Dié agronomiese en ekonomiese uitdagings pla

Gepubliseer: 2 Oktober 2024

557
Dup Haarhoff, Landboukundige
Dienste, GWK

Lardus Basson, Landboukundige
Dienste, GWK

Besproeiingsprodusente het unieke uitdagings en ’n holistiese benadering ten opsigte van probleemoplossing sal altyd deel uitmaak van hul strategie om oorlewing. Nie net is daar groot agronomiese uitdagings nie, maar die ou probleem van ’n kosteknyptang sal altyd in ag geneem moet word as deel van die strewe na volhoubaarheid, veral met die laaste klompie jaar wat gekenmerk is deur die depresiasie van die rand en wisselende insetkoste.

Grafiek 1 en Grafiek 2 toon die produksiekoste vir mielies en koring vanaf 2019 tot 2024 soos verkry vanaf die ProFarmer-platform (https://info.profarmer.co.za).

Die koste (uitgawes) van produksie het oor die vyfjaartydperk noemenswaardig gestyg – mielies (Grafiek 1) en koring (Grafiek 2) se insetkoste is onderskeidelik 51% en 46% hoër, terwyl marges 25% en 30% laer is. Dit is kommerwekkend, aangesien ’n produsent amper meer as die helfte soveel geld moet bestee vir sy oes, terwyl hy byna ’n kwart minder geld maak as vyf jaar gelede.

Oor dieselfde vyfjaarperiode het die rand met 28% verswak teenoor die Amerikaanse dollar. Dit het ’n effek op produsente aangesien die meeste insette in die wêreldmarkte in dollar geprys word. ’n Trekker van 125 pk (perdekrag) se prys het sedert 2020 tot nou toe met 47% verhoog, wat grootliks aan die rand se depresiasie toegeskryf kan word.

Grafiek 1: Mieliebesproeiingsproduksie 2019 tot 2023.
(ProFarmer, 2024)
Grafiek 2: Koringbesproeiingproduksie 2019 tot 2023.
(ProFarmer, 2024)

Die een voordeel van ’n swakker rand is beter graanpryse, maar soos duidelik gesien kan word in die produksiesyfers hardloop die insetkoste se styging onder die beter graanpryse uit.

Dit begin al hoe belangriker word dat die hulpbronne waarmee gewerk word op ’n volhoubare manier onderhou moet word. Vir die besproeiingsprodusent is veral twee hulpbronne van onskatbare waarde, naamlik grond en water. Die fisiese sowel as die chemiese status van gronde onder besproeiing moet gereeld gemonitor word en die data moet oor tyd geplot word om te sien of die hulpbron volhoubaar bestuur word.

Grafiek 3: Gemiddelde pryse van 125 pk-trekker.
(ProFarmer, 2024)
Grafiek 4: Grane-indeks.
(Dienste, 2024)
Grafiek 5: Totale vrag.
(Transnet, 2024)

Grond
Grondgesondheid en die effek daarvan op grondgedraagde siektes, aalwurms asook die immuunstelsel van gewasse, raak uiters belangrik wanneer daar gestreef word na optimale opbrengste. Daar sal byvoorbeeld binnekort meer geteikende chemiese beheermaatreëls toegepas moet word as die huidige breedwerpige toedienings. Groot risiko’s word geloop onder besproeiingstoestande ten opsigte van chemiese residu waar die opvolggewasse in sommige gevalle binne enkele dae na die oes van die vorige gewas geplant word. In baie gevalle is die simptome van oorgedraagde chemie nie sigbaar op plante nie, maar die groeikragtigheid, immuunstelsel en potensiaal kan beduidend beïnvloed word indien die chemiese residu nie volkome afgebreek is wanneer die opvolg­plante groei nie. Wanneer chemiese middels soos onkruiddoders toegedien word, moet waterkwaliteit, dosisse en afwisseling van produkte in ag geneem word.

Grondbiologie en die gepaardgaande opbou van organiesemateriaalinhoud is ui­ters belangrik om grondgesondheid en balans te handhaaf. Minimum bewerking met die ideale wisselbou sal dus altyd voorkeur geniet.

Water
Waterbeskikbaarheid en die kwaliteit van water bly ’n groot risiko onder besproeiing. Die risiko van veral uitvoerprodukte wat onaanvaarbare hoeveelhede toksiese elemente kan bevat weens swak waterkwaliteit, is ’n groot risiko vir die besproeiings-
produsent. Die koste van elektrisiteit en die volhoubare voorsiening daarvan is van kardinale belang vir tydige watervoorsiening vir gewasse. Ongelukkig kan ’n besproeiingsprodusent nie sonder elektrisiteitskoste oor die weg kom nie. In die sentrale besproeiingsgebied het die elektrisiteitskoste van ’n GWK-besproeiings­produsent sedert 2015 met 84% gestyg. Dit is ’n jaarlikse styging van 10,5% en meer as dubbeld die Reserwebank se inflasiemikpunt van 4,5%.

