
Grond bestaan hoofsaaklik uit minerale, lug, water en organiese materiaal. Die minerale fraksie kan uit verskillende groottes deeltjies bestaan. Deeltjies groter as 2 mm in deursnee word as gruis of rotsfragmente geklassifiseer en word nie as grond beskou nie. Dit is dus die fraksie wat deur ’n 2 mm-sif kan gaan wat as grond gesien word. Sand se grootte wissel van 2 mm tot 0,05 mm en dié van slik tussen 0,05 mm en 0,002 mm. Die fraksie kleiner as 0,002 mm word as klei beskou. Grond bestaan dus uit sand, slik, klei, lug, water en organiese materiaal. Die sand-, slik- en kleikomponente in die grond wissel om verskillende soorte grond te skep – elk met sy eie eienskappe.
Elke produsent se plaas het ’n variasie in grondeienskappe. Indien dit moontlik is om die grondeienskappe digitaal op kaarte vas te lê en te verstaan, het die produsent die geleentheid om insetkoste meer optimaal te bestuur. Kundiges met jare se ondervinding asook goeie bewyslewering van suksesvolle digitalisering van grondeienskappe is beskikbaar in die bedryf om die produsent tot diens te wees in hierdie verband. SGS, NWK en Soil & Crop Consult is voorbeelde van sulke besighede. Die produsent moet net sy huiswerk doen voor hy op ’n individu of instansie besluit om hom by te staan. Hoe meer akkuraat die opname en voorspellings, hoe meer suksesvol die resultate wat verkry word.
Praktiese toepassings van die ingesamelde inligting sluit in evaluering van huidige bewerkingspraktyke asook die toepassing van presisieboerdery deur bemesting, kalk en saad variërend toe te dien. Die voordeel hiervan is dat winsgewendheid verhoog. Die insette word op die verskillende lokaliteite bereken om sodoende die optimale produksie volgens die potensiaal van die lokaliteit of land te verkry.
Hierdie belangrike grondinligting is die basis wat die toekoms van die produsent se gewasproduksie bepaal. Hy boer dus as’t ware saam met dit wat die natuur hom gegee het en interpreteer sy resultate met meer insig.
Grondtekstuur en -struktuur
Bogrond se tekstuur – veral die boonste 40 cm – is deurslaggewend. Dit is hier waar die meeste fyn wortelaktiwiteite voorkom (plante se “hande” om kos bymekaar te maak).
Die sand, klei en slik in die bogrond bepaal die potensiaal en bewerking asook die bemesting om hierdie potensiaal te bereik. Oor- of onderbemesting maak nie sin nie.
Grondstruktuur verwys na hoe afsonderlike gronddeeltjies in klontjies saamkleef om groter saamgestelde eenhede soos byvoorbeeld krummelstrukture of blokstrukture te vorm. Grond se tekstuur verwys na die sand, slik en klei se verhouding tot mekaar. Die tekstuur en struktuur van bogrond bepaal bogronddeurlugting: hoe beter die balans tussen suurstof en grondvog, hoe beter die benutting van grondvrugbaarheid en hoe beter die opbrengste. Dit word beïnvloed deur grondchemie en/of bewerkingspraktyke. Die grond se struktuur beïnvloed verder die grond se waterinfiltrasietempo. As die water die grond nie vinnig infiltreer nie, loop dit weg en sodoende verlaag opbrengste. Die grondtekstuur bepaal ook hoeveel nutriënte en grondwater gestoor kan word, wat definitief ’n impak op bemesting en bekalking sal hê.
Foto 1 en Foto 2 is voorbeelde waar die tekstuur van grond baie sanderig in die bogrond is. Hierdie is tipiese gronde van die Wes-Vrystaat, maar in die voorbeeld is die gronde verskillend bestuur. Foto 1 en Foto 3 toon grond wat geen struktuur het nie – sulke gronde vorm maklik ’n kors na ’n harde reënbui. Foto 2 en Foto 4 se grond het ’n mooi struktuur. Daar waar struktuur voorkom, infiltreer water beter en groter wortelvolume per volume grond is dan in plek, wat opbrengspotensiaal dadelik bevoordeel sonder dat meer kunsmis toegedien word.



