Aardverwarming vererger wêreldwye ongelykheid

Namhla Mkiva, Fakulteit Natuur- en Landbouwetenskappe, Noordwes-Universiteit
Gepubliseer: 11 Junie 2020

1097

Arm lande raak armer as gevolg van aardverwarming – en meer ekstreme hittegolwe sal in die toekoms die ongelykheidsgaping net groter maak.

Dit is ’n paar van die navorsingsbevindings van Namhla Mkiva, ’n tegniese-ondersteuningspersoneellid in die vakgroep geografie en omgewingstudies aan die Noordwes-Universiteit (NWU) se Fakulteit Natuur- en Landbouwetenskappe. Sy het ’n internasionaal gepubliseerde artikel oor klimaatsuiterstes in die komende era van klimaatsverandering geskryf.

“Daar word in die vooruitsig gestel dat, onder die invloed van klimaatsverandering, meer intense hittegolwe in die toekoms ervaar gaan word,” sê Namhla.

“In Suid-Afrika is daar reeds ’n noemenswaardige verwesenliking van hierdie voorspelling – ons sien ’n definitiewe toename in die frekwensie en duur van hittegolwe. Die merkwaardigste duur van ’n hittegolf in vandag se tyd in die Noordwes was die sewe dag lange gebeurtenis in 2015/2016 se suidelike somerseisoen, met ’n maksimum temperatuur van 44,6°C in Taung.”

Waarom Noordwes kwesbaar is
Namhla wys daarop dat die posisie van die Noordwes Provinsie dit meer vatbaar maak vir kontinentale klimaatsinvloede omdat dit deur land omring is. “Dit is ook in die Suid-Afrikaanse subtrope geleë, waar die weerpatrone grootliks deur hoëdrukgordels gedomineer word, wat semidorre toestande tot gevolg het,” voeg sy by.

In nog ’n internasionale navorsingsartikel, getiteld “Aardverwarming het wêreldwye ongelykheid vermeerder” wat onlangs gepubliseer is, verduidelik Namhla hoe massiewe weergebeurtenisse hele gemeenskappe uitwis en die lewe vir almal moeiliker, duurder en gevaarliker maak. “Dit is die realiteit van ’n wêreld waar koolstofvrystellings klimaatsverbrokkeling aandryf,” verduidelik sy.

Namhla se navorsing toon dat die ekonomieë van arm lande in die trope 24% groter sou wees as dit nie vir aardverwarming was nie. “Dit is omdat die wêreld 1°C warmer is as wat dit ’n eeu gelede was. Die gevolg is dat gewasse misluk, ekonomiese produktiwiteit verminder en mense siek word of doodgaan as gevolg van die hitte.”

Volgens haar artikel is Suid-Afrika tussen 10% en 12% armer as wat dit sou gewees het sonder die verwarming van die afgelope ses dekades. Nigerië is 29% armer en Indië is 30% armer.

Omgekeerd toon die navorsing dat ryk lande by hierdie verwarming baat gevind het. Deur temperatuur en die ekonomiese groei tussen 1961 en 2010 te bepaal, is daar vasgestel dat reeds ryk lande – meestal met koeler klimate – gedurende ’n ongewone warm jaar groeifases beleef.

Dit is omdat warmer weer hulle nader laat beweeg aan wat bekend staan as die “empiriese optimum” – hoe nader ’n land se gemiddelde temperatuur aan 13°C is, hoe meer floreer die ekonomie.

Die ekonomieë van die 19 lande met die hoogste koolstofvrystellings het met ’n gemiddeld van 13% gegroei. Noorweë is byvoorbeeld 34% ryker danksy verhoogde temperature. Suid-Afrika, aan die ander kant, met ’n gemiddelde temperatuur van ongeveer 17°C, het gesien hoe sy ekonomie krimp.

Ongelukkig is die hartseer realiteit dat aardverwarming wêreldwye ongelykheid net verder aanhelp.

Studeer landbou aan die Noordwes-Universiteit
Die Fakulteit Natuur- en Landbouwetenskappe aan die Noordwes-Universiteit bied diverse en interessante kwalifikasies aan en huisves onder meer die Skool vir Landbouwetenskappe wat uit vier dissiplines bestaan: landbou-ekonomie en -uitbreiding, dieregesondheid, dierewetenskappe en gewaswetenskappe. Navorsingsaktiwiteite word ondersteun deur ’n onderrig- en navorsingsplaas wat vleisbeeste, melkkoeie, bokke, skape en pluimvee huisves. Die plaas het verskeie hektare bewerkbare grond en kweekhuise, wat gedeeltelik deur besproeiing ondersteun word.

’n Sentrum vir dieregesondheidstudies wat dieregesondheidstegnici op voor- en nagraadse vlak oplei, word ook hier gehuisves. Navorsing in die onderskeie dissiplines word ondersteun deur ’n aantal laboratoriums, wat toegerus is om ’n wye verskeidenheid navorsingsaktiwiteite moontlik te maak.

Hierdie navorsingsentiteite wat onder die Skool vir Landbouwetenskappe val, is geleë op die Mahikeng-kampus. Programme op hierdie kampus se taal van onderrig is Engels.

Op die Potchefstroom-kampus word BScAgric met spesialisering in landbou-ekonomie en agronomie en BScAgric met spesialisering in grondkunde en agronomie aangebied. Hierdie programme is gerig op spesifieke behoeftes binne die hoofsaaklik somergraanstreke en fokus onder meer op wetenskaplik gevorderde presisieboerdery. Hierdie kwalifikasies stel studente in staat om met meesters- en PhD-studies voort te gaan in agronomie, grondkunde of landbou-ekonomie.