Besproeiingsprodusente moet besproei en die enigste opsie om die stygende koste te beheer is om effektiewe skeduleringsbestuur toe te pas sodat die regte hoeveelheid op kritieke tye besproei word en oorbesproeiing beperk word. Weens die feit dat daar onder besproeiingstoestande gereeld water toegedien word, is die wortelontwikkeling van die kontantgewasse aangepas by die watersiklusse en dus nie so goed ontwikkel (so diep) soos onder droëlandtoestande nie. Laasgenoemde veroorsaak dat die “tenk” (volume grond) waaruit die plant water gebruik aansienlik kleiner is as onder droëlandtoestande. Indien daar kragonderbre­kings voorkom, is die risiko vir strestoestande weens te min water uiters groot. Produsente het begin plan maak ten opsigte van volhoubare elektriese voorsiening veral by hoë­waardegewasse soos aartappels en uie. Eie energie-opwekking is dus ’n opsie, maar dit is kapitaalintensief.

Klimaat
Klimaat bly een van die grootste faktore wat opbrengste beïnvloed en die laaste paar seisoene het die besproeiingsprodusent die wispelturige klimaat nie vrygespring nie. Die gevolg was oesafnames, veral ten opsigte van die wintergrane in die sentrale dele van die land. Die grafika wys sentrale besproeiingsprodusente se gemiddelde opbrengs uitgedruk as ’n indeks, met die basissyfer vir koring as ’n 8 t/ha-opbrengs en vir mielies ’n 15 t/ha-opbrengs albei as 100. Sedert 2018 is koring se neiging onder die 100-lynbasisopbrengs, teenoor mielies wat ’n stadige opwaartse tendens toon.

Onthou dat dit nie net oormatige hitte en koue is wat die gewasse se opbrengste beïnvloed nie, maar ’n oormaat reën onder besproeiingstoestande veroorsaak anaërobiese toestande wat die plant se wortelgesondheid en voedingsopname beduidend negatief kan beïnvloed. Omdat daar gewoonlik meer water in die grondprofiele is onder besproeiingstoestande, veroorsaak reën in baie gevalle anaërobiese toestande, veral indien gronde nie goed gedreineer is nie. Die vreemde weerpatrone wat deesdae heers, tesame met ’n paar ander faktore, kan ook aanleiding gee tot potensieel hoër vlakke van mikotoksiene.

Kultivarkeuse
Kultivarontwikkeling bly een van die belang­rikste insette om opbrengsverhogings te verkry. Die uitdaging is groot vir saadmaatskappye om kultivars te teel wat hoër opbrengste (met aanvaarbare kwaliteit) kan genereer om sodoende die ekonomiese knyptang te versag. In die sentrale gebiede is gesien dat die mielieopbrengste oor jare bly styg, terwyl koringopbrengste ongelukkig nie dieselfde tendens gevolg het nie.

’n Hewige kopseer waarmee produ­sente sit is die wisselende kommoditeitspryse wat ’n groot invloed het op gewaskeuses. In baie gevalle veroorsaak dit dat swak wisselbou plaasvind met gepaardgaande probleme soos grondgedraagde siektes. Onkruide (veral grasse) het so ’n groot probleem geword dat sekere lande nie meer met koring geplant kan word nie. ’n Onkruidbeheerstrategie is dus van uiterste belang, maar daar moet terselfdertyd verantwoordelik opgetree word wanneer chemiese beheer toegepas word.

Vervoer
Omdat besproeiingsgewasse dikwels hoë­waardeprodukte is wat uitgevoer word, is dit uiters belangrik dat infrastruktuur soos paaie en hawens in stand gehou word. Dit is kommerwekkend dat daar vertragings by uitvoerhawens plaasvind wat ’n geweldige groot risiko vir die uitvoerprodukte inhou. Vanaf die Noord-Kaap word ver afstande afgelê na die uitvoerhawens en vervoerkoste is in die meeste gevalle gekoppel aan staankoste. Die redes vir die vertragings is die agteruitgang van infrastruktuur wat te wyte is aan swak onderhoud. Suid-Afrika se totale vrag hanteer in hawens was minder in 2023 as in 2018, soos deur Grafiek 5 getoon word (Transnet se eie hawesyfers).

Hierdie swak prestasie van Transnet is ’n groot risiko vir enige bedryf in Suid-Afrika, maar veral vir graanprodusente aangesien die padvervoer van graan nie die mees ekonomiese manier is om die produk by markte uit te kry nie (veral vanaf die Noord-Kaap waar graan besonder ver vervoer moet word). Swaar padvervoer vernietig die plaaslike paaie wat ’n negatiewe invloed op bedrywe in landelike gebiede het. Die silwer randjie aan die donker wolk is dat die presidensie ’n taakmag daargestel het om die vervoerkrisis op te los met die samewerking van die tesourie en sakelui in Suid-Afrika.

Natuurlik moet gewasproduksiepraktyke per boerdery geoptimaliseer word. Hiervoor is langtermyndata per land nodig om strategiese besluite te neem ten opsigte van die verskillende faktore wat oesopbrengste beïnvloed en om die ekonomie daarvan te regverdig. Die produsent van die toekoms sal ’n goeie platform moet hê waarop sy eie data gestoor word om sodoende op ’n individuele basis besluite te kan neem. Om ’n volhoubare produsent te wees, word al meer uitdagend (intens) en aandag aan detail per sone in ’n land is uiters belangrik. Die suksesvolle besproeiings­produsent is iemand met ’n holistiese benadering wat die vermoë het om aandag aan detail te gee en wat hom omring met kundiges met die regte etiese waardes, passie en plaaslike ondervinding.