
HUB, Graan SA
GRAAN SA SE KERNMISSIE IS OM DIE WINSGEWENDHEID EN VOLHOUBAARHEID VAN GRAANPRODUSENTE IN SUID-AFRIKA TE BEVORDER. ’N SLEUTELASPEK VAN HIERDIE MANDAAT IS AKTIEWE BETROKKENHEID BY BELEIDSONTWIKKELING EN DIE BEÏNVLOEDING VAN REGERINGSPROSESSE OM ’N GUNSTIGE, VOORSPELBARE BELEIDSOMGEWING VIR GRAANPRODUSENTE TE SKEP.
Dit behels deelname aan breër landbou- en nasionale vraagstukke, soos watersekerheid, grondhervorming, arbeid en infrastruktuur wat ons met ander bedrywe soos die aartappel-, sitrus- en rooivleisbedryf deel deur nasionale organisasies soos AgriSA en Agbiz. Graan SA hanteer verder bedryfspesifieke aangeleenthede soos invoertariewe, die regulering van landbouchemikalieë en marktoegang.
Ons tree ook as ’n waghond oor beleids- en regulatoriese kwessies op en dien as strategiese vennoot vir die staat. Dit vereis waaksaamheid en begrip van ’n komplekse politieke en beleidslandskap om die belange van graanprodusente te beskerm en te bevorder.
Die regering van nasionale eenheid (RNE) bestaan uit partye met uiteenlopende beleidsrigtings en ideologieë vanuit teenoorgestelde pole van die politieke spektrum. Hierdie wrywing het reeds in die hof gedraai met die dispuut oor BTW, en tans oor die beginsel van onteiening sonder vergoeding – ’n teken van die brose samewerking binne die RNE. Die koalisie moet ook die oorgang na ’n ware veelpartyregering navigeer, met die voormalige regerende party wat skoorvoetend van sy bevoorregte posisie afstand doen.
Te midde van politieke onsekerheid en ’n RNE word openbare-private vennootskappe (PPP’s) al hoe belangriker om dienslewering te verseker. Die toenemende besef van die privaat sektor se waardevolle rol in beleidsimplementering dui daarop dat vennootskappe toenemend staatsvermoëns kan aanvul as dit kom by ekonomiese groei, werkskepping, infrastruktuurontwikkeling, energievoorsiening en dienslewering. Sodanige vennootskappe verhoog vertroue, betrek die privaat sektor by beleidsvorming, belyn praktyke met regeringsdoelwitte en skep ’n stabiele beleggingsomgewing wat groei en transformasie ondersteun.
’n Voorbeeld is die onafhanklike kragprodusenteprogramme waar privaat ondernemings son- en windkrag aan Eskom lewer. Hierdie model bring kapitaal en kundigheid, en bevorder beleidsooreenstemming oor gedeelde doelwitte. Transnet het ook die privaat sektor genader vir die herstel van sleutelvragkorridors, soos dié van Limpopo en Mpumalanga na Richardsbaai. Binne hierdie veranderende konteks moet Graan SA sy beleidstrategie en staatsamewerking herkalibreer om ’n gunstige omgewing vir graanprodusente te verseker.
Wat is die unieke uitdaging vir die landbousektor? Die suksesvolle toepassing van PPP’s in landbou sal bepaal word deur die vermoë om provinsiale en munisipale verval die hoof te bied. Die ineenstorting van provinsiale en plaaslike regerings benadeel dienslewering, verhoog landbouproduksiekoste en ontmoedig landboubeleggings. Ons grootste uitdaging is dat stedelike en megaprojekte voorkeur sal kry terwyl die platteland met die agterspeen oorbly.
Ons sal vinnig moet beweeg en onsself fyn posisioneer om PPP’s staan te maak wat staatsvermoë in die platteland sal aanvul en volhoubare groei in landbou ondersteun. Die Landbou- en Landbouverwerkingmeesterplan (AAMP), wat fokus op ’n inklusiewe, mededingende en volhoubare sektor en PPP’s as sleutelinstrumente aandui, kan effektief in dié verband aangewend word.
Binne eie geledere is daar verskeie voorbeelde waar suksesvolle samewerking tussen Graan SA, die privaat sektor en die regering plaasvind. Dis weliswaar nie onder die vaandel van PPP’s nie, maar dit kan dien as ’n barometer vir die potensiaal van toekomstige vennootskappe binne die raamwerk van die AAMP.
Die uitbreiding van marktoegang na China en Egipte kan toegeskryf word aan samewerking tussen Graan SA, die Suid-Afrikaanse Vereniging vir Graan- en Oliesadehandelaars (SACOTA) en die Departement van Landbou. Nog ’n voorbeeld is Graan SA se kunsmismoniteringsprojek wat met finansiële steun van Fertasa en in oorleg met die Departement van Landbou uitgevoer word. Graan SA se Navorsing-en-Beleidsentrum behaal ook sukses in samewerking met regeringsdepartemente, navorsingsinstellings, universiteite en openbare instellings.
Vennootskappe in landbou beteken egter nie altyd eensgesindheid nie – dit is juis verskillende uitgangspunte wat ruimte skep vir betekenisvolle betrokkenheid. Deur feitelik gedrewe gesprekke oor data, tegnologie, regulasies en beleid ontstaan beter beleidsraamwerke en oplossings.
Landbou in Suid-Afrika het oor dekades ’n sterk vermoë tot aanpassing, innovasie en volharding getoon – ondanks droogtes, beleidsonsekerheid en infrastruktuurverval. Hierdie veerkragtigheid lê in die toewyding van produsente en beklemtoon die onmiskenbare waarde van samewerking tussen instellings, beleidmakers, die privaat sektor en produsente.
Ons staan op die drumpel van ’n tydperk waarin die staat en die sakegemeenskap mekaar al hoe meer sal moet raadpleeg – nie net oor wat gedoen moet word nie, maar oor hóé dit die doeltreffendste gedoen kan word. Uiteindelik sal dit die vermoë tot aanpassing, volgehoue samewerking en ’n gedeelde visie wees wat die langtermynsukses van ons sektor bepaal.