Graansorghum – mossie maar man

Pieter Rademeyer, Pannar Saad
Gepubliseer: 8 September 2020

2106

Graansorghum speel ’n belangrike stabiliserende rol in die somergraan-produksiegebiede as gevolg van sy beter droogteverdraagsaamheid op margi­nale en swaarder gronde in vergelyking met mielies. Onder hierdie omstandighede dien dit as ’n goeie alternatiewe gewas.

Sorghum blyk meer winsgewend as mielies te wees, maar weens die grootte van die mark is dit nie ideaal om sorghum sonder ’n kontrak aan te plant nie. Graansorghum is veral sensitief vir swamsiektes. Daar is ook wel ’n paar virus- en bakteriële siektes wat in Suid-Afrika op sorghum voorkom. Gewoonlik gaan siektes gepaard met opbrengs en graankwaliteit wat negatief geraak word.

Pannar streef daarna om siektevrye saad, standaardsaadbehandeling en basters met goeie siektetoleransie daar te stel. Dit is egter belangrik om plae soos die Chilo-stamboorder, mieliestamboorder, plantluise en bolwurm te monitor en te beheer indien infestasies die drumpelwaardes bereik. Bolwurm is die een wat gewoonlik die meeste skade aanrig.

PAN 8816 is agronomies goed gebalanseerd en word vir al die graansorghum-produksiestreke aanbeveel.

Belangrike verbouingsaspekte
Die klein sorghumplantjie is sensitief vir onkruiddruk en die land moet veral op ’n jong stadium so skoon as moontlik gehou word om kompetisie vir voedingstowwe en water uit te skakel. Omdat die sorg­humsaad klein is, is ’n fyn saadbed nodig vir optimale grond-tot-saad-kontak. Tydens die vlagblaarstadium, net voor die aar verskyn, is die sorghumplant ook baie sensitief vir lae temperature. Dit is die stadium net voor die ontwikkeling van stuifmeelkorrels.

By temperature van 10ºC en laer kan stuifmeelontwikkeling tot so ’n mate benadeel word dat steriele stuifmeel geproduseer word. So min as twee ure teen sekere besonder lae temperature kan manlike steriliteit veroorsaak, wat tot steriele are aanleiding kan gee. Die vroulike gedeelte van die aar (blom) word nie in dieselfde mate deur die lae temperature benadeel nie. Pannar se basters het goeie kouetoleransie wat ’n voordeel inhou vir die koeler produksiegebiede.

Let daarop dat indien 2.4D-onkruiddoder nie volgens die etiketaanbeveling gebruik sou word nie, dit soortgelyke gevolge sal hê. Ergot kom dan voor – die hele aar sal deur die swam besmet wees met ’n taai voorkoms. Hierdie pitte en druppels dien in die toekoms as besmettingsbron, sou daar weer graansorghum op die land geplant word.

Indien daar laat in die seisoen ’n bolwurminfestasie voorkom, moet daar van ten minste twee verskillende chemiese groepe in kombinasie gebruik gemaak word om die pes effektief te bestry, aangesien die bolwurm baie weerstandig is teen die meeste sintetiese peritroïedes.

Basterkeuse
Pannar se graansorghumbasters beskik oor goeie stabiliteit en sorg vir gemoedsrus.

PAN 8816
PAN 8816 presteer oral goed en word as hoofaanplanting vir al die graansorghum-produksiestreke aanbeveel. Dit beskik oor ’n korter planttipe met goeie algemene blaarsiektetoleransie en ’n half oop aar vir maklike insekbestryding. ’n Groot bonus is sy toleransie teen aarbrand. Die baster is grootsadig, dors maklik, lewer ’n goeie skepelmassa, gradeer GM en beskik oor goeie moutgehalte.

PAN 8625
Hierdie spesialiteitbittersorghum is wyd aangepas en beskik oor uitstekende opbrengsprestasie en agronomiese eienskappe. Die baster toon goeie toleransie teen aarbrand. Dit bied ’n oplossing in gebiede waar groot probleme met voëlskade ondervind word. Dit gradeer GH met ’n hoë moutwaarde. Die mark vir GH-sorghum is egter baie beperk en produsente moet eers ’n afsetgebied verseker voor die baster aangeplant word.

Standaardsaadbehandeling
Pannar se sorghumsaad word standaard met Concept® (onkruiddoderbeveiliger), Celest® (swamdoder) en Cruiser® (insekdoder) behandel.

Concept® 960EC (L5051) is ’n saadbehandelingsmiddel wat graansorghum teen die fitotoksiese effek van die onkruiddoders Dual Gold (L5749) of Metagan Gold (L5748) beskerm.

Celest® XL (L6363) is ’n breëspektrumswamdoder met kontak- en sistemiese eienskappe met residuele aktiwiteit vir die beheer van saadverrotting en saailingverwelksiekte.

Cruiser® (L7546) is ’n sistemiese insekdoder vir die beheer van verskeie plae en het ’n maag- en kontakaksie met ’n lang nawerking.

Pannar se kultivars lewer goeie stabiele prestasie en bied gemoedsrus aan die produsent. Klop gerus by Pannar se ervare span landboukundiges aan vir goeie raad en ondersteu­ning.