Wanneer familie saam boer

Karina Muller, SA Graan/Grain-medewerker
Gepubliseer: 1 Maart 2023

940

Deel 2 – Besin deeglik oor ondernemingsvorme

In hierdie aflewering van die reeks oor familieboerderye word ondernemingsvorme en die verdeling van eienaarskap van familieboerderye onder die soeklig geplaas.

Jare gelede het grond aan ’n (manlike) eienaar behoort, sy vrou het dikwels sonder vergoeding gehelp werk en sy oudste seun het die plaas geërf. Daardie tye is vir ewig verby. Ondernemingsvorme is ’n saak waaroor elke familie behoorlik moet besin, aangesien dit implikasies vir die oorlewing van die familieboerdery inhou.

In die boek Familieboerderye in Suid-Afrika deur Elmarie Venter, Theo Vorster en George Robertson, word na vier ondernemingsvorme verwys – die eenmansaak, vennootskap, private maatskappy en trust.

Eenmansaak
Kleiner boerderye word dikwels as ’n eenmansaak bedryf. Dit is relatief maklik om ’n eenmansaak op die been te bring omdat geen formaliteite nodig is nie. Die individu dryf handel in sy eie naam en hy dra gevolglik al die risiko’s.

Vennootskap
In ’n vennootskap gaan twee of meer mense ’n ooreenkoms aan om ’n onderneming tot hul wedersydse voordeel te bedryf. Hierdie ooreenkoms reguleer ook die verdeling van wins en verlies tussen die betrokke partye, asook die regte en verpligtinge van elke vennoot.

Dit is maklik om ’n vennootskap te vestig; die ooreenkoms kan skriftelik of mondelings geskied.

Die vennootskap betaal nie belasting nie; die vennote word in hul individuele hoedanigheid vir belasting aanspreeklik gehou. Voorts is die vennootskap nie ’n regspersoon nie en die vennote is gesamentlik en afsonderlik vir enige skuld aanspreeklik.

Private maatskappy
Dit is ’n regspersoon met beperkte aanspreeklikheid en individue, trusts en/of maatskappye kan aandeelhouers wees.

’n Maatskappy het beperkte aanspreeklikheid en die direkteure en aandeelhouers is nie verantwoordelik vir die verpligtinge daarvan nie. As die maatskappy egter roekeloos handel, kan die direkteure persoonlik vir die verpligtinge van die maatskappy aanspreeklik gehou word.

Dit is duurder om ’n private maatskappy te bestuur en te admini­streer as ’n eenmansaak of vennootskap.

Trust
Dit is nodig om tussen ’n inter vivos (lewende) en ’n testamentêre trust te onderskei. Deur ’n trust kan eiendom (soos grond) aan trustees oorgedra word wat die trust administreer en die trustbates ten gunste van die begunstigdes aanwend óf die eiendom kan aan die begunstigdes oorgedra word en (ten gunste van die begunstigdes) deur die trustees beheer en bestuur word.

’n Trust het beperkte aanspreeklikheid en die trustees en begunstigdes word nie persoonlik vir die geldelike verpligtinge van die trust verantwoordelik gehou nie. Verder het ’n trust afsonderlike bestaans­reg en dit word nie deur die afsterwe of deregistrasie van ’n begunstigde of trustee beëindig nie.

Dit is goedkoper om ’n trust te bestuur en te administreer as ’n maatskappy.

Alvorens daar besluit word watter ondernemingsvorm om te handhaaf, moet die familie ook besin oor die langtermyndoelwitte van die onderneming, watter regte ’n volgende geslag (die kinders) gaan verkry en dan ook of bates en ondernemings gelykop tussen hulle verdeel gaan word. Daar is drie modelle om te oorweeg.

Gelykeverdelingsmodel
Dit gaan daaroor dat kinders na die afsterwe van hul ouers in gelyke dele bevoordeel word. Hoewel gelykheid as regverdigheid beskou word, moet ook bepaal word wat die situasie met onaktiewe lede van die familie sal wees. Sal hulle byvoorbeeld aanspraak op gelyke verdeling van kapitale opbrengs kan maak?

Ongelykeverdelingsmodel
Hierdie model is daarop geskoei dat die kind wat gaan boer die plaasgrond erf en dat die ander kinders kontant, beleggings of ander nielandbougerigte eiendom erf. Die voortbestaan van hierdie model is makliker, aangesien die familie nie die probleem het dat die boerdery – wat stadiger as die familie groei – in gelyke dele verdeel moet word nie.

Geenregtemodel
Dit is daarop geskoei dat geen familielid die reg of verwagting het dat die familieboerdery se bates gerealiseer gaan word nie. ’n Familietrust bly die aandeelhouer van die maatskappy/e wat die grond besit.

Schoeman-boerdery
In die geval van Schoeman-boerdery, ’n megaonderneming met verskeie vertakkinge, word die bedrywighede deur ’n maatskappy beheer. Binne die maatskappy is ook trusts (inter vivo en testamentêr).

Die onderneming het ’n familiegrondwet wat opge­stel is deur Kallie Schoeman, derdegenerasiefamilielid in die onderneming, en dit word elke vyf jaar hersien. Hiervolgens word die onderneming deur die familieforum beheer wat volgens die bepalings van die Maatskappywet optree.

In die grondwet is verwysings na die familie as soda­nig met bepalings dat die familie met Christelike waardes teen­oor mekaar sal optree, mekaar sal ondersteun in slegte tye en vreugdes sal vier en dat kinders by die boerdery sal leer al is hulle nie regstreeks betrokke nie.

Daarin word ook na die onderneming en eienaarskap verwys. Die status van hierdie grondwet is so bindend soos ’n aandeelhouersooreenkoms en al die lede van die familie, funksionarisse en aandeelhouers verbind hulle daartoe.

Daar is ook riglyne vir toetrede tot die ondernemings van Schoeman-boerdery, soos dat familie voorkeur in die bestuur van die onderneming kry, maar daarby dat hulle behoorlik gekwalifiseer moet wees en elders werkservaring opgedoen het voor hulle tot die familie-onderneming toetree.