Veeprogram beloof vele verrassings

SA Graan/Grain-redaksie
Gepubliseer: 9 Mei 2025

169

Een van die groot trekpleisters by die NAMPO Oesdag bly die veekompleks met al sy gebeurlikhede. Vanjaar is geen uitsondering nie, vertel Wimpie Rossouw, onder wie se bekwame leiding hierdie afdeling staan.

Benewens die gevestigde beesuitstallers op die lys hieronder, is daar vier nuwe beesgenootskappe by NAMPO – Braford, Chianina, Droughtmaster SA en Wagyu.

  • Afrikaner
  • Beefmaster
  • Bonsmara
  • Boran
  • Brahman
  • Brangus
  • Braunvieh
  • Charolais
  • Drakensberger
  • Hereford
  • Limousin
  • Nguni
  • Pinzgauer
  • PinZyl
  • Romagnola
  • Rooipoenskop
  • SA Angus
  • Santa Gertrudis
  • Senepol
  • Shorthorn
  • Simmentaler
  • Sussex
  • Tuli

Braford
Die Braford-beesras is een van talle sintetiese rasse wat oorspronklik in 1946 in Australië ontwikkel is. Die eerste kruisteling in Suid-Afrika is in die jare sewentig gedoen en die SA Braford Beestelersgenootskap is in 1997 gestig.

Deur kruisteling is die beste eienskappe van die Brahman en Hereford saamgevoeg om die ras te vestig. Brafords is aanpasbare mediumraamvleisbeeste wat in alle toestande in Suid-Afrika sal produseer en reproduseer.

Meer inligting is te kry by info@braford.co.za.

Chianina
Hierdie ras word al sedert 2007 by die Oesdag uitgestal, maar vanjaar is die eerste keer dat die telersgenootskap die uitstalling behartig. Dit is een van die oudste 100%-suiwer beesrasse ter wêreld.

Die Chianina het ’n somatiese reusagtigheid, en spierwit vel met swart pigmentasie op onder meer die wimpers, hoewe en punte van die horings. Dit is baie algemeen om bulle te sien wat meer as 1 600 kg en koeie wat meer as ’n ton weeg.

Belangstellendes kan hulle by die beesanneks besoek of meer inligting by info@chianinasouthafrica.co.za bekom.

Wagyu
Wagyu bring vanjaar vir die eerste keer diere na NAMPO. Die hoof- uitvoerende beampte van dié genootskap, Fritz Bezuidenhout, sê hulle was voorheen in Wagyu-huis op NAMPO, maar skuif nou na die beeskompleks.

Hierdie beesras, wat sy oorsprong in Japan het, is bekend vir sy sappige en sagte vleiskwaliteit. “Dit is heerlik om te eet en boonop gesond, omdat die vetsamestelling soortgelyk as dié van ’n avo­kadopeer is.”

Produsente kan Wagyu-kruising toepas om beter vleiskwaliteit in te teel. Bezuidenhout noem voorts dat die ras premiepryse op binnelandse asook buitelandse markte behaal. Meer inligting oor Wagyu is by www.wagyu.org.za beskikbaar.

Droughtmaster SA
Droughtmaster SA het verlede jaar hul debuut by NAMPO gemaak. Die Droughtmaster is ’n rooi oordekte bees met ’n kombinasie van Taurus- en Indicus-eienskappe.

Hierdie ras is besonder goed aangepas onder natuurlike omstandighede in Suidelike Afrika. Hulle is vrugbaar, beskik oor voldoende melk vir die kalf, het ’n goeie voeromsetverhouding asook vleisgehalte en hul temperament maak hulle hanteerbaar onder intensiewe en ekstensiewe toestande.

Meer inligting is by www.droughtmastersa.co.za te kry.

Dan is daar natuurlik die skape, bokke, varke asook boerboele van die volgende telersgenootskappe:

  • Boerbok
  • Damara
  • Dormer
  • Dorper
  • Ile de France
  • Indigenous Veld Goats
  • Kalahari Red
  • Meatmaster
  • Merino Landskaap
  • Mohair
  • SA Savanna
  • Van Rooy
  • Varktelersgenootskap
  • Boerboeltelersgenootskap

Skeerdemonstrasies
’n Hoogtepunt op die veeprogram is die jaarlikse skaapskeerdemonstrasies. Izak Klopper, hoof van skeerderopleiding by die Nasionale Wolkwekersvereniging en gereelde kommentator by die NAMPO-demonstrasies, sê die skeerders skeer by NAMPO stadiger vir demonstrasiedoeleindes, maar gewoonlik neem dit sowat twee minute met ’n elektriese snyer teenoor vyf minute met ’n handsnyer om ’n skaap te skeer.

Die demonstrasies is daagliks van 08:00 tot 13:00 en weer van 14:00 tot 16:00.