KORINGPRODUSENTE bring hul kant op tawwe speelveld

Gepubliseer: 11 November 2024

331
Dr Tobias Doyer
HUB, Graan SA

As die tweede belangrikste voedselbron in Suid-Afrika, speel plaaslike koringproduksie ’n kernrol om ons land se VOEDSEL SEKERHEID te waarborg. Die verwagte bevolkingsgroei beteken dat ons noemenswaardig meer mense in die toekoms sal moet voed. Die volgehoue lewensvatbaarheid en winsgewendheid van die plaaslike koringbedryf is dus onontbeerlik vir die handhawing van voedselbeskikbaarheid, -bekostigbaarheid en voe­dingswelstand. Heelwat onsekerheid bestaan egter tans onder koringprodusente wat hul staal op ’n uitdagende en ongelyke speelveld moet wys.

Die winsgewendheid van ko­ringproduksie is al ’n geruime tyd onder druk en produsente breek baie keer net gelyk. Daar word van hulle verwag om te kompeteer met dikwels swakker gehalte maar sterk gesubsidieerde koringinvoere teen ’n lae prys, veral vanaf Rusland, wat plaaslike produksie se finansiële haalbaarheid benadeel. Verder is die verwagting dat die 2023/2024-seisoen met ’n groot eindvoorraad sal afsluit as gevolg van die groter hoeveelheid invoere en ’n ge­volglik groter aanbod vir die nuwe bemarkingseisoen.

Rusland het egter onlangs aangekondig dat hulle ’n minimum prys wil implementeer om te verhoed dat ander graankopers hulle “goedkoop” koring herverkoop aan lande wat koring invoer. Dit kan dalk help om die internasionale koringprys, wat onvolhoubaar laag is, te stut.

Behalwe ’n ernstige gebrek aan subsidies, moet plaaslike produsente ook uitdagings trotseer waarteen hulle internasionale eweknieë gebuffer is danksy staats­ondersteuning. Hier kan onder andere verwys word na ons vervalle vervoerstelsel en waterinfrastruktuur, hoë arbeidskoste, ongunstige arbeidswetgewing, gebrek aan risiko-ondersteuning, misdaad en ’n toenemende kosteknyptang.

Hierdie onsekerheid noodsaak produsente om risikoverspreiding en diversifikasie met meer erns te oorweeg asook hul opsies om met planttyd op die kantlyn te bly staan omdat die marges van ko­ring jaarliks krimp. Om hierdie redes het Graan SA, in samewerking met die bedryf, ’n klompie jare gelede ’n omdraaistra­tegie vir die plaaslike koringbedryf begin implementeer. Dit sluit in ’n invoertarief vir koring om plaaslike produsente teen hoë vlakke van subsidies in groot koringproduserende lande te beskerm.

Die huidige sloering in die aankondiging van die invoertarief vir Julie en die vertraging in die aanpassing van die basisprys veroorsaak egter verdere onsekerheid in die mark, wat koringprodusente se finansiële posisie nog meer onder druk plaas. Graan SA het homself sterk in dié verband teenoor diegene verantwoordelik uitgespreek en werk onverpoosd daaraan om hierdie knelpunte saam met die bedryf en staatsdepartemente op te los.

Daar rus met elke produksieseisoen ’n groot verantwoordelikheid op graanprodusente se skouers om die regte besluite te neem te midde van ’n landbou-omge­wing vol onsekerhede. Dit is van deurslag­gewende belang dat graanprodusente moet kan staatmaak op ’n regulatoriese omgewing wat effektief bestuur word. Graan SA het hieroor met die Minister van Landbou vergader om die dringendheid van die aangeleentheid te beklemtoon.

Wanneer die staat sloer om sy verantwoordelikheid teenoor die produsente van
’n stapelvoedsel na te kom, hou dit ’n negatiewe en verreikende rimpeleffek in. Dit verhoog die afhanklikheid van internasionale handel en buitelandse valuta wat outonomie, werksgeleenthede en besluitnemingsmag benadeel. Die Afrika-kontinent het vele voorbeelde van lande wat in dié strik beland het tot nadeel van hul binnelandse stabiliteit.

Koringprodusente gaan verder gebuk onder ’n stygende liggingsdifferensiaal. Graan SA kom egter al ’n lang pad met onderhandelinge om ’n meer regverdige stelsel vir graanprodusente daar te stel. In hierdie verband is daar ’n lig in die tonnel. Die proeflopie van ’n nuwe liggingsdifferen­siaal wat tans op sojabone getoets word – met die volle samewerking en leiding van die JSE – is ’n belangrike stap na ’n meer regverdige stelsel. Indien suksesvol, sal dit ook vir ander kommoditeite soos koring op die proef gestel kan word.

Ministeriële goedkeuring is verkry vir statutêre heffings op koring, gars en hawer met ingang 1 Oktober 2024. Hierdie heffings sal deur die Suid-Afrikaanse Wintergraanbedryfsagentskap (SAWCIA) vir ’n periode van vier jaar bestuur word met die doel om broodnodige navorsing te bevorder en inligtingsverspreiding te finansier. Graan SA wil sy dankbaarheid uitspreek teenoor produsente wat bereid was om in die interim vrywillige heffings te betaal.

Wat die teling-en-tegnologie-heffing betref (SACTA-heffing), is die ontwikkeling en beskikbaarheid van verbeterde hoëpotensiaalkoringkultivars wat steeds aan kwaliteitstandaarde voldoen, noodsaaklik vir die verbetering van produktiwiteit en internasionale mededingendheid. Hierdie vrugte sal op lang termyn gepluk word.
Graan SA is as organisasie daartoe verbind om onvermoeid te werk om saam met koringprodusente die wa deur die drif te trek en koring te herstel tot ’n veerkragtige en winsgewende landboukommoditeit.