Graan- en oliesaadprodusente wat oor ’n veefaktor beskik, kan inligting oor veediefstal via WhatsApp by ’n gesentraliseerde databasis rapporteer. Dié stelsel vervang nie ’n amptelike saak van veediefstal by die SAPD nie, maar is ’n bykomende hulpmiddel om tendens- en bedreigingsanalises op te stel.
Volgens ’n persverklaring op die webtuiste van die nasionale Rooivleisprodusente-organisasie (RPO), het die stelsel ten doel om die vereiste verslae en inligting aan die nasionale en provinsiale veediefstalvoorkomingsforums (VVF’s) beskikbaar te stel. Sodoende word die SAPD betrek en bygestaan deur inligting beskikbaar te stel by wyse van skakeling op amptelik erkende forums.

Hierdie stelsel maak voorsiening vir die vaslegging van verslae sonder ’n MAS-nommer om inligting onder rapportering en die moontlike redes daarvoor te identifiseer. Verder maak die databasis dit maklik om inligting te herwin deur ’n ER-verwysingsnommer wat verskaf word.
Die diens word gelewer namens die nasionale RPO en die nasionale VVF, in samewerking met Agri Ops. Alle inligting word op die Earth Ranger-platform vasgelê en gestoor en word vertroulik en in ooreenstemming met POPIA-bepalings hanteer.
Inligting wat benodig word om ’n voorval aan te meld, is soos volg:
-
-
- Naam en kontaknommer word vereis vir ’n datavaslegger om jou te kontak indien enige verdere of ontbrekende inligting verlang word – en om jou van ’n ER-nommer as verwysingsnommer te voorsien.
- Provinsie – met die doel om provinsiale verslae saam te stel.
- Distrik – ten einde verslae per munisipale distrik saam te stel.
- Polisiestasie – om verslae per polisiestasie saam te stel om by maandelikse landelike veiligheidsvergaderings aan te bied en om statistieke met amptelike SAPD-veediefstalstatistieke te vergelyk.
- Die tipe voorval wat plaasgevind het. Die volgende voorvalle kan aangemeld word: veediefstal, onwettige jag met honde, strikke, rondlopende diere, stropery, onwettige betreding van eiendom, poging tot veediefstal, oortreding(s) van die Omheiningswet, veediefstalarrestasies, diefstal van wol- en sybokhaar.
Nota: Stap 1 tot 5 is verpligtend, terwyl stap 6 tot 8 vrywillig is maar verkies word. - Waar het die voorval plaasgevind? Byvoorbeeld GPS-liggingskakel (pin drop).
- Hoe het die voorval gebeur? Enige bykomende inligting soos voertuigbetrokkenheid, bewyse op die terrein of voetspore.
- Ekstra inligting: Byvoorbeeld foto’s van die toneel of enige bykomende besonderhede.
Boodskappe kan 24/7 na die volgende WhatsApp-nommer gestuur word:
071 515 2011. Verslae sal van Maandag tot Vrydag, 08:00 tot 16:00 vasgelê word.Vir meer inligting oor die prosedure rakende die aanmelding van veediefstal, besoek die RPO se webtuiste by rpo.co.za.
-