Impak van winterdekgewasse IN ’N BAIE DROË SEISOEN

Gepubliseer; 11 November 2024

462
Dr Hendrik Smith, ASSET Research

Daar is ’n groot behoefte om meer volhoubare graanverbouingstelsels te ontwerp wat omge­wings­vriendelik is, maar ook hulle agronomiese en ekonomiese lewensvatbaarheid behou.

Konvensionele bewerking en monokultuurstelsels vernietig koolstof in grond, terwyl gediversifiseerde en geïntegreerde (vee en gewasse) bewaringslandboustelsels grond- organiese materiaal en grondkwaliteit verbeter met ’n verlaagde afhanklikheid van sintetiese insette oor tyd.

Hierdie geïntegreerde bewaringslandboupraktyke word toenemend deur graanprodusente in Suid-Afrika as ’n goeie opsie beskou om van hierdie probleme op te los en langtermyn- volhoubare stelsels te vestig. Dekgewasse is ’n integrale deel daarvan en bestaan uit die verbouing van ’n spesie of mengsel van spesies gedurende kort of lang braakperiodes van ’n wisselbou tussen twee kontantgewasse.

Dekgewasse help om afhanklikheid van sintetiese kunsmis en plaagdoders te verminder, terwyl dit ook die impak van ekstreme weerstoestande deur goeie grondbedekking en koolstofopberging in die grond versag. Dekgewasse word gewoonlik deur vee benut of platgerol vir goeie beskerming van grond. Laasgenoemde opsies vorm tipies deel van geïntegreerde bewaringslandboustelsels. Na die benutting of beëindiging van ’n dekgewas word hul reste as deklaag op die grond gelaat voordat die volgende kontantgewas geplant word. Die keuse en benutting van dekgewasse moet deurentyd reg bestuur word, en word onder meer beïnvloed deur die produsent se konteks, seisoenale toestande en die doel waarvoor hulle dit wil gebruik.

Wat was die ervaring van plaaslike graanprodusente in hierdie uiters droë seisoen?
Verskeie Suid-Afrikaanse somergraanpro­dusente wat hierdie stelsel in ’n droë 2023/2024-seisoen toegepas het, is oor hulle erva­rings gepols. Dit was eerstens opmerklik dat al hierdie produsente die doel van bewaringslandbou soos dit hierbo beskryf is ondersteun en oortuig is dat dit die regte pad is om te stap na langtermynvolhoubaarheid. Elkeen is egter duidelik op sy eie pad en probeer sy bes om binne sy unieke konteks die stelsel te maak werk met minimale risiko, maar steeds deur volhoubaar en wins­gewend te wees. So was die 2023/2024-seisoen vir elk­een ’n unieke jaar en die volgende is ’n opsomming van hulle ervarings.

Winterdekgewasse wat geplant is nadat sojabone geoes is.
Somerkontantgewasse word direk in groen winterdekgewasse geplant.
Aflos-winterdekgewasse tussen volwasse mielies.
Winterdekgewasse langs ’n kaal land met konvensionele bewerking.

Gevolgtrekkings
Al die produsente wat gevra is, was aangenaam verras deur die oorwegend positiewe impak wat WDG’s op hulle kontantgewasse gehad het in ’n uiters droë seisoen. Van die belangrikste gevolgtrekkings wat die produsente gemaak het, sluit die volgende in:

  • Met die hoë temperature en hittegolwe van die seisoen het die bedekking die grond koeler gehou wat die biologie meer en langer laat funksioneer het en voedingstowwe in die plante gekry het.
  • Elke klein buitjie reën is maksimaal of doeltreffend benut.
  • Waar grond bewerk of kaal was, was die grondoppervlak warmer en droër wat die opkoms van mielies of sojabone benadeel het.
  • Daar is minder onkruide en peste soos snywurms.
  • Daar is meer voer vir vee in moeilike maande (soos September) en grondgesondheid het verbeter.
  • Sommige produsente vermy WDG’s as ’n droë seisoen voorspel word, of termineer dit vroegtydig voor die volgende kontantgewas geplant word. Wees dus bewus van die langtermynweervoorspellings, veral as ’n El Niño op pad is.
  • Die bewaringslandboustelsel met dekgewasse en vee-integrasie begin na ’n paar jaar se toepassing beter werk sodra die ekostelsel (natuur) genoegsaam herstel het.
  • Produsente moet lank genoeg aanhou hiermee om al die langtermynvoordele te kry.
  • Goeie kennis en bestuur van hierdie praktyke is belangrik; daar is nie algemene resepte nie, maar elke produsent moet seker maak en beplan waarvoor, hoeveel en hoe hy dit wil toepas. Dit kan byvoorbeeld nie sommer net sonder ’n goeie rede en plan op die hele plaas geplant word nie.

