By mielies speel wortels ’n belangrike rol in die plant se vermoë om te produseer. Dit is die orgaan waardeur die opname van water en mineraalvoeding plaasvind.
Wortels is ook die anker wat verantwoordelik is om die mielieplant regop te hou met die oog op doeltreffende stroping. Reserwevoedingstowwe en ook groeihormone word in wortels gestoor, wat die ontwikkeling en groei van die plant vegetatief en reproduktief bepaal.
Die wortelbed – of die grondprofiel – speel ’n bepalende rol in hoe doeltreffend wortels daarin versprei. Enige fisieke of chemiese beperking lei tot ’n beperking in wortelgroei, wat direk die vermoë om te groei en produseer bepaal.
Maar wat van die mielieplant self? Verskil wortelsisteme van verskillende kultivars sodanig geneties in hul vermoë om ’n gegewe grondprofiel te benut vir water en kos? Speel genetika ’n rol om ’n wortelstelsel te voorsien wat mineraalvoeding en water tot die laaste graanvullingstadium kan bereik?
Indien wel, kan dit gemeet en gebruik word om sekere genetika te kies volgens die grondprofiel van ’n produsent se grond, wat ’n gegewe is?
Volgens ’n insiggewende artikel deur Jonathan P Lynch, is dit wel moontlik om wortels volgens doeltreffendheid te meet en te evalueer. Hy fokus op drie belangrike eienskappe: deep, cheap en steep. Die deep verwys na hoe lank die wortels is en hoe diep die wortelstelsel die profiel penetreer. Die cheap is die mate van vertakking in die stelsel. Soms is vertakking oormatig en steel dit die plant se energie wat eerder vir groei en produksie bedoel is. Die steep toon aan hoe vertikaal of horisontaal die wortels versprei is.
Plaaslike navorsing
Op Hoogekraal, Corteva se westelike navorsingstasie, is verskillende kultivars in dromme met gelyke volumes grond geplant om die verskille te meet en statisties te interpreteer. Gewone Vrystaat-sand is gebruik om wortels maklik te herwin en elke drom het presies dieselfde voeding en water ontvang (Foto 1).
Wortels is herwin en in die laboratorium gemeet/beoordeel volgens Lynch se eienskappe.
Lengte van wortels (deep)
Meerjarige data in Grafiek 1 toon dat kultivars wat geskik is vir die westelike produksie-areas gemiddeld 19 cm langer wortels het as kultivars wat geteel is vir die oostelike produksie-areas. Dit is moontlik die gevolg van baie jare se aanpassing by westelike grondprofiele wat gewoonlik heelwat dieper en meer sanderig is.
Uit ’n westelike perspektief (Grafiek 2) toon kultivar 1 betekenisvol langer wortels as kultivar 2, 3 en 4. Dit het die gesimuleerde grondprofiel dieper en meer effektief benut. Daarom is die swaarste kopgewig (veral tweede koppe) ook by kultivar 1 gemeet. Dit kan toegeskryf word daaraan dat kultivar 1 meer water en minerale op ’n later stadium van graanvul bereik het. Dit is in besonder die stikstof en kalium, wat verby die wortelsone loog, wat bereik en vir graanvul aangewend is. Lang, diep wortels, wat lewendig en behoue bly, sal veral in besonder nat jare in hoëpotensiaalwatertafelgronde ’n groot rol speel vir voeding op later stadiums van graanvulling.
Mate van vertakking (cheap)
Dit is baie duidelik dat kultivar 1 wat massa betref, die minste weeg vergeleke met die ander kultivars. Dit het die minste vertak. Gewoonlik vorm ’n digte bos sywortels, veral in die boonste gedeelte van die profiel. Lynch noem dat daardie enkel, dik, sterk, lang groeiende wortels wat diep afgaan in die profiel, waardevoller is. Dit is juis dié tipe wortels wat geloogde minerale bereik en bydra tot graanvulling. Oormatige vertakking is ’n mors van metaboliese energie wat vir graanvulling aangewend kan word.
Verspreiding (steep)
Grafiek 4 toon dat kultivar 1 die grond betekenisvol meer vertikaal penetreer as enige van die ander kultivars. Dié eienskap bied die kultivar ’n beter geleentheid om vinniger diepte te bereik en die profiel beter te benut.
Uit ’n westelike oogpunt, is kultivar 1 die beste keuse wat wortelstruktuur betref. Dit is lank en penetreer vertikaal om sodoende diepte doeltreffend te bereik. Dit vertak ook die minste en vorm lang, regaf, lewendige wortels wat kos en water onttrek vir graanvulling in ’n laat reproduktiewe fase. Dit is ’n kultivar geskik vir diep sandprofiele waar reënval gewoonlik beperk is. Dit kom water diep in die profiel by, terwyl kultivars met ander worstelsisteme alreeds in dieselfde groeistadium in droë grond moet klaarkom.
Vir die oostelike produksie-areas met vlakker profiele, hoë reënvaltoestande en ’n groter moontlikheid van ondergrondversuring, is lang wortels wat horisontaal vertak, meer aangewese. Dit moet steeds cheap wees, maar moet eerder die grondarea horisontaal tussen rye beter penetreer en benut as om in diepte af te groei.
Die enigste gevolgtrekking wat gemaak kan word, is dat daar wel genetiese verskille ten opsigte van wortelsisteme bestaan. Verskillende kultivars behoort beter daarvolgens geplaas te kan word om sodoende grondprofiele beter te benut.
Daar kan aangeneem word dat meer agronomiese studie gerig moet word om wortelkomponente onder grondvlak te beskryf. Doeltreffendheid en struktuur van wortels speel ’n prominente rol by graanvulling, veral by tweede koppe ten opsigte van skepelpotensiaal. Genetiese verskille tussen kultivars bestaan en daar kan moontlike groepering wees met die oog op teling.
Wat is die implikasie hiervan vir produsente en die saadbedryf?
- Riglyne vir teling kan meer effektief opgestel word.
- Beter kennis van wortelstruktuur kan ingewin word.
- Beter opbrengs met ’n meer doeltreffende wortelstelsel kan behaal word.
- Minder vermorsing van kunsmis omdat wortels dit meer doeltreffend benut.
- Beter toleransie teen mieliesiektes. Plante wat ’n beter voedingstatus het, word minder siek.
- Beter blare vir langer fotosinteseperiodes, veral tydens graanvul. Die staygreen-eienskap verbeter met beter voeding as gevolg van ’n beter wortelstelsel.
- Graan van beter kwaliteit omdat graanvulling meer doeltreffend is.
- Verklaring van sekere agronomiese vraagstukke. Hier word slegs twee genoem soos omval en terugtrek van koppe tydens graanvulling.