
Grond het in ’n versuiptoestand verkeer indien dit vir langer as 24 uur meer vog gehad het as wat die spesifieke grond se veldwaterkapasiteit is. Dit beteken dat die grond dan minder suurstof bevat as wat die spesifieke grond veronderstel is om onder normale toestande te hê.
Beskikbare vog vir plante word beskryf as die vog tussen verwelkpunt en veldwaterkapasiteit. Minder as verwelkpunt is presies wat dit sê, naamlik die verwelking van die plant omdat geen vog uit die grond onttrek kan word nie. As die vog meer as veldwaterkapasiteit is, is daar nie genoeg suurstof sodat wortels daarin kan ontwikkel nie.
Gevolge van die 2024/2025-seisoen
Die reënval wat in die nat seisoen van 2024/2025 voorgekom het, het ’n langtermynversuiptoestand veroorsaak. Sojabone kon hierdie vog benut omdat die plante nog groen was – veral die langer groeiers het beter gedoen die afgelope seisoen. Wat die mielies betref, het die reën blaarsiektes vererger – groot skade is hierdeur veroorsaak waar swambespuitings nie tydig gedoen is nie.
In party gebiede het dit aanhou reën nadat die mielies al fisiologies ryp geword het. In hierdie gebiede was daar nie meer groen materiaal wat die water kon benut en uit die grond trek nie. Dit is in hierdie areas waar die stropers nou in die modder vassit.
Wortelontwikkeling is swak in versuiptoestande en die wortels begin vrot, wat veroorsaak dat vaatbundels in plante se stamme ook begin vrot. Suurstof bly belangrik vir wortelontwikkeling en mikrobe-aktiwiteit.
Uitdagings ten opsigte van suurstof in die grond
Die uitdaging is dus om suurstof so gou as moontlik terug in die grondprofiel te kry. Aangesien gronde verskil, sal die stappe wat gedoen moet word ook verskil. Dit is standaardpraktyk om so vinnig as moontlik ’n skoffel vir deurlugting tussen die rye in te kry in konvensionele verbouingspraktyke waar grond diep en fyn gewerk word, aangesien struktuur deur hierdie grondbewerkingspraktyk vernietig word. Dit kan net gedoen word terwyl die gewasse nog klein genoeg is om deur die lande te kan kom.
Indien die grond struktuur het, sal die proses natuurlik gebeur. Turfgrond se swel- en krimpvermoë is die beste beskrywing van grond met struktuur en dit gebeur tussen nat en droë toestande. Die verskil tussen grond met struktuur en dié daarsonder, bepaal die aksies wat geneem moet word. Grond met struktuur sal dus self terugkeer na ’n deurlugte toestand. Grond wat in blokke en krummelrig breek, het struktuur. Dit moet nie verwar word met kluite wat in droë grond breek tydens diep losmaakbewerkings nie.
Grond sonder struktuur, waar daar nie ’n profiel vol wortels is nie, moet meganies deurlug word. Die diepte van bewerking sal afhang van die grondtipe asook die spasiëring van die tande van die implement. Indien wortelkanale bestaan, sal natuurlike verhoging in suurstofvlakke in die grond plaasvind. In ’n ideale wêreld is daar deurlopend aktief-groeiende wortels in die grond sodat kanale vir dreinering en gaswisseling konstant ontwikkel word.
Wêreldwyd word gebruik gemaak van dekgewasstelsels om grondgesondheid deur mikrobestimulering as gevolg van deurlopende wortelontwikkeling te verbeter. In Suid-Afrika vind daar egter baie stadig groei in hierdie praktyke plaas. Die effek wat gekry word met wortelkanale het dus dieselfde uitwerking as grond met struktuur.
Daar moet konstant probeer word om die hoeveelheid organiese materiaal in die grond te verhoog, aangesien dit grond se tempo van herstel na versuiptoestande kan verbeter. In Suid-Afrika is daar nie ’n tydperk waar grond gevries is soos in Noord-Amerika nie. Plaaslik vind die afbreek van organiese materiaal deurlopend plaas, teen verskillende tempo’s in die verskillende seisoene. Die opbou van organiese materiaal word nie aangehelp met sojaboon-, suikerboon- en grondboonrotasies nie, aangesien daar
net te min materiaal is. Alternatiewe beplanning is dus nodig om die situasie te hanteer. Die vestiging van gewasse vanaf einde Februarie om vog te trek in die nat lande het veeldoelige voordele. Dit vereis wel meganisasie, maar kan met deeglike beplanning
gedoen word.
