Bemestingspraktyke is bepalend vir opbrengs

Gepubliseer: 1 Julie 2025

84
Pietman Botha,
SA Graan/Grain-medewerker

Prof Gert Ceronio, Fakulteit Natuur- en Landbouwetenskappe, Universiteit van die Vrystaat

Een van die grootste uitgawes vir enige saaiprodusent is bemesting. Ruim tyd en geld word bestee aan masjinerie om by te bly met nuwe tegnologie, maar word genoeg tyd spandeer om die effektiwiteit en doeltreffendheid van bemesting te optimaliseer?

Die hoofdoelwit met bemesting moet wees om die optimale hoeveelheid benodigde bemestingstowwe tydig in die plant se wortelsone beskikbaar te stel, gereed vir opname. Dit beteken dat bemesting aangewend moet word om doeltreffendheid en effektiwiteit te optimaliseer en vervlugtiging en loging te minimaliseer sodat die hoogste opbrengste gegewe die insette behaal kan word.

Toedieningsmetode asook die tipe bemestingstowwe het ’n groot invloed op die oes. Dit help nie die verspreiding van bemes­ting is oneweredig nie, of die verskillende soorte bemestingstofkorrels lê op verskillende kolle in die land nie. Gronde met verskillende eienskappe reageer verskillend op die bemesting toegedien. Die kleipersentasie, pH en grondvoginhoud speel ’n belangrike rol. Produsente word gedwing om te verander en veral te meganiseer met die gevolg dat boerderypraktyke verander, wat sonder twyfel ook ’n invloed op die bemesting het.

Dit is algemeen bekend dat die meeste voedingselemente ver­kieslik gebandplaas moet word om die effektiwiteit te verhoog. Stikstof (slegs produkte wat nie vervlugtig nie), swael, kalsium en magnesium kan uitgestrooi word. Fosfaat en kalium is minder geskik vir uitstrooi (behalwe vir grondregstellings), aangesien dit meestal deur diffusie opgeneem word. ’n Hoë konsentrasie in die band is belangrik vir die opname en help waar die gronde die fosfaat en kalium vaslê.

Mikro-elemente soos sink, mangaan, koper, yster, boor en molibdeen word ook beter in ’n band opgeneem, maar produ­sente moet te hoë toedieningspeile vermy.

Dit is al menigmale bewys dat sekere bemestingstowwe meer vervlugtig as ander wanneer dit bo-op die grond toegedien word. Werk wat gedoen is deur die Universiteit van die Vrystaat (UV) oor die vervlugtiging van stikstof (N) het insiggewende resultate opgelewer.

Die UV het ’n inkubasieproef uitgevoer waar ammoniumsulfaat (AS), kalksteenammoniumnitraat (KAN) en ureum aan verskillende grond, grondvog en gesimuleerde klimaatstoestande blootgestel is. ’n Bainsvlei-grond met 2% kalsiumkarbonaat (kalk) en ’n pH van 7,28 (Bainsvlei I); ’n Bainsvlei-grond sonder kalk en ’n pH van 6,15 (Bainsvlei II); en ’n Arcadia-grond met ’n pH van 7,35 (Arcadia III), is in die inkubasieproef gebruik. Op hierdie gronde is drie stikstofkunsmisbronne, naamlik AS teen 476 kg/ha, KAN teen 357 kg/ha en ureum teen 217 kg/ha, ekwivalent aan 100 kg­
N/ha toegedien. Die volgende behandelings is toegepas om die effek van grondvog,
dou en reën te simuleer en resultate word in Figuur 1 aangetoon:

