Hoe kies ’n mens tussen chemiese en meganiese onkruidbeheer?

Gepubliseer: 2 Oktober 2024

64
Pietman Botha,
SA Graan/Grain-redaksie

Johan Dyason,
Laeveld Agrochem

Onbeheerde onkruid – veral in die beginstadium van ’n gewas – is ’n kritieke aspek wat tot groot opbrengsverliese kan lei. Dit maak nie regtig saak of die onkruid chemies of meganies beheer word nie – wat saak maak is dat die onkruid tydens plant en vir ten minste ses weke daarna dood moet wees en bly.

Toestande in die spesifieke jaar en die produsent se praktyke moet bepaal watter metode op die plaas toegepas word. Dit gaan tussen seisoene verskil en nog meer binne seisoene. As daar onkruid in die land is, moet dit so vroeg as moontlik beheer word. Klein onkruidsaailinge word maklik beheer, maar soos hulle groter word, raak die beheer al hoe moeiliker. Boonop hou ander peste soos snywurms van ’n land met on­kruid en dit kan produsente later duur te staan kom.

Die besluit of onkruid chemies of meganies beheer moet word, gaan in ’n groot mate oor hoeveel vog daar in die grond is en hoe groot die onkrui­de al is. Indien onkruide reeds stresfaktore toon, gaan chemiese beheer nie noodwendig geskik wees nie, maar so ook nie meganiese beheer nie. As grond reeds droog is, is bewerking taamlik moeilik. Heelwat vog gaan boonop verlore as die grond bewerk word.

’n Volgende belangrike aspek behels die tipe onkruide wat voorkom. Gewone eenjarige onkruide is makliker beheerbaar, maar meerjarige onkruide soos kweek of uintjies is ’n perd van ’n ander kleur. Meerjarige onkruide het gewoonlik ’n onder- of bogrondse wortelstok wat veral deur bewerking gebreek en verder versprei word. Verder kan meerjarige onkruide ook knolle en bolle voortbring wat beheer daarvan bemoeilik. Met hierdie tipe onkruide sal ’n benadering gevolg moet word wat beide chemiese en meganiese beheer insluit.

Grondbewerking beheer onkruid deur dit te begrawe, die lote van die wortels te skei en deur uitputting van die koolhidraatreserwes van meerjarige onkruide.

Vir meganiese onkruidbeheer is dit belangrik dat implemente reg ingestel is en reg werk. Skare moet genoeg oorvleuel en indien ’n skottelimplement gebruik word, moet die oorvleueling van die snyskottels genoeg wees om seker te maak die onkruide word uitgewerk. Die werksdiepte moet reg gestel wees – te diep is net so sleg as te vlak. Maak nie saak hoe diep gewerk word nie, vog wat in baie gevalle beperkend is, gaan verlore.

Meganiese onkruidbeheer
By meganiese onkruidbeheer is die son die produsent se grootste vennoot. Net soos by chemiese onkruidbeheer is die bewerking van jong, opkomende saailinge die ideaal. Hulle kan vlak en doeltreffend bewerk word en die suksessyfer is hoog. Groter onkruide is moeilik om te begrawe en het voldoende wortels, daarom is dit moeilik om die plant heeltemal te ontwortel en van die grond te skei. Droë grond bevorder die uitdroging van die onkruidwortels en sodoende help die son ook om die onkruide te dood.

Bewerking terwyl die grond te nat is, sal onkruid bloot oorplant of rondskuif, veral die vegetatiewe voortplantingsorgane van meerjarige onkruide. Indien die grond nie ook fyn gewerk word nie, sal die onkruide moeilik beheer word.

Meganiese bewerking kan smeerlae maak in nat toestande wat plantontwikkeling kan beperk.

Bewerking bly boonop ’n duur opsie. Indien ’n 150 kW-trekker gebruik word, behoort dit ongeveer R600/ha te kos om die land te sny. Met ’n hoëspoed- kompakte skotteleg sal dit met dieselfde trekker ongeveer R450/ha kos, terwyl ’n diamantskot­teleg (Kelly-dis) ongeveer R650/ha sal wees. Die gebruik van ’n gewone vlaktandwydwerkskoffel se koste is min of meer R250/ha. Hou in ge­dagte by hierdie aksies moet die gewone vooropkomsonkruiddoder-komponent nog bygetel word om die verlangde onkruidbeheer ná die gewas se opkoms te verseker.

Chemiese onkruidbeheer
Voorplant- chemiese onkruidbeheer hou ’n hele paar voordele vir produsente in. Die grootste voordeel is vogbewaring en die voorkoming van die vorming van ’n nuwe saadbed vir onkruid deur die bewerking van die grond. Chemiese beheer bespaar ook brandstof en verleng die leeftyd van trekkers en implemente.