Grondchemie
Begin altyd by die pH van die grond om die bekalking te bepaal wanneer bemesting beplan word. Dit bly die beste om grondmonsters te neem en vir ontleding te stuur. Met die afgelewerde prys van kalk op die plaas, kan daar nie sonder inligting gewerk word om die regte kalk teen die regte hoeveelheid en op die regte areas te strooi nie. Grondontledings bly die mees ekonomiese roete om te volg om besluite op te baseer. Kyk ook na die tendens van die ontledings oor tyd en dat die ontledingsmetodes ooreenstem. Maak seker dat besluite nie geneem word gebaseer op verkeerde inligting (byvoorbeeld monsternemingsfoute of verkeerde landnommers) nie.
Die pH van die grond beïnvloed wortelontwikkeling, die effektiwiteit van bemesting toegedien asook die werking van chemiese middels. Verder word mikrobe-aktiwiteit sowel as die spesiesamestelling van mikrobes deur die pH beïnvloed.
Produsente wat hul kalkkoste wil optimeer, implementeer ’n presiese benadering en dien die kalk toe waar dit die nodigste is. Met die langdurige nat grondtoestande wat plaaslik beleef is in die vorige seisoen, moet die volgende in ag geneem word:
Kalsium (Ca), magnesium (Mg), kalium (K), swael (S) en stikstof (N) het dieper in die grondprofiel in geloog. Die diepte van loging sal verskil tussen grond met hoë en lae kleipersentasies. In sandgronde, wat lae kleipersentasies het, sal loging dieper wees as in kleigronde.
Daar moet onthou word dat die denitrifikasie-effek in die nat grond die stikstof uit die grondprofiel kon laat vervlugtig as stikstofgas. Stikstof soos toegedien deur bemesting bly nie in die chemiese verbinding soos toegedien nie, veral in nat toestande. Stikstof se
natuurlike toestand is ’n gas in die atmosfeer en daarom sal dit altyd wil terugkeer na die natuurlike toestand as gas. In vorige artikels in SA Graan/Grain is verwys na wat besluit moet word tydens ’n seisoen waar vir ’n droogte beplan word. Indien laer bemesting deel van die plan was, kon loging, vervlugtiging en gewasonttrekking die profiel met ’n groter tekort laat as in normale seisoene. Gebruik ervare landboukundiges om die situasie te bepaal.
Klein plantjies benodig vroeg in die plant se ontwikkeling genoeg kalsium sodat selsterkte ingebou kan word, asook magnesium vir optimale fotosintese. Indien die grondontleding tekorte uitwys, moet daar berekend bekalk word daarvoor. Dit is belangrik om te let op die regte verhouding van kalsium tot magnesium per grondtipe, aangesien kalsium die grondprofiel positief beïnvloed deur deurlugting en dreinering te bevorder.
Kalium kan in die bemestingsprogram hanteer word indien dit nodig is om aanpassings te maak. Die aanpassings op kaliumriglyne wat bygewerk is in die nuutste bemestingshandleiding kan gevolg word vir verskillende grondtipes. Swael moet altyd deel uitmaak van bemestingsprogramme. Dit is slegs fosfaat as makrovoedingselement wat nie beweeg onder nat grondtoestande nie.
Soos met enige bedryf is daar ook in gewasverbouing kundiges wat produsente kan bystaan met ervaring en kennis. Maak gebruik daarvan om ekonomiese besluite te neem. Die implementering van ’n presisieboerderybenadering bespaar nie regtig koste nie, maar het ’n aansienlike verhoging in effektiwiteit tot gevolg.
Aangesien elke produsent se hulpbronne verskil, moet elkeen sy spesifieke hulpbronne optimeer om sodoende optimaal te boer.
Vir enige navrae en hulp oor die optimering van jou boerdery, kontak Gerrit de Jager
by 082 388 2176.