Bestuur grondversuring en gepaardgaande slaggate só

Gepubliseer: 2 Julie 2025

154
Kobus van Zyl,
senior landboukundige, Omnia Nutriology®

Moderne gewasverbouing plaas nie net druk op die produsent om volhoubaar te produseer nie, maar ook op die grond om te verseker dat produksie kan bybly met die enorme vraag na voedsel. Volhoubare voedselproduksie het ten doel om meer met minder te produseer. Hulpbronne soos grond moet minstens in dieselfde of ’n beter toestand aan die volgende generasie oorgedra word.

Groei in voedselproduksie is afhanklik van die totale landbouwaardeketting en elke bydrae is noodsaaklik. Dink byvoorbeeld aan die genetiese vordering wat gemaak is met betrekking tot gewasopbrengste en siekteverdraagsaamheid om die produsent die beste moontlike kans te gee om winsgewend te produseer. Moderne genetika het egter heel moontlik ander bestuursvereistes as dit kom by bemesting, onkruidbeheer en siektebeheer. Aanpassings en konstante verbetering is dus noodsaaklik om volhoubaarheid na te streef.

Daar is beslis druk op natuurlike hulpbronne om volhoubaar te produseer. Vir die produsent is dit van kritieke belang om dié hulpbronne deur optimale bestuur in ’n puik produktiewe toestand te hou. Indien dit nie nagestreef word nie, sal gewasse nie optimaal kan produseer nie en winsgewendheid sal daal. Soos die spreekwoord sê: “Voorkoming is beter as genesing.” Dit is waar op baie terreine van die lewe, maar veral in gewas­produksie. In die bespreking van ’n spesifieke voorbeeld word vervolgens gekyk na ’n paar aspekte van hoe grondversuring bestuur kan word en waarna om op te let.

Bekalking
Kalk is een van die min produksiemiddele wat die grond se fisiese, chemiese en biologiese komponente bevorder en verbeter. Eers­tens moet die produsent weet hoe­veel kalk om te strooi en watter soort kalk (dolomiet of kalsiet) die beste gaan wees vir die grond. Hiervoor word akkurate grondontledings benodig, sodat ’n landboukundige die korrekte besluit oor ’n bekalkingstrategie kan neem. In Grafiek 1 word data aangetoon van veldproewe wat met verskillende hoe­veelhede kalk (dolomiet) gedoen is en hoe bekalking die pH(KCl) en chemiese samestelling van die bogrond verbeter het.

Grafiek 1: Die effek van bekalking op bogrond-pH(KCl).

Volgens Grafiek 1 is dit duidelik dat daar in die voorbeeld 6 t/ha kalk nodig was om die pH(KCl) op ’n optimale vlak van minstens 5,5 te kry. In Grafiek 2 word die verhoging van die kalsiumvlakke as gevolg van bekalking in die grond aangetoon. Soos verwag word het die kalsiumvlakke met die toedien van meer kalk gestyg. Magnesium­vlakke in die grond het ook met toediening van meer kalk gestyg. Grafiek 3 toon die verhoging in grondmagnesiumvlakke aan.

Grafiek 2: Die effek van bekalking op bogrond-kalsiuminhoud (Ca(mg/kg)).
Grafiek 3: Die effek van bekalking op bogrond-magnesiuminhoud (Mg(mg/kg)).