  • Die grond is vooraf tot by veldwaterkapasiteit benat en die 100 kg N is op die grondoppervlak gestrooi en vir agt uur by kamertemperatuur geplaas (Figuur 1a).
  • Dieselfde as die vorige behandeling, maar in dié geval is die houers in die son geplaas vir agt uur (Figuur 1b).
  • Die grond is tot net bo veldwaterkapasiteit benat waarna die kunsmis uitgestrooi is en vir vyf dae gelaat is. Daarna is die grond by kamertemperatuur gedroog (Figuur 1d).
  • Die kunsmis is op die grond uitgestrooi en een keer met ’n fyn sproei benat (om dou voor te stel) en vir vyf uur in die son ge­plaas om te droog (Figuur 1e).
  • Die kunsmis is op die grond gestrooi en twee keer met ’n fyn sproei benat en vir vyf uur in die son geplaas om te droog oor twee dae (Figuur 1f).
  • Die kunsmis is op die grond gestrooi en drie keer met ’n fyn sproei benat en vir vyf uur in die son geplaas om te droog oor drie dae (Figuur 1g).
  • Die kunsmis is op nat grond uitgestrooi en 130 mm diep vermeng (om ’n skottel­egbewerking voor te stel) waarna dit vir vyf dae by kamertemperatuur gelaat is (Figuur 1h).
Figuur 1: Stikstofverliese vanaf drie stikstofkunsmisbronne wat op drie gronde toegedien is, uitgedruk as ’n persentasie van die hoeveelheid toegediende stikstof (N).

Uit hierdie grafieke kan die volgende afleidings gemaak word:

  • Ammoniumsulfaat en ureum se verliese was uiters hoog – 56% en 62% onderskeidelik – onder nat toestande met ’n uitdroogperiode van vyf dae by kamertemperatuur (Figuur 1d).
  • Ammoniakvervlugtiging is die hoogste (selfs twee tot drie maal) by die alkaliese Bainsvlei I-grond (pH=7,28) en Arcadia-grond (pH=7,35) in vergelyking met die effens suur Bainsvlei II-grond (pH=6,15) (Figuur 1a – h).
  • Ammoniumsulfaat wat op ’n droë, alkaliese sandgrond uitgestrooi is en nie ingewerk is nie, vervlugtig tot soveel as een derde in drie dae (Figuur 1g). Ureum, onder dieselfde omstandighede, ver­vlugtig tot soveel as ’n kwart van wat toegedien is (Figuur 1g).
  • KAN daarenteen blyk die mees effektiewe misstof te wees met net minder as 10%-verliese in vergelyking met die ander twee misstowwe (Figuur 1f en g).
  • Waar kunsmis met die grond vermeng is, was verliese die hoogste vir die alkaliese gronde, maar dié van die swaarder Arcadia-grond was twee keer die van die Bainsvlei I-grond (Figuur 1h).

Hieruit kan duidelik gesien word dat ammo­niakvervlugtiging ’n funksie is van:

  • grond-pH;
  • klei-inhoud/KAV (katioonadsorpsievermoë);
  • oppervlakgrondwaterinhoud en instandhouding daarvan voor en tydens die inwerk van die kunsmis;
  • die soort kunsmis; sowel as
  • die metode van inwerking.

Hierdie inligting behoort gebruik te word met die keuse van die verskillende vorms van
N-kunsmis vir verskillende gronde en toedie­ningspraktyke.

Let op die volgende:

  • Indien AS en ureum op klam, sanderige gronde met ’n neutrale tot alkaliese pH uitgestrooi word en toegelaat word om uit te droog voordat dit ingewerk word, kan N-verliese van tot 50% voorkom.
  • Ureum behoort slegs op suurgronde toegedien te word.
  • Ureum moet verkieslik ook nie op suurgronde met minder as 15% klei vir langer as ’n dag op die oppervlak gelaat of in ’n gekonsentreerde band vlakker as 150 mm toegedien word nie.
  • Die bestuur van KAN is heelwat makliker as die van ander elemente.
  • Goedkoop koop kan vinnig duur koop raak.

Indien produsente bemesting wil uitstrooi, is dit uiters belangrik om dit reg te doen en strooiers behoorlik te kalibreer. Oor die algemeen word kunsmis deur bewegende skywe met skoepe toegerus of deur pendulums uitgestrooi. Die strooipatroon van hierdie tipe strooiers is baie gevoelig vir die posisie van die uitmeetleweringsgeut asook die helling, vorm, afmetings en rotasiesnelheid van die skywe met skoepe.

