Onkruiddruk in bewaringsboerderystelsels bly ’n knelpunt en onkruiddoderweerstandigheid is ’n toenemende probleem regoor die wêreld – ook in Suid-Afrika. Hoë vlakke van onkruiddruk word veral in langtermyn-geenbewerkingstelsels waargeneem, waar onkruiddoders algemeen gebruik word.
Onkruiddoderweerstandigheid kom onder meer voor as gevolg van oormatige en/of langdurige gebruik van dieselfde tipe onkruiddoders. Dit is waarom wisselbou die hoeksteen van goeie onkruidbeheer is – wisselbou stel produsente in staat om die tyd van toediening en tipe onkruiddoder te bepaal en af te wissel.
Ander maniere van onkruidbeheer sluit die behoud van oesreste as ’n deklaag asook grondbewerking in. Alhoewel grondbewerking ’n effektiewe manier kan wees om onkruid te beheer, hou dit ook verskeie nadele in. Geenbewerking is dus die gekose stelsel omdat die voordele van geenbewerking die nadele verreweg oorskry, veral in die graanproduserende gebiede van die Wes-Kaap waar die meeste produsente geenbewerking volg. Voordele van geenbewerking sluit onder meer verhoogde grondkoolstof, minder wisselvallige en verhoogde opbrengste, laer insetkoste – veral brandstof – en beter grondgesondheid in.
Verskeie metodes van onkruidbeheer bestaan en dit mag voordelig wees om meer verskillende maniere van onkruidbeheer toe te pas of af te wissel. Die wisselwerking tussen gewasrotasie en grondbewerking (wat ook die hoeveelheid oesreste wat die grond bedek, bepaal) word nie goed verstaan nie. Langtermynwisselbouproewe wat deur dr Johan Labuschagne van die Wes-Kaapse Departement van Landbou bestuur word, is gebruik om ’n onkruidsaadbankstudie uit te voer ten einde die effek van wisselboustelsels en grondbewerking te ondersoek. Die resultate is in samewerking met dr Pieter Swanepoel van die Departement Agronomie, Universiteit Stellenbosch, asook Dr Chloe MacLaren van Rothamsted Research in Engeland, ontleed.
Twee langtermynproewe is vir die studie gebruik – Tygerhoek-navorsingsplaas naby Riviersonderend in die Overberg en Langgewens-navorsingsplaas naby Moorreesburg in die Swartland. Wisselboustelsels het monokultuurkoring, koring-kanola-koring-lupien- en koring-medics-koring-medics-stelsels ingesluit. Elke gewas in die stelsel was elke jaar teenwoordig – en vier grondbewerkingspraktyke is op die stelsels toegepas: konvensionele, minimum-, geen- en zerobewerking. Meer inligting oor die implemente vir elkeen van die praktyke word in Foto 1 tot Foto 4 aangetoon. Daar is ook ’n langtermynbenadering gevolg deur die gemiddelde effek van die behandelinge op die onkruidsaadbank oor ’n vierjaartydperk te bepaal. Daar is dus eerder op die stelsel en die meegaande onkruidbeheer vir die spesifieke gewasse gefokus as op individuele gewasse.
Resultate
Van al die rotasiestelsels wat getoets is, is die minste onkruidsaad gevind waar grond konvensioneel bewerk is en die meeste waar ’n sterwielplanter (zerobewerking) gebruik is. Van al die wisselboustelsels het monokultuurkoring die hoogste onkruiddruk ondervind, maar onder zerobewerking was die onkruidsaadbank van monokultuurkoring soortgelyk aan die ander wisselboustelsels (Grafiek 1 en Grafiek 2). Koring en medics in rotasie het tipies tot die laagste onkruidgetalle gelei, maar as zerobewerking in dié stelsel gebruik word, is verhoogde onkruidgetalle waargeneem (alhoewel slegs duidelik sigbaar op Langgewens).
Dit blyk dus asof die spesifieke grondbewerkingspraktyk nie die onkruidsaadbank in die monokultuur beïnvloed het nie, maar by die wisselboustelsels het onkruiddruk verlaag indien zerobewerking vermy word. Konvensionele bewerking in kombinasie met ’n koring-kanola-koring-lupien-stelsel op Langgewens was voldoende om die onkruidsaadgetalle laag te hou.