Die reaksie van kalk in die grond is van verskeie faktore afhanklik, naamlik die hoeveelheid kalk, kalkfynheid, kalktipe, reaktiwiteit (kalsiumkarbonaat-ekwivalent (KKE)), vermenging en vog in die grond. Indien al die faktore optimaal is, sal neutralisering baie vinnig plaasvind. Miskien is dit die rede waarom daar dikwels gesê word kalk werk eers in die tweede jaar na bekal­king. Met reg kan dit wel die geval wees indien toestande vir neutralisering swak was, byvoorbeeld as gevolg van swak vermenging of droë bogrond. In die bogenoemde proef het die laagste kalkpeil (2 t/ha) reeds in die eer­ste jaar na bekalking ’n opbrengsreaksie van 1 t/ha gegee, wat ’n uitstekende rende­ment is. Grafiek 4 dui die opbrengs­reaksie op bekal­king in die tweede jaar na bekalking aan. In jaar twee na bekalking was die opbrengsverskil 1,3 t/ha met 2 t/ha se kalk teenoor die kontrole (0 t/ha kalk). Oor net twee jaar was die rendement ’n 2,3 t/ha­hoër mielie-opbrengs in vergelyking met areas waar geen kalktoediening plaasgevind het nie. Die kumulatiewe opbrengsverhoging met bekalking in die voorbeeld wys dat elke rand gespandeer ’n rendement van R6,36 gelewer het nadat koste oor ’n periode van twee jaar afgetrek is.

Grafiek 4: Die effek van bekalking op mielie-opbrengs (t/ha) twee jaar na bekalking.

Slaggate om te vermy

  • Dit is nie noodwendig waar dat meer kalk beter is nie, wat duidelik in die voorbeeld geïllustreer word. Waar kalk teen 8 t/ha toegedien is, het die grond pH(KCl) bokant 6 gestyg, kalsium was hoër en magnesium was laer as by ’n toediening van 6 t/ha. Die opbrengs was ook laer, wat ’n aanduiding is dat optimale vlakke van bekalking oorskry is. Alle gronde reageer nie dieselfde nie en dit mag wees dat veral gebufferde gronde (grond met ’n hoër klei-inhoud) meer kalk benodig. Net soos in die voorbeeld, sal sulke grond ook ’n optimale kalkpeil hê, waar die opbrengs die hoogste is.
  • Oorbekalking en onderbekalking is albei nadelig.
  • Indien ’n bekalkingsprogram nie in plek is nie, is die produksierisiko heelwat hoër en winsgewendheid bly in die slag. Voe­dingstofbenutting is ook minder effektief.
  • Gewasse en selfs kultivars verskil in hul vermoë om suurgronde te hanteer. Wees bewus hiervan en poog om die gewasse wat meer gevoelig is, nader aan ’n kalkregstelling te plant.
  • Wisselbou maak deel uit van ’n volhoubare gewasproduksiestelsel. Korrekte onkruiddoderdosisse, aktiewe bestanddele en tydige toediening is noodsaaklik om te verseker dat die opvolggewas nie on­kruiddoderskade kry nie. Atrasien wat op mielies gebruik word, moet byvoorbeeld laag genoeg wees sodat opvolgsojabone en -sonneblomme nie skade kry nie. Kalsium en magnesium wat met kalk toegedien word, kan die atrasien vanaf die klei verplaas waaraan dit geadsorbeer was. Wees versigtig om op lande wat groot hoeveelhede kalk be­nodig en waarvan die onkruiddoder­rekords nie beskikbaar is nie, ’n atrasien-sensitiewe gewas soos soja­bone of sonneblomme te plant. Plant dalk eer­der nog ’n jaar mielies om seker te maak daar is nie on­kruiddoderskade nie.
  • Herversuring is ’n werklikheid. Gereelde grondmonsters, minstens na elke derde oes, sal verseker dat die probleem betyds aangepak kan word.
  • Ondergrondsuurheid is ook in die prentjie en kan opbrengs drasties beperk. Sanderige grond is baie gevoelig vir ondergrondse versuring en die korrekte bestuurspraktyke sal die versuring van die ondergrond beperk. Hier kan iets so eenvoudig soos verandering van stikstofbron of die metode van toediening ’n groot invloed hê. ’n Goed beplande bekal­kingsprogram bly die eerste prio­riteit.

Praat gerus met jou naaste Omnia-landbou­kundige indien meer inligting oor bemesting en bekalking verlang word.