Beste Grootneef
Ons was vir ’n kort besoek by ons neef in die groot stad. Dwarsdeur die tolhekke met die stadsgewoel tot in die rustige woonbuurt met die groot bome. Soos altyd was dit ’n blye weersiens met stadsneef en sy gesin.
Na die eerste koffie het ek en stadsneef ons in die voortuin onder ’n groot sonsambreel gaan tuismaak, terwyl die goeie gades verder nuus oor huis en haard gedeel het.
Die onweer het gebrom en die eerste groot druppels het op die seil van die sonsambreel begin plof. En toe vertel stadsneef my van COVID se tande. Niemand naby wat ten dode toe siek was of hospitaal toe moes gaan nie. Maar hoe moeilik dit vir ’n besigheid was om kop bo water te hou met die inperkings wat die land in golwe getref het.
Die moeilikste was toe hy sy personeel moes inlig dat die besigheid op wankelrige bene staan, met lopende koste wat die inkomste heel ingesluk het. Die keuse is aan elk van die personeel gebied vir ’n aflegging – of om ’n 50%-snit op salarisse te neem. Stadsneef het vir ’n oomblik heel stil geraak. Die emosie was nie ver nie.
Hy vertel toe verder hoe sy personeel hom die volgende dag een vir een van hul besluite ingelig het. Niemand wou gaan nie – almal wou bly om die moeilike tyd deur te sien. Van die spanlede het selfs aangebied om minder as 50% van hul salarisse te neem. Ander het weer gekom met voorslagplanne hoe om die besigheid beter en anders te bestuur. Die onbekende vir almal op daardie stadium was hóé lank die COVID-inperkings sou duur.
Die reën het saggies geval en die stad skoon gewas. Ons was egter veilig en beskut onder die sonsambreel wat die reën in waterlopies agter ons verbygestuur het.
Stadsneef het afgesluit deur te vertel van ’n nuwe jaar met nuwe geleenthede. Die besigheid loop weer – nie dieselfde as voor COVID nie, maar goed genoeg.
Die reënbui het verby getrek noorde toe. Dit was nog net die laaste druppels wat uit die bome op die plante geval het. Die tuin het die ene Knysna geruik.
Ou Neef, met die terugtog Vrystaat toe het ek en vroulief gedagtes gewissel oor hoe COVID almal verander het. Waarskynlik is die grootste gevolg dat mense anders na die lewe kyk. Daar is ’n nuwe bewustheid dat ons as mense bestem is om tot stof terug te keer. Maar die vreugde in die eenvoudige is meer intens. Want dit is ’n voorreg om koffie te ruik of ’n vars brood te bak. En om met vrye teuels asem te haal. Of in die veld te stap. Of ’n orrel te hoor speel. Of om ’n ou vriend weer raak te loop. Want niks is meer vanselfsprekend nie.
Met die afdraai op die grondpad dink ek toe aan die ou gesang met die refrein: “Elke vlugtige sekonde het U liefde en U trou, steeds oor my die wag gehou.” As kleuters het ons lustig saamgesing van elke “gesekonde”. Eers later het ons verstaan dat dit in die lied gaan oor elke “vlugtige sekonde”!
Ou Neef, hoe waar is die ou refrein uit toeka se tyd nie steeds nie! Net genade het ons deur elke vlugtige sekonde van ’n COVID-jaar gedra. Op ons eie was ons waarskynlik die kluts kwyt.
Groete op die oosgrens.
Lesers kan ’n e-pos vir Kleinneef stuur na kleinneef@graingrowers.co.za.