Grasonkruide, meestal raaigras, was algemeen in die monokultuurkoring en ook meer op Langgewens as op Tygerhoek (Grafiek 3 en Grafiek 4). Op Tygerhoek het beide die koring-kanola-koring-lupien- en koring-medics-koring-medics wisselboustelsels die aantal grasse onderdruk, maar op Tygerhoek was slegs koring-kanola-koring-lupien effektief om grasse te onderdruk. Swak hervestiging van medics op Tygerhoek kan as rede aangevoer word vir die hoër onkruiddruk in die koring-medics-koring-medics-stelsel. Wisselboustelsels kan die aantal grasonkruidsade verminder. Alhoewel daar ’n groter verskeidenheid onkruide in wisselboustelsels waargeneem word, word dit as ’n voordeel beskou. ’n Groter verskeidenheid van onkruidspesies behoort makliker beheer te word in vergelyking met gevalle waar een onkruidspesie (soos raaigras) domineer. Ongeag die wisselboustelsel is onkruiddruk nie verminder wanneer zerobewerking gebruik is nie. Geenbewerking (tandplanters) het oor die algemeen in verskeie wisselboustelsels ’n lae onkruiddruk gehandhaaf. Koring-kanola-koring-lupien was minder effektief as die koring-medics-rotasie om die totale aantal onkruidsaad te verlaag, maar koring en medics in rotasie het die grasse proporsioneel beter beheer.
Oesreste het geen verwantskap getoon met onkruidsamestelling of -hoeveelheid nie. Die meeste oesreste is in zerobewerking waargeneem, wat ook die hoogste hoeveelheid onkruid gehad het en proporsioneel die meeste grasse (Grafiek 5 en Grafiek 6).
Samevatting
Die resultate wys dat geen-, minimum- en konvensionele bewerking in wisselboustelsels tot ’n kleiner onkruidsaadbank lei as wat verwag word in monokultuurstelsels en zerobewerking. Behalwe vir ’n kleiner saadbank, word die saadbank ook nie deur een tipe onkruid oorheers nie, wat vereenvoudigde beheer kan impliseer. Dit is nie duidelik waarom geenbewerking (tandplanters) en zerobewerking (sterwielplanters) sulke kontrasterende resultate op die onkruidsaadbank getoon het nie. Sterwielplanters is egter nie ’n goeie keuse vir zeroversteuring nie en skyfplanters presteer agronomies beter, alhoewel dit feitlik dieselfde hoeveelheid grond versteur.
Verder is dit ook nie duidelik waarom daar ’n effek van grondbewerking in wisselboustelsels waargeneem is, maar nie in monokultuurstelsels nie. Die enigste verskil tussen stelsels waar tand- of steroopmakers gebruik is, was die gebruik van trifluralien-onkruiddoder. Meer navorsing is nodig om te bevestig watter rol trifluralien speel om onkruid te beheer en of daar ander redes is vir die verskil tussen tand- en sterwiel/skyfplanters. Tegnologie-ontwikkeling met skyfplanters sedert die navorsing uitgevoer is asook voor-opkoms-onkruiddoders soos Sakura wat in hedendaagse zerobewerkingstelsels gebruik kan word, sal waarskynlik ’n ander effek op die onkruidsaadbank hê as met die sterwielplanter.
Produsente word aanbeveel om geenbewerking in kombinasie met wisselbou te gebruik om onkruid te beheer en terselfdertyd grondgesondheid te bevorder. In hierdielangtermynproewe is hoër mikrobiese diversiteit en meer voordelige aalwurms gerapporteer waar geenbewerking toegepas is in vergelyking met konvensionele bewerkingstelsels. Verder word meer grondvogbewaring in geenbewerking verwag as in konvensionele bewerkingstelsels, alhoewel dit nie in hierdie studie getoets is nie.
Onkruiddoderweerstandigheid bly ’n groot uitdaging in die Wes-Kaap. Dus behoort toekomstige navorsing maniere te ondersoek om die afhanklikheid van onkruiddoders te verminder deur gebruik te maak van taktiese bestuursbesluite in die stelsels, soos byvoorbeeld strategiese grondbewerking, dekgewasse, integrasie van vee, meer diverse wisselboustelsels en plantdigtheid/rywydte-kombinasies.
Die wetenskaplike artikel is in die vaktydskrif Soil and Tillage Research gepubliseer en kan hier gevind word: MacLaren, C, Labuschagne, J & Swanepoel, PA. 2020. Tillage practices affect weeds differently in monoculture vs. crop rotation. Soil and Tillage Research, 205, p.104795. Of klik op die QR-kode om die artikel aanlyn te lees.
Vir navrae kontak dr Johan Labuschagne by johanl@elsenburg.com of dr Pieter Swanepoel by pieterswanepoel@sun.ac.za.