BEWARINGSLANDBOU: Praktyke gedefinieer

Gepubliseer: 11 November 2024

550
Dr Hendrik Smith,
Asset Research

Dr André Nel, onafhanklike akkerboukundige

In die omgangstaal word verskeie terme gebruik wanneer daar van bewerking en gewasproduksie­stelsels gepraat word – terme soos konvensionele, verminderde, bewarings- en geenbewerking, asook bewarings- en herlewingslandbou. Hierdie verskeidenheid van terme en hul gebruik kan nie vermy of verbied word nie, maar dit kan verwarring en misverstande skep as die terme nie reg verstaan en gebruik word nie.

Konvensionele bewerking
Konvensionele bewerking verwys na primêre en sekondêre grondbewerkingspraktyke. Die primêre bewerking voor plant versteur die bogrond om onkruide te vernietig en oesreste met die bogrond te vermeng. ’n Tweede, vlakker bewerking volg om weer onkruide te vernietig en ’n goeie saadbed te skep. Verdere sekondêre bewerkings gedurende die seisoen word gedoen om bemesting toe te dien, onkruid te beheer, vog te bewaar of erosie te bekamp.

Bekende skaar-, skottel- en tandimplemente word in konvensionele stelsels gebruik om grond voor te berei vir gewasproduksie. Die herhaalde grondversteuring wat met konvensionele bewerking gepaard gaan, het egter die nadeel dat dit die grond- organiese materiaalinhoud laat daal, die grondstruktuur benadeel en die erosiekwesbaarheid verhoog. Hierdie afwaartse siklus in grondagteruitgang begin sodra grondversteuring die ekologiese balans van mikroörganismes versteur wat weer daartoe bydra dat die grond se kwaliteit of gesondheid kan daal. Ten spyte van die suksesvolle graanproduksie wat met konvensionele bewerking behaal is en steeds behaal word, het dit egter reeds die grond erg afgetakel en ondermyn dit die langtermynvolhoubaarheid van landbou- en voedselproduksie.

Geenbewerking en plant tussen dekgewasse in die Clocolan-area.

Bewaringsbewerking
Bewaringsbewerking is ’n term wat sy ontstaan in die VSA gehad het as conservation tillage. By bewaringsbewerking word ’n primêre bewerking gedoen, maar die grootste deel van die vorige seisoen se oesreste word op die grondoppervlak agtergelaat. Die gebruik van ’n beitelploeg in plaas van ’n skaarploeg kan as bewaringsbewerking beskou word. Die grond word egter nog steeds deur die bewerking versteur.

In die Vrystaat het bewaringsbewerking ’n groot positiewe impak op erosie en produktiwiteit gemaak. Die sandgronde van die Noordwes-Vrystaat is aanvanklik geploeg, wat dit besonder kwesbaar vir wind­erosie gemaak het. Gedurende die 1970’s het die rip-op-ry-bewaringsbewerkingstelsel die lig gesien waar die meeste oesreste op die grondoppervlak ge­laat word. Die oesreste bekamp erosie en kan dit selfs voorkom indien die bedekking van die grond voldoende is. Die toenemende beskikbaarheid en gebruik van onkruiddoders het ook bewaringsbewer­king be­vorder. Grondversteuring laat egter steeds die grond se kwaliteit of gesondheid daal.

Geenbewerking is bloot die Afrikaanse term vir no-till of “direkte plant” soos dit in Argentinië genoem word. Geen primêre en sekondêre grondbewerking word toegepas nie, daar word van chemiese onkruidbeheer gebruik gemaak en in onversteurde grond geplant. Die enigste en beperkte versteuring van die grond vind tydens die plantproses plaas deur ’n geenbewerkings­planter. Met geenbewerking word erosie en grondagteruitgang in ’n groot mate beperk.

Met strookbewerking of strip-till word ’n strook grond van sowat 30 cm breed met ’n spesiale implement bewerk. Die bewer­king word slegs gedoen waar geplant gaan word met ’n onbewerkte gedeelte tussen die plantrye. In ’n 90 cm-ryspasiëring word dus ’n derde van ’n land bewerk. Die saadbed word in hierdie stroke gemaak en ’n konvensionele planter sonder enige aanpassing kan steeds gebruik word. Die nadeel van strookbewerking is dat ’n gedeelte van die grond steeds onderhewig is aan die nadele van konvensionele bewerking en grondversteuring.

Bewaringsbewerking, geenbewerking en strookbewerking is dus terme wat spesifiek met bewerking te doen het.

Bewaringslandbou stuit erosie en bevorder die volhoubaarheid van landbou- en voedselproduksie.

