Klein maar getrain

Gepubliseer: 14 November 2025

285

Oktober se held: Annerette Meyer

Annerette Meyer, Oktober se wenner van die Graan SA/John Deere My Hero-kompetisie.

Annerette Meyer mag dalk net elf jaar oud wees, maar behalwe dat sy nóú al weet dat sy ’n groot liefde vir boer-dery het, bedryf sy ook reeds haar eie hoenderboerdery. Haar passie vir boer kom saam met ’n verantwoordelikheidsin wat jy nog geensins van ’n kind verwag wie se hoeveelheid kersies op haar verjaardagkoek net nou die dag nog maar twee hande vol was nie.

Mariëtte Meyer, Annerette se ouma, het haar as haar held genomineer.

“My kleindogter bestuur met groot toewyding haar eie klein onderneming waar sy hoenders aanhou, eiers versamel en met behulp van ’n broeikas uitbroei. Sy weet presies wat die temperature, vogvlakke en uitbroeisyfers is en hou deeglik rekord daarvan. Sy neem haar boerdery baie ernstig op,” vertel Mariëtte Meyer trots.

Annerette het op hulle plaas buite Groblersdal grootgeword en het al op nege met boerbokke begin boer. Sy het later na hoenders oorgeskakel waar sy hulle self voor en weer ná skool versorg. Haar boerdery spog met drie teelhane en 30 henne, en sy het al niks min-der nie as 200 kuikens in die broeikas uitgebroei. “Sy verkoop van die eiers en kuikens om haar voerkoste te dek. Haar pa leer haar hoe ’n besigheid se finansies werk en het haar met ’n lening gehelp om haar boerdery op die been te kry. Dié lening betaal sy getrou met rente terug en alhoewel pa so nou en dan ’n ogie oor haar boekhouding gooi, hanteer sy alles self.”

Uitdagings soos wilde katte is oorkom deur die hokke met jakkalsdraad te beveilig. Saans word al die hoenders in ’n toegeboude hok toegemaak. “Behalwe vir finansiële dissipline en die vele besigheidsaspekte wat die hoenderboerdery my kleindogter leer, leer dit haar eintlik soveel meer oor die lewe. Dit verg verantwoordelikheid, want lêhoenders vra konstante sorg en presiese omgewingstoestande.

“Sy moet ook kreatief dink om koste so laag as moontlik te hou en het ter wille van volhoubare voedselaanvullings begin om met erdwurms en swart soldaatvlieë (black soldier flies) te boer. Organiese boerdery kweek geduld, waarneming en sorg. Dit vereis holistiese denke waar jy uit jou foute maar ook uit jou sukses leer.”

Omdat Annerette self kos, hokke, broeikaste en voer moet koop, sien sy hoe vinnig geld verdwyn en hoeveel moeite dit kos om wins te maak. As daar te veel aan voer spandeer word of nie genoeg vir siektes beplan word nie, leer sy uit ervaring.

“Sy besef dat geld nie net uit die lug val nie, maar dat dit harde werk en goeie beplanning verg. Sy is trots op haar handewerk wanneer sy aan die einde van die maand sien hoeveel sy kon spaar en hoeveel kuikens by haar boerdery gevoeg kon word. Haar besigheid leer haar ook meer oor regverdigheid. Sy betaal haar boetie (agt) en sussie (vyf) uit haar snoepiegeld wanneer hulle haar met takies in die hokke help.”

Ouma Mariëtte het groot respek vir haar kleindogter se entrepreneurskap. “Sy neem besluite, leer uit ervaring en boer voort ten spyte van uitdagings. Dit maak haar in my oë ’n ware held.”