Sorg vir jou boerdery en die boerdery sal vir jou sorg

Gepubliseer: 11 Desember 2024

126

Letselaskraal BK, die familie-onderneming in die Fouriesburg-omgewing waarvan Johan Scheepers deel is, het vanjaar met die louere weggestap in die Groei vir Goud opbrengs­kompetisie se afdeling vir mielieverbouing in die Oos-Vrystaat.

As sesde geslag wat in die omgewing boer, was dit vir Scheepers ’n groot eer om as wenner in die afdeling aangewys te word. “Ten spyte van ’n uitdagende seisoen, is dit tog lekker om te sien dat dit wat jy deur die seisoen gedoen het, vrugte afwerp.”

Die wenblok is op die plaas Morningstar geplant en die opbrengspotensiaal van die spesifieke land het Scheepers reeds tydens opkoms opgeval. Op vierblaarstadium het sy Pioneer-agent, Rikus de Villiers, hom oorreed om die blok vir die kompetisie in te skryf.

Die blok mielies waarmee Johan Scheepers vanjaar ’n wenopbrengs van 12,298 t/ha met die Pioneer-baster Phb 33H58BR gerealiseer het.

Kultivarkeuse
Dit is reeds die vyfde jaar wat hy die Pioneer-baster Phb 33H58BR plant. Dit het vanjaar besonder goed presteer met ’n opbrengs van 12,298 t/ha op die wenblok. Scheepers het 400 ha van dié baster geplant. Hy het dieselfde praktyke gevolg op die blok wat hy ingeskryf het as op die res van die plaas.

In totaal plant hulle 2 200 ha mielies. “Ons plant elke jaar ’n omvattende mieliepakket om risiko te versprei. Ons pakket bestaan gewoonlik uit twee kultivars elk van Pioneer, Pannar en DEKALB. Wanneer ons ’n baster kies, kyk ons na opkoms, opbrengs en siekteweerstand. Ons plant ons eie proewe, maar neem ook ander proewe in ons distrik in ag wanneer ons besluite neem.”

Ander gewasse wat geplant word, sluit sonneblom en droëbone in en dan boer hulle ook met Boran-beeste en Merino-skape. Twee derdes van die aanplantings elke jaar is mielies en die ander derde van die lande word opgedeel in een derde droëbone en twee derdes sonneblom. Die wisselboustelsel werk so: Hulle plant vir twee jaar mielies op ’n land en wissel dit dan af met droëbone op die hoëpotensiaallande en sonneblom op die res.

Die mielies wat vir die kompetisie ingeskryf is, is op 20 Oktober geplant en die res van die mielie-aanplantings is tussen 18 Oktober en 10 November gedoen. Die sonneblom is tussen 13 en 24 November geplant, terwyl die droëbone later tussen 8 en 17 Desember geplant is. Die gewasse word met ’n Equalizer Min-Till Precision SL II 12-ry-planter asook John Deere 1755-planters aangeplant in rywydtes van 91 cm.

Die wenblok is teen ’n plantestand van 36 000 plante/ha geplant, terwyl die res van die aanplantings gewissel het tussen 28 000 en 36 000 plante/ha afhangende van die lande se grondprofiele en opbrengspotensiaal. Die wenblok is op 11 Mei met ’n New Holland CR7.90-stroper gestroop.

Na stroop wei die beeste en skape op die oesreste. “Ons beeste sal nie deur die winter kom sonder oesreste nie. Ons meng ook van die mielies in die voerkraalbeeste se voermengsels in asook in al ons produksielekke. Die boerdery is dus goed geïntegreer.”

Volgens Scheepers help die inkomste van elke vertakking met die kontantvloei van die boerdery gedurende verskillende tye van die jaar.

Wat reënval betref, het hulle vanaf die middel van Oktober 2023 deur planttyd goeie reën gekry tot middel Januarie 2024. Volgens Scheepers het die reën daarna weggebly tot die einde van Maart. “Ons het aan die einde van Maart weer goeie reën ontvang, maar dit was te laat vir die gewasse.”