Bewaringslandbou
Bewaringsbewerking, geenbewerking en bewaringslandbou is nie dieselfde nie. Bewaringslandbou is ’n produksiestelsel en konsentreer met ander woorde nie net op bewerking nie. Volgens die Verenigde Nasies se Voedsel-en-Landbou-organisasie (VLO) word bewaringslandbou deur drie kernpraktyke of -beginsels gedefinieer wat saam toegepas moet word.

Die eerste praktyk is minimum grondversteuring en – indien ’n betrokke grond daarvoor geskik is – geenbewerking soos hierbo bespreek.

Behoud van oesreste op die grond­oppervlak is die tweede praktyk. Dit beperk waterafloop, bevorder die infiltrasie van water en verminder dus watererosie, maar ook winderosie. Dit beteken dat die watergebruiksdoeltreffendheid verbeter. ’n Groter hoeveelheid graan kan dus geproduseer word per millimeter reën wat val. Dit is ’n uiters belangrike voordeel in die semi-ariede klimaat waarin graan geproduseer word en waar water gewoonlik die mees beperkende produksiefaktor is. In proewe op sekere gronde in Noordwes het goeie grondbedekking, geenbewerking en verhoogde infiltrasie van reënwater tot gemiddelde mielie-opbrengsverhogings van 40% gelei.

Die derde praktyk is wisselbou (of diversifikasie van gewasse). Dit is reeds lank bekend dat wisselbou besonder goed werk om sekere probleme soos plantsiektes en lae grondvrugbaarheid of -gesondheid te bekamp, veral met die insluiting van peulgewasse of dekgewasmengsels in die wisselboustelsel. Dit bevorder ook graan­kwaliteit.

In bewaringslandboustelsels word implemente soos skeurploeë, skottelêe en ploeë nie meer gebruik nie, omdat dit tot verskeie probleme lei soos hierbo bespreek is. Hier word grondbewerking net in uitsonderlike gevalle strategies aangewend, byvoorbeeld om ’n ernstige probleem met verdigting op te hef of om kalk in te werk.

Konvensionele bewerking verhoog die erosiekwesbaarheid van grond en ondermyn die langtermynvolhoubaarheid van landbou- en voedselproduksie.
Geenbewerking en plant tussen oesreste in die Standerton-omgewing.

Herlewingslandbou
Per definisie is herlewingslandbou eintlik dieselfde as bewaringslandbou. Die term geniet egter voorkeur by sommige mense – hulle hou meer van die woord, dit werk net beter vir hulle. Dit is heeltemal aanvaarbaar en onvermydelik dat mense die term sal gebruik waarvan hulle hou, solank die amptelike definisies egter ook reg verstaan word.

Die verskil tussen herlewingslandbou en bewarings­landbou is hoofsaaklik net die verskil in klem wat op sekere beginsels en praktyke geplaas word. Herlewings­landbou plaas ’n groter klem op die integrasie van diere asook die teenwoordigheid van lewende wortels in die grond, maar van nader beskou was dit ook nog altyd deel van die breër definisie van bewaringslandbou. Dit kan gesien word dat dit bewarings­landbou ’n paar stappies verder vat deur grondlewe en -gesondheid vinniger te herstel en dus ’n groter klem en promove­ring op die integrasie van dekgewasse en vee in die wisselbou op verskeie maniere plaas. Dit sluit tussenverbouing in, waar dekgewasse tussen mielie- of sonneblomrye geplant word as die kontantgewasse aktief groei om te sorg dat daar lewende wortels in die grond is wanneer die mielies geoes word. Dit verskaf wortels in die grond en voer vir diere deur die winter. Waar seisoenale reënval en verspreiding beperk is, word daar nie altyd in hierdie doelwit geslaag nie.

Die diere – veral herbivore soos beeste en skape – se hoewe, urine en mis stimuleer die grond se mikrobiologiese aktiwiteit en diversiteit. So bevorder dit dus die opbou van grond- organiese materiaal en grondgesondheid. Korrekte, nieselektiewe weidings­praktyke op natuurlike veld en aangeplante weidings word ook sterker in herlewingslandbou beklemtoon.

Vee-integrasie op somerdekgewasse, Viljoenskroon.

Slotsom
Konvensionele bewerking wat die grond aanhoudend versteur en waar ’n gewas soos mielies in monokultuur verbou word, is nie volhoubaar nie, omdat grondaftakeling en erosie onverstoord en ongesiens voortgaan. Dit forseer produsente uiteindelik na dieper of meer bewerking en swaarder toediening van bemesting of nadelige chemikalieë. So word ’n al swaarder las op hulle winsgewendheid en die omgewing geplaas.

Bewarings- en herlewingslandbou is die enigste wyse waarop volhoubare graanproduksie met die beskerming en verbetering van grond, bevorder kan word. Die uitdaging is om die fynere besonderhede en bestuur van die stelsels op alle grondsoorte uit te pluis om dit te laat slaag.