinge wat die organisasie moes ondergaan, was onvermydelik. Die kansellasie van die NAMPO Oesdag – die organisasie se grootste fondsinsamelings­geleentheid – se finansiële en langtermynimpak was groot. Alhoewel daar onsekerheid was, het Graan SA vinnig die bestaande tegnologie in plek tot sy voordeel gebruik en besigheid kon aangaan. As deel van die minister se COVID-taakspan, kon die organi­sasie vinnig inligting verkry, na produsente versprei en probleme onmiddellik takel waar nodig. Graan SA was instrumenteel in die organisering van permitstelsels en die uitreiking van permitte en was ’n skakel tussen die regering en die regulasies wat nodig was om te verseker dat produksie voortgaan – nie net in die graanbedryf nie, maar ook in ander bedrywe. Daar was belangrike oorwegings, soos invoere, ’n konstante dieselvoorsiening en vele ander uitdagings.

Rimpeleffek
Die beperkings het spesifiek vir garsprodusente ’n groot probleem geskep, met ’n rimpeleffek in 2021. Alhoewel die organisasie begrip gehad het vir die regering se standpunt rakende die alkoholverbod, was dit van kritieke belang om die saak van die produsente te stel en die implikasies van die alkoholverbod vir die bedryf uit te wys. Verder in die breër spektrum, het verbruikersdruk vir ’n plaaslike
chemiesepaspoortstelsel, wat produsente verantwoordelik sal hou vir voedselveiligheid, ’n pro-aktiewe benadering vereis. Graan SA is daartoe verbind om te verseker dat die stelsel wat ingestel word, prakties op plase van toepassing kan wees, vir produsente sinvol is en dat verbruikers daarmee tevrede kan wees.

Samewerking
Effektiewe, volhoubare produksie word ook deur ’n aantal geïntegreerde navorsingsprojekte nagestreef, wat Graan SA se samewerking met die Buro vir Voedsel- en Landboubeleid (BFAP) op hul data-intensiewe plaasbestuurnavorsing insluit. Die organisasie se doel is om produsente se produktiwiteit en winsgewendheid te verhoog om sodoende volhoubaarheid te verseker. Daar is ook aansienlik meer klem gelê op die belangrikheid van deursigtige markmeganismes en die geloofwaardigheid van die mark. Graan SA het ten doel om seker te maak die inligting is beskikbaar om sodoende produsente se besluitneming te ondersteun. ’n Vennootskap met die Universiteit van die Vrystaat het ’n studie van ’n alternatief tot die vervoerdifferensiaal tot gevolg gehad, met goeie vordering wat gemaak word ten opsigte van ’n nuwe, gebalanseerde sisteem vir produsente.

Strukture
Die afgelope jaar is daar ook strukturele veranderings in die organi­sasie teweeggebring om aan regulatoriese vereistes te voldoen. ’n Nuwe niewinsgewende maatskappy, Phahama Grain Phakama, is gestig vir die landbou-ontwikkelingsprogram om aan SEB-vereistes te voldoen en aan donateurs die voordele van die samewerking te kan bied. Die organisasie se gesonde finansiële bestuur is uiters belangrik en word ondersteun deur ’n rekord van skoon oudits en verantwoordelike besluitneming met betrekking tot finansies.

Doelwitte
Uiteindelik bly Graan SA se doelwit om winsgewende en volhoubare boerderybedrywighede te vestig en op te bou. ’n Fokus op winsgewendheid verseker dat elke produsent – van ontwikkelend tot kommersieel – aangemoedig word om die geleenthede ten volle te benut. Laer en beter insetkoste, ’n deursigtiger mark, produktiwiteit rondom navorsing en nuwe tegnologie is alles mandate wat hoog op die agenda sal bly. Die belangrikste natuurlik is die volhoubaarheid van die organisasie en die eienaarskap van produsente om die voortbestaan van een van die relevantste georganiseerdelandboustrukture te ondersteun.

“Hou net aan om die regte ding te doen en kalm te bly wanneer almal om jou kop verloor. Maak beredeneerde besluite rondom jou besigheid, rondom jou familie, rondom jou organisasie en rondom die gemeenskap waarbinne jy leef. Ek sê altyd moenie afkyk nie, want as jy afkyk, gaan jy nie die toekoms kan sien nie en jy gaan oor jou voete val. Kyk op en gaan vorentoe,” het Derek gesê.

Alzena Gomes (skakelbeampte) en dr Dirk Strydom (bestuurder: Graan ekonomie en Bemarking) werk agter die skerms om seker te maak dat die heel eerste virtuele Graan SA Kongres glad verloop.

Die pad vorentoe
Die komende jaar sal ook Jannie se uittrede bring – ’n uitvoerende hoofbestuurder wat ’n uiters positiewe impak op die organi­sasie gehad het. As gevolg hiervan sal die opvolgproses van deurslag­gewende belang wees om te verseker dat die organisasie ingestel bly om aan die behoeftes van graanprodusente te voldoen – tot voordeel van almal. Die stem van die graanprodusent is die stem van voedselsekerheid, veral in tye waar almal moet kalm en bymekaar bly.

In ’n afsluitingsboodskap het Jannie gesê: “Voor ek by Graan SA­begin het, het ek ’n boodskap van die Here gekry om te gaan dien en te bemoedig.” Na ’n tienjaartermyn – deur talle droogtes en rekordoeste – kan daar met sekerheid gesê word dat dít presies is wat dié besonderse leier met oortuiging en ’n vaste tred gesetel in geloof, gedoen het – en steeds doen. “Ek het daarop gefokus om ’n span te bou van mense wat kundig is in hul onderskeie areas, maar ook kundig is met mense. ’n Span wat saam met my dien en bemoedig. Ek het vinnig agtergekom een van die belangrike missies waarop ons sou moes fokus, nie net wentel om winsgewendheid op die plaas nie, maar ook om mense se lewens te verander,” het Jannie gesê.

Om mense op te hef en toe te rus om beter te kan dien in die samelewing, is ’n taak wat Jannie ernstig opgeneem het. Daar was ontelbare hoogtepunte en suksesse tesame met hartbrekende tye en herinneringe – onder meer die 2016-droogte, waar hy en een van sy seuns 1 273 km gery het om die skade wat dié droogte veroorsaak het, te beleef. Alhoewel die aanskouing van ’n stukkende land en sukkelende landbousektor ’n laagtepunt was, was die dankbaarheid vir die reën wat gevolg het soveel groter.

Gevul met dankbaarheid om sy leierskap in die organisasie en die breër landbousektor toe te pas, het Jannie groot lof vir sy span en hul moed om die dagtake ten alle tye met oortuiging aan te pak. Die verhoudinge wat gebou is met die media, die rolspelers en die regering het hom toegerus om die land en die sektor te dien, maar sonder die insig van Bo sou dié besondere leier nie die pad so doelgerig met visie en vertroue kon stap nie.

Alles wat vanselfsprekend aanvaar is,
en die vrees vir dit wat voorlê
Ons behoefte aan ander,
die angs van kontak
Ons soeke na waarheid,
die gevare van aanlyn-soektogte na feite
Ons hunkering na integriteit,
Die verlies aan geloofwaardigheid
~ Mart Willemse, Kongres 2021