Magnus Theunissen (Humansgeluk, Ottosdal, Noordwes)
In die winter van 2022, na afloop van ’n uiters nat seisoen en die groot uitbreking van Sclerotinia op die sonneblomoes, het Theunissen aan die einde van Mei ’n algehele winterdekgewas gevestig. Dit is met ultrahoëdrukbeweiding deur beeste benut in September 2022. In die 2022/2023-seisoen het hy op die mielielande tussenverbouing met dekgewasse gedoen (’n reeks biostimulante is ook toegedien). In daardie seisoen het hy ondergemiddelde reën gekry, maar die verspreiding was uitstekend. Dit het ’n bogemiddelde oes gelewer.

Die afgelope seisoen was dit in Februarie en Maart baie droog op sy plaas (slegs 7 mm vir Februarie 2024 en 13 mm vir Maart 2024) en die mielies en dekgewasse is opgevolg met sonneblomtussenverbouing wat opbrengste van 1,6 tot 2 t/ha gelewer het. Waar sonneblom (na mielies) geen dekgewastussenverbouing en geen biostimulante gehad het nie, was die opbrengs slegs tussen 0,6 tot 0,8 t/ha.

Waar hy mielietussenverbouing toegepas het, was die opbrengs 2,8 t/ha teenoor 1,0 tot 1,2 t/ha waar daar geen tussenverbouing was nie.

JP van der Merwe (Volstruiskuil, Ottosdal, Noordwes)
Die twee seisoene voor 2023/2024 was nat jare waar Van der Merwe winterdekgewasse (WDG’s) na mielies en sojabone geplant het. Hierdie lande van 60 ha het dus drie jare na mekaar WDG’s na somergrane gehad; die eer­ste jaar was dit net koring en die ander twee jare was dit WDG-mengsels. Die WDG’s is tipies in Meimaand geplant, in September bewei (wanneer goeie weiding vir diere skaars is) en in Oktober doodgespuit om voor te berei vir plant in November.

Mielies wat in 2023/2024 na WDG’s geplant is, het ’n opbrengs van 6,7 t/ha gehad, teenoor 5 na 6,2 t/ha waar daar nie WDG’s was nie. Van der Merwe sien met ander woorde nie groot verskille in mielie-opbrengs na WDG’s nie, waaroor hy bly is (aangesien daar nie verliese is nie). By sojabone wat hierdie seisoen na WDG’s geplant is, was die opbrengs 2,7 tot 2,8 t/ha, teenoor opbrengste van 1,1 tot 1,2 t/ha waar daar nie WDG’s geplant is nie.

Danie Bester (Rietbult, Balfour, Mpumalanga)
Bester is opgewonde oor die voordele van dekgewasse. “Ek dink nie ek het meer oortuiging nodig na hierdie droë jaar dat grondgesondheid ononderhandelbaar is nie. Grond is nie net ’n groeimedium nie.” Bester gebruik NDVI-satellietbeelde en ’n opbrengskaart om sy waarnemings te verduidelik. Die land waar daar WDG’s was, het hierdie jaar sy hoogste mielie-opbrengs nog gegee, ten spyte van die feit dat dit die droogste seisoen is wat hulle in baie jare ervaar het. Die deel waar nie dekgewasse geplant was nie, vertel ’n ander storie. Die opbrengs was Graad 2 – en swakker. “Daai lyn sny maar net te mooi af waar die grond nie die grondbedekkingsvoordeel gehad het nie; maar dit gaan eintlik oor meer as net die bedekking. Om my grond se gesondheid te verbeter – natuurlik met die regte bemestingsbenadering – en hierdie te sien is die koffie werd!”

Dalton Viljoen (Vlakfontein, Koster, Noordwes)
Viljoen gebruik vir die laaste vier tot vyf jaar dekgewasse en hy pas ook die laaste twee seisoene geenbewerking toe. Die vorige seisoen (2022/2023) het hy op een land gemengde somerdekgewasse geplant, wat nie baie biomassa en oesreste op die grondoppervlak geproduseer het nie. Die een helfte van die land het hy net so gelaat (met min oesreste deur die winter) en op die ander deel het hy WDG’s (hawer) deur die winter geplant. Die hawer is vir saad geoes, maar daar is goeie biomassa en oesreste op die grond gelaat. In die 2023/2024-seisoen is sojabone op elkeen van hierdie stroke geplant. Waar daar net oesreste was, was die sojaboonopbrengs 0,6 t/ha, terwyl die opbrengste na die WDG 2,8 t/ha was.

Izak Dreyer en Marnus Strydom (Dreyer & Dreyer Boerdery, Vrede, Noordoos-Vrystaat)
Dreyer en Strydom het geen verskille tussen kontantgewasse gesien wat met of sonder WDG’s in hierdie droë seisoen geplant is nie. Hulle probeer altyd WDG’s na sojabone en somerdekgewasse plant. In mielies probeer hulle WDG’s as tussenverbouing met ’n hommeltuig insaai. Behalwe vir die neutrale effek op opbrengste, sien hulle egter verskeie ander voordele van WDG’s: minder onkruide, veral Conyza (skraalhans); baie min snywurms (gebruik geen chemie daarvoor nie); en hoër vleisproduksie van drie tot vier keer se wei op die WDG. In ’n droë seisoen soos hierdie sal hulle liewers nie die opvolgende kontantgewas in die groen WDG’s plant nie, maar dit eerder so twee weke voor plant doodspuit.