
Julie se held: Ollie van den Hever
Vir Ollie van den Hever (48) is landbou veel meer as net sy brood en botter.
Hierdie graanspesialis van Centurion sien landbou as iets wat hom gevorm het sedert hy in die Karoo gebore en grootgeword het. Dit maak ’n groot deel van sy menswees uit en het ook ’n impak gehad op sy loopbaankeuse.

Thinus du Toit, Ollie se rekenmeester, kom gereeld by die Van den Hevers aan huis. “Ollie is ’n sprekende voorbeeld van ’n kliënt wat ’n vriend geword het. Sy waardes en uitkyk op die lewe is iets om na op te kyk. Dit is veral wanneer ’n tienerseun met soveel agting oor sy pa praat dat jy weet jy het met ’n man van inbors te doen.”
Dit was juis na ’n gesprek met Gavin (14), Ollie se oudste, dat Thinus besluit het om ’n handjie by te sit en Ollie namens sy seuns as hulle held vir die Graan SA/John Deere-kompetisie te nomineer. “Ek is eintlik maar net die kinders se spreekbuis en wou graag help om die respek en liefde wat hulle vir hulle pa het, te verwoord.”
Gavin gaan skool by Hoërskool Zwartkop en Liam (12), wat op die outismespektrum is, is bedags by Primo Invictus, ’n skool wat fokus op outisme en spesiale behoeftes. “Wanneer Gavin en Liam vir hulle pa kyk, kan jy sommer die agting op hulle gesigte sien. Dit gaan nie oor pryse of titels nie, dit gaan oor die liefde wat hy vir sy kinders gee, elke dag.”
Soggens laai Ollie die kinders by die skool af en ry dan na Delmas waar hy bedags sy besigheid, Grain Management Group, bestuur. Om graan te bemark hou hom naby aan landbou, al het hy die stadsliggies bo die plaas gekies. “Hy verhandel nie net graan nie, hy bou verhoudinge, hy bou mense – nes hy sy kinders bou. Ollie werk bitter hard. Hy wil die beste vir sy kinders hê en probeer veral ook om vir Liam die beste lewe moontlik te gee. Jy hoor hom net eenvoudig nooit kla nie, al gaan dinge nie altyd maklik nie.”
Gavin is al oud genoeg om te vertel hoe sterk sy pa is as dinge moeilik raak, hoe sag hy is wanneer hulle troos nodig het, en hoe standvastig hy is wanneer hulle onseker voel. Dit is duidelik dat hierdie graanman en trotse pa die waardes waarmee hy as plaaskind grootgemaak is, lééf: deursettingsvermoë, harde werk en medemenslikheid.
“Ollie is werklik sy kinders se held – nie omdat hy dit móét wees nie, maar omdat hy kiés om dit te wees.”











