Vooropkomsdoders – rook dit die pyp met onkruidbeheer?

Gepubliseer: 2 September 2024

342
Dr Maryke Craven, LNR-Graangewasse, Potchefstroom

Die kompleksiteit wat met die reaksie van vooropkomsdoders gepaard gaan, asook die noodsaaklikheid van reënval om die produk in die grond in te was en beskikbaar te stel vir opname deur onkruidsade, kan daartoe lei dat verskillende grade van onkruidbeheer in verskillende jare verkry word. Hierdie kompleksiteit lei daartoe dat produsente dié vorm van onkruiddoder as onbetroubaar of wisselvallig beskou.

Ongelukkig is dit so dat die oormatige gebruik van spesifieke onkruiddoders wêreldwyd daartoe gelei het dat verskeie onkruidpopulasies weerstand teen onkruiddoders opgebou het. Dit is opmerklik dat onkruidweerstandigheid tans egter meer voorkom onder na-opkomsonkruiddoders as by vooropkomsonkruiddoders. Die verwagting is dus dat vooropkomsdoders ’n al hoe groter rol sal begin speel in die voorkoming asook beheer van onkruiddoderweerstandige onkruide. Daar word egter internasionaal voorspel dat indien vooropkomsdoders, veral dié met lang residuele werking, opeenvolgend oor seisoene heen toegedien word, onkruide ook weerstand teen hierdie onkruiddoders sal ontwikkel. Om hierdie scenario te probeer vermy en sodoende die bestaande poel onkruiddoder­aktiewe (die aktiewe bestanddeel in ’n onkruiddoder) te bewaar, is die implementering van ’n geïntegreerde onkruidbeheerstra­tegie, wat wisselbou en rotering van die aktiewe insluit, van deur­slaggewende belang.

Vooropkomsdoders
Vooropkomsdoders word normaalweg voor gewasopkoms toegedien en beïnvloed die ontkieming van onkruide. Hierdie onkruiddoders het elk hul eie graad van residuele nawerking en vereis dat hulle of ingewerk word (voorplant-onkruiddoders) of ingewas word deur ongeveer 10 mm tot 15 mm reënval binne sewe tot tien dae van toediening. Gewasspesifieke na-opkomsdoders word toegedien wanneer die gewas en onkruid opgekom het.

Op hul eie kan vooropkomsdoders gewoonlik nie genoegsame volseisoenbeheer verleen nie en word dit saam met na-opkomsdoders vir effektiewe onkruidbeheer gebruik. Ten spyte hiervan hou die insluiting van vooropkomsdoders in ’n geïntegreerde onkruidbeheerprogram voordele in. Hulle bied ’n alternatiewe metode van werking (mode of action) wat die ontstaan van weerstandige onkruide sal help teenstaan en help verwyder van die vroeëseisoen-onkruidkompetisie.

Interaksies met grond
’n Vooropkomsdoder is egter onderhewig aan verskeie interaksies met die grond asook die omgewing wat sy direkte fitotoksisiteit (skadelikheid vir die gewas) en afbraak sal bepaal. Van hierdie interaksies word bepaal deur:

  • die oplosbaarheid;
  • bindingsvermoë aan gronddeeltjies en organiese materiaal;
  • grondfaktore en -struktuur;
  • katioonuitruilingskapasiteit en pH;
  • vlugtigheid;
  • omgewingstoestande en grondwater; asook
  • die dosis.

Invloed van stoppels
As gevolg van die invloed wat stoppels op die effektiwiteit van vooropkomsonkruiddoders kan hê, is die vraag onder minimum- of geenbewerkingspraktyke altyd of die uitgawe wat aangegaan word vir dié tipe middel die potensiële voordele regverdig. Die teenwoordigheid van enige plantmate­riaal kan daartoe bydra dat die onkruiddoder nie die grondoppervlak kan bereik nie en met die stoppel bind sodat dit nie beskikbaar is vir opname deur die onkruide nie. Voorts kan die teenwoordigheid van enige staande plantmateriaal oneweredige grondbedekking deur so ’n onkruiddoder veroorsaak. Ui­teraard sal onkruide dan in staat wees om in hierdie onbehandelde kolle te ontkiem.

