Swamsiektes wat koring teiken

Jannie Bruwer, Bayer
Gepubliseer: 11 Junie 2020

1515

Swamsiektes kan ’n koringprodusent se oes nadelig beïnvloed, daarom is tydige, korrekte identifisering belangrik. Vervolgens ’n paar riglyne om die belangrikste swamsiektes in koring te identifiseer asook om te kyk onder watter toestande hul floreer.

Poeieragtige meeldou (Blumeria graminis f. sp. tritici)
Poeieragtige meeldou word gekenmerk deur ’n wit poeieragtige swam wat op blare en/of die stam en aar kan voorkom.

Dit kom gewoonlik eerste op die onderste blare voor en ontwikkel vinnig onder warm, vogtige toestande wat afgewissel word met droë en nat bewolkte periodes. ’n Digte stand asook hoë stikstofbemesting verhoog die siekte se voorkoms. Plante is meer vatbaar gedurende periodes van groei, soos tydens stamverlenging. Ernstige besmettings kan syhalms laat afspeen. Wanneer koring poeieragtige meeldou in die aar kry, verswak die sapvloei en dan word dit moeilik om chemies te beheer. Siekte-ontwikkeling word onderdruk wanneer temperature bokant 25°C styg.

Die swam oorleef hoofsaaklik as dormante miselium (filamentagtige swamdrade) op koringstoppels. Luggedraagde konidia ontkiem oor ’n wye temperatuurreeks (5°C tot 22°C), maar temperature van 15°C tot 22°C wat gepaard gaan met ’n paar ure van relatief hoë humiditeit, is optimaal vir ontkieming.

Blaarroes (Puccinia triticina f. sp. tritici)
Klein, ronde oranjebruin roespuisies vorm op die oppervlak van die blare. Die roespuisies kan afgevryf word en kom verspreid op die blaar voor. Dit is rond tot ovaal van vorm en kom hoofsaaklik aan die bokant van die blaar voor. Later in die seisoen ontwikkel swart teliospore op volwasse plante, gewoonlik aan die onderkant van die blaar, maar dit is van geen belang nie.

Die boonste blare word gewoonlik eerste aangetas. Roesswamme oorleef op opslagplante tussen seisoene. Die urediniospore wat op die opslagplante gevorm word, dien as ’n bron van inokulum vir die siekte in die volgende seisoen.

Roesswamme kan ook deur die wind versprei word. Epidemies wat voor of tydens blom plaasvind, is baie ernstig, veral as die vlagblaar besmet word. Die getal korrels per aar sowel as die saadgrootte word verlaag. Blaarroes rig meer skade aan by laat kultivars, veral as dit lank koel bly. Die inkubasieperiode duur gewoonlik tussen ses en agt uur by ’n temperatuur van 15°C tot 22°C.

Stamroes (Puccinia graminis f. sp. tritici)
Verhewe rooibruin puisies kom op blare, die blaarskede, are en stamme van vatbare kultivars voor. Met ligte infeksies is die puisies gewoonlik apart en verspreid, maar met erge infeksies smelt hulle saam om ’n kors te vorm. Puisies is langwerpig en dun en bestaan uit urediniospore, wat later swart word en teliospore bevat.

Die siekte ontwikkel op dieselfde manier as blaarroes, behalwe dat stamroes warmer klimaatstoestande (15°C tot 35°C) vir infeksie benodig. Laat aangeplante koring is gevolglik meer vatbaar vir stamroes. Dit kan skielik in vry vog en by temperature van 20°C of hoër ontwikkel. Met erge infeksies op vatbare kultivars kan groot oesverliese voorkom.

Streeproes (Puccinia striiformis f. sp. tritici)
Streeproes word geïdentifiseer as langwerpige heldergeel tot oranjekleurige strepe van wisselende lengte wat parallel met die blaarnerwe voorkom. Die strepe bestaan uit roespuisies waarin die swamspore gedra word.

Hierdie siekte is op sy skadelikste wanneer blaarinfeksie voor stoelvorming begin en tot die sagtedeegstadium duur. Vroeë infeksies sal planthoogte, strooimassa, aantal are, aantal pitte per aar en saadmassa verminder.

Die swamspore benodig vog en lae temperature vir ontkieming en die gevolglike infeksie van die plant. Infeksie kan plaasvind vanaf 2°C tot 15°C met ’n optimum van 11°C. Gebiede met dag- of nagtemperature van minder as 15°C, wat gepaard gaan met gereelde dou, mis, reën of oorhoofse besproeiing, moet as risiko-areas beskou word. Die swamspore word maklik deur wind versprei.

Bruinaar (Stagonospora nodorum, Septoria nodorum)
Bruinaar kan op beide die aar en blare voorkom. Wanneer klimaatstoestande gunstig is, ontwikkel ligbruin lensvormige vlekke op die blare. Op besonder vatbare kultivars kan die lensvormige vlekke chloroties en nekroties word. Dit verskyn gewoonlik twee tot drie weke voor aarverskyning as toestande gunstig is vir die siekte se ontwikkeling. Septoria spp. oorleef op stoppels. Die blare moet vir ses tot twaalf ure nat wees met temperature van 20°C tot 27°C voordat infeksie plaasvind.

Luggedraagde spore oorleef op stoppels en word met die eerste winterreëns vrygestel, wat die gewas dan infekteer. Sekondêre infeksie as gevolg van reëndruppels versprei die siekte deur die gewas. Septoria spp. kom dus redelik laat in die seisoen voor, vanaf blom tot stywedeegstadium. Groot verliese kan voorkom wanneer die vlagblaar en die twee laer blare geïnfekteer word.

Vaalblaar (Septoria tritici)
Blaarvlekkies – geel aan die begin, maar later grysbruin – kom voor. Hierdie letsels loop parallel met die blaar se are. Swart spore is duidelik sigbaar in die letsels (kenmerk vir uitkenning). Geel vlekkies kom eerste op jong blare voor.