Johan Scheepers saam met sy vrou, Aletia en hul drie kinders, Makena, Zané en Simé.

Uitdagings
Volgens Scheepers was vogbeskikbaarheid ’n groot uitdaging die afgelope plantseisoen. “Ons grootste uitdagings was die beskikbaarheid van vog gedurende kritieke tye in die gewasse se groei­stadiums. ’n Ander uitdaging is diefstal wat elke jaar erger word.”

Vandat Scheepers 20 jaar gelede voltyds by die boerdery betrokke geraak het, het hulle ’n paar aanpassings in hulle boer­derypraktyke gemaak. Wat bewerkingsmetodes betref, is daar oorgeskakel na Lemken Karat 9’s asook hoëspoeddisse en hulle het ook chemiese onkruidbeheer in die bewerkingsmetodes begin insluit.

“Ons het chemiese middels voor die planters met die Flexmasters van Arlington-staalwerke begin inwerk om effektiwiteit te verbeter. Verder het ons begin fokus op presisieboerderytegnieke, veral met die strooi van kalk en kunsmis. Ons het verder oorgeskakel na planters met meer tegnologie om planteffektiwiteit te verbeter en kombineer dit met databestuur met die hulp van Fieldview-tegnologie op die planters en stropers.”

Hy sal graag nog verder wil verbeter wat graanbemarking en data-ontleding betref en stel hom ook ten doel om nog meer doeltreffende bewerkingsmetodes te implementeer.

Die wenblok bestaan uit donker Inhoek-grond, terwyl die res van die plaas ’n kombinasie is van onder meer Inhoek-, Tukulu- en Avalon-grondtipes. Omdat die grond so verskil, pas hulle hul bewerkings en bemesting aan na gelang van elke grondtipe.

As deel van die presisieboerderybenadering doen hulle grondkarterings en elke drie jaar op ’n land grondontledings. Die kalk en kunsmis word daarvolgens toege­dien en die bemesting vir mielies bestaan uit N (130), P (36), K (31) en S (35,2).

Plaagbeheer
Hulle plaagbeheerprogram is as volg:

  • Onkruidbeheer: 4 liter Camix Plus van Syngenta word met Vibromasters in die grond ingewerk. Op vierblaarstadium spuit hulle ’n opvolgbespuiting bestaande uit 200 ml Callisto, 800 ml Gardomil en 2 liter Touchdown.
  • Siektebeheer: Hulle voeg 500 ml Amistar Top by die vierblaarstadium-opvolgbespuiting.
  • Insekbeheer: 70 ml Katate met plant en 400 ml Lamdex saam met die opvolgbespuiting.

Vir wortelontwikkeling en algehele plantgesondheid gebruik hy Tri-Cure van MBFi.

Scheepers sê hy kry nuttige inligting deur boeredae by te woon, maar ook uit die SA Graan/Grain-tydskrif, op Landbou.com asook by verteenwoordigers van saad-, kunsmis- en chemiese maatskappye.

Sy boerdery se leuse is: Hier boer ons op God se koninkryksgrond. Gebaseer op dié leuse sorg hulle vir hulle mense, die grond en hul diere, verduidelik Scheepers.

Volgens hom is hulle so ’n paar medeprodusente wat mekaar ondersteun en in ’n mate mentor, maar hy beklemtoon dat sy pa se invloed op sy lewe groot is. “My pa is my mentor. Hy het my alles van boerdery geleer en ek leer nog steeds elke dag by hom. In die besonder het hy my geleer om regverdig te wees en altyd jou woord te hou.”

Hy voel ook sterk daaroor dat produ­sente betrokke moet wees by georganiseerde landbou, al is dit net as ’n lid. Om landbou te verbeter, voel Scheepers daar moet ’n gedeelde inligtingsplatform wees waar die gemiddelde pryse van insette gekontroleer en navorsingsresultate gedeel kan word. “Daar word navorsing op verskillende gebiede gedoen oor onder meer bewer­kings en bemesting. Dit sal help as meer van daardie inligting makliker toeganklik gemaak kan word vir die produsent.”