In nat toestande is chemiese onkruidbeheer meer betroubaar as meganiese beheer omdat onkruide nie rondgeskuif word nie. ’n Skielike reënbui tydens bewerking veroorsaak dat onkruid weer herstel en nog ’n bewerking benodig.

Chemiese beheer kan hardnekkige onkruide beheer wat meganiese bewerking in nat toestande nie sal beheer nie, maar hoe kleiner die onkruid hoe beter die resultate. Moet net nie in die slaggat trap om te dink die dosis of die water kan verminder word nie. ’n Gekweste onkruid is nie maklik om weer dood te kry nie.

Vir chemiese onkruidbeheer is dit noodsaaklik dat produsente hul huiswerk behoorlik doen. Die keuse van die chemie en die aanwending daarvan moet so effektief en doeltreffend moontlik gedoen word. Dit is noodsaaklik dat die landbouchemiese verteenwoordiger produsente bystaan om seker te maak die program sal werk.

Daar kan van mengsels gebruik gemaak word, byvoorbeeld vooropkomsmiddels saam met parakwat direk na plant wat bestaande onkruid sal beheer en nawerking verskaf vir vier tot ses weke na plant. Die gewas moet nog nie opgekom het nie. Parakwat het geen grondwerking nie en die klei in die grond neutraliseer die aktief.

In gewasse soos sojabone en grondbone kan opslagmielies binne in die gewas na opkoms beheer word met produkte soos Poquer of Pantera. Die bespuiting kan selfs klein grassies beheer wat verby die vooropkomsbespuiting gekom het.

Chemiese beheer kan boonop vinniger as meganiese beheer geskied. Spuite of selfs ’n vliegtuig kan groter oppervlaktes vinnig behandel teenoor meganiese bewerking.

Lugtoediening moet egter met groot sorg gedoen word. Maak seker dat daar nie ander gewasse naby is wat beskadig kan word nie en bure moet in kennis gestel word wanneer ’n produsent beplan om lugtoediening te doen.

Chemiese beheer het ook beperkings, byvoorbeeld reën voordat die wagtyd verby is, gewoonlik twee tot vier ure na toediening. Maak ’n merk in die land waar die reën die bespuiting onderbreek het, om te weet waar daar dalk oorgespuit sal moet word. Daar kan ook ’n wagtyd wees vanaf toediening tot plant. Produkte soos Poquer en Pantera het byvoorbeeld ’n wagtyd van vyf dae vanaf toediening voordat mielies geplant kan word.

Die koste van chemiese behandelings wissel na gelang van die produk.

Opslagmieliebeheer kan produkte insluit soos:

  • Velocity Dry, 1 kg/ha @ R18,00
  • Harvest 540, 2,5 liter/ha @ R190,00
  • Poquer, 5 liter/ha @ R102,50
  • Totaal per hektaar is dus R310,50 met ’n wagtyd van vyf dae voordat mielies geplant kan word na toediening.

’n Vooropkomsprogram plus parakwat kan middels insluit soos:

  • Primagram, 2 liter/ha @ R384,00
  • Parakwat, 3 liter/ha @ R165,00
  • Mesoflex, 2 liter/ha @ R63,40
  • Lamdex, 0,07 liter/ha @ R11,55
  • Totaal per hektaar: R623,95

Die toediening kan reg agter die planter geskied wat tyd bespaar en tydige onkruidbeheer verseker. Spuit ten minste 200 liter water/ha om goeie bedekking te verseker aangesien parakwat ’n kontakmiddel is. ’n Goeie benatter kan bygevoeg word om werking te verbeter. Dié program sal klein grasse en breëblaaronkruide beheer.

Vir sonneblom, grondbone en sojabone kan na die volgende program gekyk word wat produkte insluit soos:

  • Metagan, 8 liter/ha @ R178,40
  • Parakwat, 3 liter/ha @ R165,00
  • Lamdex, 0,07 liter/ha R11,55
  • Totaal per hektaar: R354,95

Die produk moet agter die planter toegedien word voordat die gewas ontkiem en bokant die grond is.

Ander metodes van onkruidbeheer
Onkruid floreer op kaal grond. Sodra die grond met stoppers of dekgewasse bedek word, is die onkruide ook beduidend minder. Die plant van hoër plantestande en nouer rye het vir seker ’n nadelige effek op onkruide.

Gevolgtrekking
Slegs meganiese of slegs chemiese onkruidbeheer is dus nie nood­wendig die antwoord nie. Produsente moet die situasie holisties benader in samewerking met ’n chemiese spesialis en vir elke aksie ’n besluit neem wat die onkruide definitief sal dood.

Vir meer inligting kontak Pietman Botha by 082 59 2991 of Johan Dyason by 082 416 0321.