Die horisontale afstand – hoe ver die kuns­miskorrel uitgestrooi word – is ’n funksie van die kunsmiskorrelgrootte, -digtheid en -vorm asook die skyfspoed en die afwerpskywe se spesifieke skoepeienskappe. Die verskillende korrelgroottes van ’n droë mengsel skei omdat groter partikels met dieselfde digtheid verder trek en verskillende verspreidingspatrone teweegbring. Die verspreidingspatroon bepaal grootliks die doeltreffendheid van die strooier. Hierdie aspekte is uiters belangrik om die effektiwiteit van die bemesting te optimaliseer.

Figuur 2 toon die reuse-effek van ’n afwerphoek van 20° op werpafstand en ge­volglik ook op die verspreiding van die kunsmis. Die ewewydigheid van die skywe relatief tot die landoppervlak word prakties geweldig beïnvloed deur die helling van die land en hobbels, met gepaardgaande groot variasie in verspreiding.

Figuur 2: Tipiese werpafstand per korrelgrootte met aanvangsnelheid van 20 m/s en aanvangshoek van 20º.

Die figuur toon duidelik dat die korrel­grootte en massa bepalend is hoe ver die korrel sal trek. Probeer dus die kunsmis so aan te koop dat die korrels ewe groot is en ewe swaar weeg. Maak ook seker die strooier is reg gestel en gekalibreer.

Gronde se vrugbaarheidstatus verskil beduidend met sandgronde wat gewoonlik minder vrugbaar is as gronde met ’n hoër kleipersentasie. Spesifieke kleiminerale en chemiese eienskappe van gronde kan egter voedingselemente vashou en minder toeganklik vir die plant maak.

Die belangrikste beginsels om te onthou is dat toegediende plantvoeding so maklik moontlik deur die plantwortels opgeneem moet word; en hoe nader die plantvoeding aan die wortels is hoe makliker neem die plant dit op.

In Figuur 3 word die opbrengsreaksie van mielies op twee rywydtes (1,5 m en 0,76 m) aangedui waar dieselfde kunsmis gebandplaas en uitgestrooi is.

Figuur 3: Opbrengste van mielies deur kunsmistoediening met dieselfde produk, toegedien teen dieselfde peil per hektaar deur te bandplaas en te strooi.

In beide mielies en sojabone blyk dit dat die opbrengste van gebandplaasde bemesting dié van die uitgestrooide bemesting klop. By mielies klop die gebandplaasde kunsmis die uitgestrooide kunsmis met ongeveer 30%, terwyl die gebandplaasde bemesting by soja­bone die uitgestrooide kunsmis met ongeveer 11% klop.

Die uitstrooi van kunsmis het ’n plek as tyd ’n faktor raak, maar dit kom teen ’n prys. Hoe vrugbaarder die grond is, hoe minder sal die effek van strooi of bandplaas wees.

As die doel is om die effektiwiteit en doeltreffendheid van bemesting te verhoog, maak dit sin om die bemesting te bandplaas en in die grond in te werk.

Samevattend

  • Alle kunsmis is nie dieselfde nie; maak seker watter bemestingstof waar aangewend moet word.
  • Dit is dikwels voordeliger om die bemesting onder die grond te bandplaas.
  • As bemesting uitgestrooi word, moet die grond bepaal watter produkte om te gebruik.
  • Maak seker die strooier strooi die bemesting eweredig oor die oppervlakte uit.

Meer inligting oor hierdie onderwerp is te vinde in die volgende artikels wat voorheen in SA Graan/Grain verskyn het: “Stikstofbevattende kunsmis: Is daar verskille in verliese?”, “Kom ons praat strooi” en “Wat is beter: Bandplasing of uitstrooi van kunsmis?

Kontak Pietman Botha by 082 759 2991 of Gert Ceronioby CeroniGM@ufs.ac.za vir meer inligting.