
SA Graan/Grain-medewerker
Om graan te droog, is ’n duur en bestuurs-intensiewe aksie. As die produsent egter oortuig is van die rede hoekom hy graan wil droog en die duur kapitaaluitleg aangegaan het, dan moet hy die stelsel vir hom laat werk.
Wat is graandroging?
Graandroging behels basies hitte-opwekking en lugsirkulasie deur die graan om die vogpersentasie te verlaag. Graandroërs gebruik ’n hittegenerator om warm lug te produseer, soos ’n brander wat olie, diesel, paraffien, gas of kole kan gebruik. Hierdie warm lug word met waaiers deur die graan gesirkuleer om droging te vergemaklik. Sommige stelsels gebruik indirekte verhitting, waar die hitte deur pype na die lug oorgedra word om te verhoed dat reuke en rook die graan besoedel.
Warm lug word deur die graan geforseer, wat veroorsaak dat vog uit die pitte verdamp. Die verdampte vog word deur die lugvloei uitgewaai. Die graan die naaste aan die hittebron of warm lug behoort vinnig te droog en die vog word eerste deur die warmlugvloei uitgewaai. Op dié manier word die graan gedroog tot die verlangde vogpersentasie.

Redes vir droging
Wat sal die redes wees vir produsente om hierdie kapitaaluitleg aan te gaan? Die ooglopende voordele sluit in vroeër stroop, verminderde oesverlies, meer doeltreffende gebruik van stropers en die vinniger bewerking van die lande. Dan is daar ook lewering van graan aan graanbesighede wat minder vog as vereiste het en ’n moontlike prysvoordeel.
Vroeër stroop bring sonder twyfel voordele soos dat die risiko’s van ongunstige klimaat of vuur beperk word. Die lande kan vinniger bewerk word en sodoende kan winteronkruide vroeër beheer word en die vog in die grond beter beskerm word.
Sommige produsente hou vol dat hulle deur natter te stroop minder stroperverliese het. Hierdie waarnemings kan soms waar wees, maar ander produsente wat dit wetenskaplik getoets het, meld dat hulle dit nie noodwendig waargeneem het nie. Hulle sê wel dat hulle aansienlik meer aandag aan die instel van hul stropers moes spandeer. Dit is egter waar dat die vermorsingspersentasie uiters hoog is wanneer baie droë graan gestroop word met ’n stroper wat nie 100% reg gestel is nie. Hierdie vermorsing kan beperk word deur spesialistoerusting op die stroper aan te bring.
Indien die stroopvenster verleng kan word deur vroeër te stroop, kan daar met ’n kleiner stroper oor die weg gekom word. Die stroper sal dan meer ure per seisoen moet werk, maar die kapitaaluitleg is heelwat kleiner. Gegewe vandag se stroperpryse kan dit waardevol wees.
Dit is algemeen bekend dat veral mielies teen vogpersentasies laer as die aanvaarde 12,5% gelewer word. Hierdie droër graan word net so deur die landboubesighede ingeneem, maar produsente word nie vir hierdie droër mielies vergoed nie. Indien die prys R4 500/ton is, verloor die produsent R45/ton vir elke 1% wat die vog onder 12,5% is. Aan die einde van die oes is dit heelwat geld wat verlore is.
Tydens strooptyd kom graanpryse gewoonlik onder druk. Pryse neig dan laer en dit is dalk in dié tyd wat graan verkieslik nie bemark moet word nie. Indien ’n produsent sy graan voor die stroopdruk kan lewer, behoort hy ’n beter prys te kan beding en sodoende kan die droging van graan ’n baie goeie opsie wees. Dit is belangrik om die drogingskoste van die graan met die prysverskil te vergelyk en dit maak ook sin om die drogingskoste met dié van die landboubesigheid in die gebied te vergelyk. By landboubesighede kos dit ongeveer R70/ton om graan se vogpersentasie met 1% te laat daal.

As aanvaar word die drogingskoste is R140/ton om vog met 2% te verlaag en die graanprys is R4 500/ton, dan moet die produsent 3% meer graan afstroop om dit die moete werd te maak. Sonder hierdie ekstra opbrengs moet die koste op ’n ander manier verhaal word.
Produsente is goeie planmakers en baie dink aan alternatiewe maniere om hul graan te droog. Daar is verskeie produsente wat sementblaaie gegooi het om veral mielies te droog. Die mielies word net so op die sementvloer gegooi, oopgekrap en die son word toegelaat om die pitte droog te bak. Hierdie graan word dan gewoonlik binne ’n paar dae se droging by die silo’s aanvaar. Natuurlik moet die weer dopgehou word – reën en mielies op die sementblad loop nie lekker saam nie. Die optel van die graan het sy eie uitdagings en die skoonmaak van die sementblad vereis ook heelwat werk. Maar as daar R140/ton gespaar kan word, maak dit sin!
Soos genoem, is die droging van graan ’n duur en bestuursintensiewe aksie. Moet dus nie net ’n graandroër koop omdat die buurman een het nie.
Kontak Pietman Botha by 082 759 2991 vir meer inligting rakende hierdie onderwerp.