’n Ander belangrike grondeienskap wat die produsent nie so maklik kan verander nie, is die variasie in grondtipes of die grond se tekstuur. Gronde wissel betreffende diepte, kleur, tekstuur, die persentasie grond versus klip, en talle ander eienskappe met ’n direkte invloed op opbrengspotensiaal wat, gegewe die reën, die opbrengsvariasie wat voorkom tydens strooptyd verklaar.
Veral in die droër westelike deel van die land dra die fisiese grondeienskappe tot 70% van die opbrengsresultate by. Die ander 30% word deur die grondvrugbaarheid bepaal. Grondchemie bly ’n belangrike aspek: As hier ’n foutjie insluip en die gronde raak chemies onvrugbaar of die chemiese balans word versteur, het dit ’n baie groter invloed op die opbrengs.
Hoe verskillende grondtipes bestuur word (byvoorbeeld of dit vir droëland- of besproeiingsaanplanting gebruik word), waar die gronde voorkom (byvoorbeeld in die ooste van die land) asook die reënval van die streek bepaal die gewaspotensiaal wat aan spesifieke grondeienskappe gekoppel kan word. Hoe gronde bewerk word en hoe grondwater en oppervlakwater hanteer word om gewasse die beste kans in ’n gegewe
seisoen te gee om te presteer, dra ook by tot die oesresultate.
Grondpotensiaalbepalings
SGS NviroCrop se senior grondkundiges het oor ’n periode van 30 jaar die Crafford en Nott-opbrengsformule vir mielies wat net gronddiepte, kleipersentasie en reënval gebruik het, aangepas om beter grondpotensiaalbepalings te doen. Tans word die totale gronddiepte, effektiewe diepte, plantbeskikbare waterkapasiteit, gemiddelde reënval, grondeienskappe gekoppel aan klimaatstreek, gewasvariëteite, rywydte en plantestand alles in ’n formule ingesleutel. Dit word vandag gesien as een van die akkuraatste formules in Suid-Afrika om opbrengspotensiaal van mielies in die somerreënvalgebied te bereken.
Berekende grondpotensiaalresultate word elke keer op die opbrengskaarte gepas, en baie produsente gebruik SGS vandag om risiko’s te evalueer voordat insetkoste onnodig aangegaan word. Gewasvariëteite se eienskappe verskil van mekaar wat meebring dat hierdie variëteite sekere grondtipes in sekere klimaatstreke beter of swakker hanteer. Die impak van rywydtes en plantestand speel ook ’n rol in die bepaling van die opbrengs. Al hierdie inligting word by die formules ingebou, wat die produsent die geleentheid gee om saad en kunsmis sinvol te varieer volgens die opbrengspotensiaal van die gronde. Hierdie grondopbrengspotensiale is dadelik beskikbaar en daar hoef nie ’n paar jaar gewag te word om data in te samel nie.
Die inligting soos in Figuur 1 is sigbaar op SGS se platform: Precision Gateway. Al die produsent se data word daar geberg en dis moontlik om data oor mekaar te lê om statisties daaruit te leer.

Sodra ’n produsent die bewyslewering self ervaar en verstaan, maak dit net meer sin om kunsmis en saad volgens die “legkaart van sy plaas” – die grondkaart – te varieer en sy volhoubaarheid met meer sekerheid te beïnvloed. Deur net die gronde volgens hul potensiaal te bestuur verlaag nie noodwendig die koste van die boerdery nie, maar die boerdery se wins verhoog beduidend.
Neem vandag ’n doelbewuste besluit om jou boerderypraktyke te herevalueer. Klimaatstoestande is aan die verander en gewasstremmingstoestande kom al hoe meer voor. Gewasse moet hierdie stremmings kan hanteer en winsgewend bly produseer, maar hulle het sekere behoeftes. As produsent moet jy sover moontlik seker maak
dat die groeimedium op jou plaas met al sy variërende grondeienskappe verstaan word en gedigitaliseer is sodat jy op ’n praktiese manier jou gewasse se groeimedium kan verbeter of alternatiewelik die hulpbron meer optimaal kan benut.
Vir meer inligting kontak Cobus Burger by SGS NviroCrop.