VINGER GEHOU OP POLS VAN EKONOMIE

Gepubliseer: 1 Julie 2025

105
Gerhard Burger, landbou-ekonoom intern, Graan SA

In ’n land waar verandering die enigste konstante is, is monitering van bedrywe van kardinale belang. Insetpryse, marktendense, regulasies, gradering en wetgewing word alles deur Graan SA dopgehou en bestuur om graanprodusente volhoubaar te help boer. Vanjaar word daar egter nog ’n stuk gereedskap in die gereedskapkis bygevoeg: die Graan SA-ekonomiebarometer.

Hierdie stuk gereedskap bied ’n vinger op die pols van pro­du­sente om die gesondheid van die graan- en oliesadebedryf te moni­tor. Deur middel van die barometer kan die effek van veran­deringe in die bedryf op die produsent se gemoed getoets word en stel dit die span in staat om ’n skerper oog te gooi waar hulp nodig is.

Die barometer in sy eenvoudigste vorm is ’n opname wat aan Graan SA-lede uitgestuur word as ’n kort vraelys. Die vraelys bestaan uit vier vrae wat ongeveer twee minute neem om te beantwoord. Die vrae word so geformuleer dat die span ’n prentjie kan skets van produsente se huidige finansiële posisie in vergelyking met die vorige jaar asook wat hul vermoede en/of sentiment is oor wat in die nabye asook verre toekoms gaan gebeur. Verder word daar gevra of hulle gemaklik is om op die oomblik ’n langtermynbelegging in toerusting, masjinerie of geboue binne die boerdery aan te gaan. Hieruit kan tot ’n mate afgelei word hoe die beleggersvertroue in die bedryf lyk. Die vraelys word kwartaalliks aan al ons lede uitgestuur via ’n ska­kel op ons WhatsApp-streeksgroepe asook as ’n QR-kode (Figuur 1) wat deur die meeste selfone geskandeer kan word.

Figuur 1: ’n Voorbeeld van ’n QR-kode wat via WhatsApp met produsente gedeel word.

Antwoorde vanuit die opname word intern verwerk om te verseker dat slegs Graan SA-lede, en per implikasie graanprodu­sente, se menings getel word. Hierdeur word die akkuraatheid van die resultate verseker. Soos met enige data-analise sal die tydreeks­data wat uit die opname ingesamel word, die waardevolste wees. Produ­sente se sentiment sal dus oor tyd gemeet word om teen ’n basisjaar getoets te word om so vas te stel of die bedryf stagneer, verswak of groei. Die baro­meter laat ook toe dat verskillende sentimente tussen streke gemeet en vergelyk kan word. Indien daar merkbare verskille tussen streke sigbaar is, kan Graan SA dieper ondersoek instel om produsente se belange nie nét op nasionale vlak nie maar ook per streek te ondersteun en bevorder.

Met die eerste proeflopie het die volgende resultate na vore gekom:

Vanuit die opname is bepaal dat slegs 49% van lede vanjaar finansieel beter af is as verlede jaar, maar dat 63% van lede voel dat hulle volgende jaar beter af sal wees (korttermynvisie).

Op lang termyn lyk die prentjie nie so positief nie en voel slegs 37% optimisties oor die graanbedryf. Die syfer stem ook ooreen met die be­leggingsvertroue van 35%: Slegs 35 uit elke 100 produsente het vertroue dat dit winsgewend sal wees om nou ’n belegging in landbou aan te gaan (in masjinerie, toerusting en geboue). Uit die eerste opname is dit duidelik dat slegs 46% van produsente vertroue het in hul eie bedryf. Alhoewel dit kommerwekkend is, is dit verstaanbaar gegewe die vorige seisoen se midsomerdroogte en die huidige seisoen se uitdagings met laat reëns wat die plantvenster verkort het en die oormaat reën wat die stroopproses ver­traag. Boonop moet produsente uitdagings van­uit die regulatoriese omgewing trotseer soos PCO-sertifisering en grondonteieningswetgewing wat beleggersbesluite beïnvloed.

Graan SA is hard aan die werk om vertroue te kweek in die graan- en oliesadebedryf. As die stem van Suid-Afrikaanse landbou, is pro­dusente se ervaring en insigte van onskatbare waarde. Deur een maal ’n kwartaal net ’n paar minute te neem om die Graan SA-baro­meter-opname te voltooi, kan produ­sente help om ’n meer akkurate, tydige prentjie van plaasvlak-realiteite te vorm. So word die inligting waarop ekonome, landboubesighede, beleidmakers en navorsers staatmaak om kritieke besluite te neem, verbeter. Produsente se deelname versterk nie net hul eie perspektief nie, maar dra ook by tot ’n kollektiewe “vroeëwaarskuwingstelsel” vir die uitdagings en geleent­hede wat Suid-Afrikaanse landbou moet hanteer.

Sluit aan by medeprodusente om die toekoms van ons bedryf te help lei: Voltooi die Graan SA-barometer-opname, laat hoor jou stem en wees deel van die data wat vordering op die plaas en verder dryf.

Figuur 2: Huidige uitkyk
Figuur 3: Korttermynvisie
Figuur 4: Langtermynvisie
Figuur 5: Beleggingsvertroue