Produsente moet egter kennis neem dat vooropkomsdoders in vele opsigte van mekaar kan verskil weens elk se unieke eienskappe. Die vermoë van ’n onkruiddoder om aan stoppel te bind word onder andere bepaal deur die oplosbaarheid en vermoë daarvan om aan organiese materiaal te bind (Tabel 1). ’n Sprekende voorbeeld hiervan is trifluralien, ’n aktiewe bestanddeel wat moeilik of swak oplosbaar is en ’n uiters hoë adsorpsiekoëffisiënt het. So ’n tipe aktief vereis nat toestande om in die grond geïnkorporeer en opgeneem te kan word en het boonop die vermoë om sterk aan organiese materiaal te bind.

Onkruiddoders met byvoorbeeld dimetenamied-P as aktief, is weer hoogs oplosbaar, wat verseker dat dit minder vog nodig het en makliker die grondprofiel sal binnedring, terwyl dit minder geneig is om bindings te vorm met gronddeeltjies of organiese materiaal wat binne in die grondprofiel voorkom. Hierdie soort aktiewe verkies om in oplossing te bly en bly dus geredelik beskikbaar vir opname deur ontkiemende onkruide. Die nadeel van so ’n hoogs oplosbare aktief met ’n swak adsorpsiekoëf­fisiënt is egter die geneigdheid om uit die optimale sone te loog. Die gevaar bestaan dus dat dit ondergrondse waterprofiele kan kontamineer.

Volgens Barry Haskins van Nieu-Suid-Wallis se Departement van Primêre Nywerhede in Australië, sal die meeste vooropkomsdoders nog effektief wees in lande met minder as 50%-stoppelbedekking. Met stoppelbedekking van meer as 50% sal die vooropkomsdoder steeds werk, maar dalk nie tot die volle potensiaal nie. Dit is dus raadsaam om ’n tegniese adviseur te kontak sodat die beste keuse gemaak kan word wanneer onkruiddoders op stoppel toegedien word.

Riglyne vir toediening
Sodra daar op die gepaste vooropkomsonkruiddoder besluit is, is daar riglyne wat gevolg kan word om die mate waartoe die onkruiddoder deur die stoppel onderskep word, verder te beperk.

  • Die spoed waarteen die onkruiddoder toegedien word, moet minder as 16 km/uur wees.
  • Groter druppels wat vinniger kan beweeg is voordelig. ’n Tegniese adviseur kan hier van hulp wees om te besluit watter tipe spuitkoppe die vereiste druppelgrootte en spoed sal gee.
  • Nadat besluit is op die gepaste spuitkop, moet die hoek waarteen die spuitkop die doder toedien aangepas word by die spoed waarteen dit toegedien word om te verseker dat die druppels direk afwaarts deur die stoppel beweeg.
  • Hoë watervolumes dra by tot ’n verhoogde hoeveelheid druppels wat toegedien kan word.
  • Die instel van die spuitbalkhoogte sal die effektiwiteit van die toediening bepaal. Sorg dat daar genoegsame oorvleueling van die produk op die spuitoppervlakte plaasvind.

Resultate van proewe
Ter illustrasie is vooropkomsonkruiddoderproewe die afgelope twee seisoene by Bethlehem (in 16%-kleigrond) uitgevoer om die effektiwiteit van verskeie vooropkomsdoders onder standaardgrondbewerkings­praktyke te evalueer (Foto 1). Grasagtige onkruide se kieming en groei is in die persele waar die produk toegedien is vergelyk met dié in aangrensende persele wat onbehandel was (kontrole). Die doel was om te bepaal hoe lank die grasonkruide sou neem om 10% van ’n perseel te bedek. Die tydperk wat dit die onkruide geneem het om behandelde persele te bedek teenoor dié in onbehandelde persele gee ’n aanduiding van hoe lank die doders beheer verleen het.

