Vlammehel bevestig opnuut hierdie boerseun se liefde vir landbou

Gepubliseer: 29 Augustus 2025

426

Augustus se held: Frikkie Tolmay

Frikkie Tolmay, Augustus se wenner van die Graan SA/John Deere My Hero-kompetisie, wat ondanks ’n brand waarin hy erge brandwonde opgedoen het, steeds ‘n boer in murg en been bly.

Op 11 Augustus 2024 het die Tolmays van die Fochville-omgewing se le­wens onherroeplik verander toe ’n verwoestende brand op die plaas uitgebreek het. Die gebeure wat daardie dag en in die maande daarna afgespeel het, het Helena Tolmay laat besluit om haar seun, Frikkie (19), as haar held vir die Graan SA/John Deere My Hero-kompetisie te nomineer.

Helena Tolmay, Frikkie se ma, het hom as haar held genomineer.

“Ek sien Frikkie as my held vir sy onbaatsugtige liefde vir sy medemens en sy uitsonderlike dryfkrag in ’n baie traumatiese tyd in sy lewe. Dit maak hom in my oë ’n wenner op ’n baie jong ouderdom,” vertel Helena.

“Toe die brand daardie dag, nou reeds ’n bietjie meer as ’n jaar gelede, na ons plaas versprei het, was net ek, Frikkie, ons werkers en hulle gesinne op die plaas. My man is reeds vroeg daardie Sondagoggend na die naburige plaas om te help om die vuur te probeer keer, maar die wind het teen ons gewerk,” onthou sy.

“Ek het histeries geraak toe ek besef hoe vinnig die brand versprei en hoe magteloos ons teen die vlamme is. Frikkie was die een wat kalm gebly het en deur alles kopgehou het. Hy het gehardloop om die beeste en perde se kamp oop te maak sodat hulle kon vlug.”

Hierna het hy gejaag om hulle werkers se vrouens en kinders te gaan haal en hulle na veiligheid te bring. Die vuur het hulle by die brug oorval en bo-oor die bakkie gespring. “In die proses om almal te beskerm, het hy verskeie derde- en vierdegraadse brandwonde en senuweeskade opgedoen, onder andere aan sy oor, arm en hand.”

Om sake verder te bemoeilik was Frikkie in sy matriekjaar, besig met rekordeksamen, en moes hy twee keer teater toe gaan. Die pyn en behandeling het meegebring dat hy eers laat in September sy eksamen kon voltooi. Twee weke daarna het hy met ’n baie seer hand eindeksamen begin skryf. “My kind het nooit gekla oor die pyn of homself jammer gekry nie, en hy kon boonop te midde van bitter moeilike omstandighede steeds matriek slaag.”

Frikkie is tans ’n student aan Peritum Agri Institute in Bloemfontein waar hy ’n kursus in diereproduksie volg. Wanneer hy nie by die kollege is nie, boer hy saam met sy pa, Frikkie Tolmay senior, op hulle familieplaas, Eigenaarsfontein, waar hy veral by die vee betrokke is en hulle Dormer-stoet bestuur. Verder het hy ook begin om van die produsente in hulle omgewing se beeste te bemark en te verkoop. Helena se hart sit in haar oë wanneer sy van haar kind praat: “Ek is ’n baie, baie trotse ma.”