Chemiese mark: nuwe regulasies, produkpryse en implikasie vir produsente

Gepubliseer: 2 September 2025

1073
Marguerite Pienaar, landbou-ekonoom, Graan SA, marguerite@grainsa.co.za
Strelza van Aardt,
landbou-ekonoom-intern,
Graan SA,
strelza@grainsa.co.za

DIE GEBRUIK VAN CHEMIE IN LANDBOU IS ’N ONMISBARE PILAAR VAN MODERNE VOEDSELPRODUKSIE. DIT STEL PRODUSENTE IN STAAT OM UITDAGINGS SOOS PLAE, SIEKTES EN ONKRUID DOELTREFFEND TE BESTUUR.

In Suid-Afrika speel hierdie chemikalieë ’n sleutelrol in die handhawing van volhoubare opbrengste, veral te midde van toenemende ekologiese en ekonomiese druk. Die bedryf ervaar egter tans ’n mate van onseker­heid, aangesien veral regulatoriese ver­anderinge die beskikbaarheid én koste van hierdie produkte beïnvloed.

Regulatoriese omgewing in Suid-Afrika se chemiese mark
Die Suid-Afrikaanse landbouchemiese be­dryf ondergaan tans beduidende regulatoriese veranderinge, veral met betrekking tot die hantering van “beperkte landboumiddels”. Volgens die plaagbeheerope­rateur-regulasies (PCO-regulasies) moet alle eindgebruikers van hierdie middels ’n geldige PCO-registrasie hê óf onder direkte toesig van ’n geregistreerde PCO werk. Hierdie vereiste het nuwe momentum gekry met die klassifikasie van sekere middels as hoogs gevaarlik, wat beteken dat produ­sente nou formele opleiding en praktiese ondervinding moet hê om hierdie middels wettig te gebruik. Die koste en logistieke vereistes van hierdie proses dra by tot nog ’n hekkie waaroor produsente moet spring.

Graan SA het in Augustus 2025 ’n geakkrediteerde PCO-kursus geloods sodat produsente beperkte landboumiddels wettig kan aanwend. Die kursus, wat slegs vir opbetaalde Graan SA-lede aangebied word, is ontwerp om aan die vereistes van Wet 36 van 1947 te voldoen. Hierdie inisiatief poog om die regulatoriese las vir produsente te verlig en toegang tot noodsaaklike chemikalieë te verseker, terwyl dit ook volhoubare en veilige gebruik van plaagdoders bevorder (sien volledige stap-vir-stap-gids oor hoe om ‘n PCO-registrasie te doen).

Benewens die PCO-regulasies is daar ook ’n groeiende lys van “rooiband”-middels – chemikalieë wat as toksies of gevaarlik geklassifiseer word en waarvoor chemiemaatskappye spesiale toestemming benodig om met die produksie daarvan aan te hou. Hierdie derogasie-aansoeke vereis ’n toksikologiese risiko-ontle­ding en openbare kommentaar voordat goedkeuring gegee word. Die proses is deel van die regering se breër strategie om hoogs gevaarlike middels uit te faseer. Vind die volledige lys van rooibandmiddels deur op die skakel te kliek : https://sagrainmag.co.za/wp-content/uploads/2025/08/Rooibandmiddels.pdf

Prys van internasionale landbouchemiese middels
Grafiek 1 oor swamdoders toon ’n duidelike afname in die gemiddelde pryse van verskeie aktiewe bestanddele. Metolachloor het die grootste daling getoon van ongeveer -33,6%, gevolg deur trifluralien (-24,5%) en asetochloor (-19,4%). Vir produ­sente beteken dit ’n korttermynverligting in insetkoste, maar dit moet teen die agtergrond van regula­toriese onsekerheid en langtermynbeskikbaarheid geëvalueer word.

Grafiek 1: Gemiddelde prysverandering in swamdoders.

Die prysveranderings vir onkruiddo­ders (Grafiek 2) weerspieël ’n soortgelyke patroon as dié van swamdoders, met al vyf aktiewe bestanddele wat ’n negatiewe prysverandering toon. Metolachloor en trifluralien het die grootste dalings getoon, wat aandui dat produ­sente moontlik voordeel kan trek uit laer pryse vir onkruidbeheer.

Grafiek 2: Gemiddelde prysverandering in onkruiddoders.

In teenstelling met die ander twee kategorieë, toon Grafiek 3 vir insekdoders ’n gemengde prentjie. Sipermetrien het ’n prysstyging van ongeveer 14,4% getoon, terwyl die res – insluitend imidaklopried en asetamipried – ’n afname in prys ervaar het.

Grafiek 3: Gemiddelde prysverandering in insekdoders.

Wat gebeur in die plaaslike chemiemark?
Grafiek 4 dui die kosteberaming vir plaaslike chemiepryse aan. Die invoerkoste van die aktiewe en die wisselkoers is rofweg verantwoordelik vir 55% van die prys van plaaslike chemie.

Grafiek 4: Kostefaktor van chemiepryse.

Samevatting
Die landbouchemiese bedryf in Suid-Afrika staan tans in ’n tydperk van vinnige verande­ring, waar regulatoriese aanpassings, internasionale markdruk en plaaslike strukturele uitdagings saam ’n komplekse speelveld vir produsente skep.

Alhoewel pryse van sekere aktiewe bestanddele in 2025 gedaal het, bring nuwe wetgewing en lisensievereistes, soos dié van die PCO-stelsel, addisionele administratiewe en finansiële laste mee.