Grasbeheer is tot ongeveer sewe weke na toediening verkry met 21 vooropkomsonkruiddoders toegedien in 16%-kleigronde (Bethlehem) gedurende die 2023/2024-seisoen. Die groen blokke verteenwoordig onbehandelde persele.

Om uniform te bly vir hierdie studie het die doders (met die verskillende aktiewe) wat geëvalueer is, dieselfde tipe formulasie gehad en is almal teen die laagste aanbe­vole dosis toegedien. Asetochloor-produkte is dus toegedien teen 966 g aktiewe bestanddeel (a.i.)/ha, s-metolachloor 915-produkte teen 640 g a.i./ha en s-metolachloor 960-produkte teen 288 g a.i./ha.

Die 2022/2023-seisoen was baie nat (796,5 mm reën van 1 November 2022 tot 30 April 2023) en die doders het in hierdie toestande tussen een en vier weke beheer gegee. In die droër 2023/2024-seisoen (389 mm van 1 November 2023 tot 30 April 2024) het dieselfde doders weer vier tot sewe weke se beheer getoon (Foto 1). Beide seisoene het genoegsame reënval gehad om die on­kruiddoder in te was, maar die daaropvolgende hoeveelheid reënval het drasties verskil.

Oor die algemeen was grasontkieming en -groei traag gedurende die 2022/2023-seisoen as gevolg van die lang tydperke waarin bewolkte weer geheers het asook versuiptoestande wat die kieming van die onkruidsaad gestrem het. Dit het veroorsaak dat die onbehandelde persele langer as normaal gevat het om grondbedekking van 10% te bereik. Die verwagting was ook dat die oormaat reënval tot verhoogde afloop en loging van die produkte sou lei. Ten spyte daarvan het van die produkte steeds tot vier weke beheer getoon. Die dimetenamied-P-produk het net een week beheer getoon omdat hierdie produk hoogs oplosbaar en matig mobiel is (m.a.w. dit het ’n matige adsorpsiekoëffisiënt). Dit beteken dat dimetenamied-P veral in sanderige gronde maklik sal loog. Mesotrioon is ook hoogs oplosbaar en matig mobiel, maar het effens beter beheer van twee tot drie en ’n half weke getoon (Figuur 1).

Figuur 1: Weke beheer verkry met verskeie vooropkomsonkruiddoders gedurende 2022/2023 (A) en 2023/2024 (B).
Alchrl = alachloor; Actchlr = asetochloor; Methlr = metolachloor; S-moc = s-metolachloor;
Mstrne = mesotrioon; Psfne = piroksasulfoon; Dmid-P = dimetenamied-P.

In die droër 2023/2024-seisoen is heelwat langer en soortgelyke beheer by al die produkte verkry (Figuur 1). Al is voor­opkomsdoders meer gerig op die beheer van grasse, is breëblaaronkruide soos misbredie en kakiebos ook goed beheer, veral gedurende die 2023/2024-seisoen (Foto 2 a en b). Met glifosaatweerstandige misbrediepopulasies wat onlangs in KwaZulu-Natal geïdentifiseer is, kan produsente hul produkadviseurs kontak oor vooropkomsdoders wat volgens etiketspesifikasies kan help met die beheer van misbredie.

Beheer van misbredie en kakiebos: a) 21 dae na toediening en b) nege weke na toediening.

Produsente is welkom om dr Craven met enige verdere vrae te kontak by 018 299 6100.

Bronne

  1. Congreve, M. 2022. Pre-emergent herbicides – fact sheet. Grains research and development Corporation, Australia.
  2. Haskins, B. Using pre-emergent herbicides in conservation farming systems. State of New South Wales. https://www.dpi.nsw.gov.au