VLOEDE VERWOES: daadwerklike ingryping nodig

Mariëtta Cronjé, SA Graan/Grain-medewerker
Gepubliseer: 8 Mei 2025

130
Duisende hektaar lande en weiding is tydens die onlangse vloede in Limpopo en Noordwes oorspoel, wat daartoe gelei het dat graanprodusente enorme verliese gely het.
(Foto: J. Swanepoel)

Graanprodusente van Limpo­po en Noordwes het verwoestende skade gely met die onlangse vloede in Februarie. Ongeveer 17 000 ha lande en 20 000 ha weiding het oorspoel nadat 270 mm reën binne ses en ’n halwe uur geval het. Dit het daartoe gelei dat die Minister van Landbou, John Steenhuisen, die vloedgeteisterde area tot ’n rampgebied verklaar het. Die distrikte wat onder hierdie ramp deurgeloop het is Brits in Noordwes en Koedoeskop, Makoppa, Dwaalboom en Rooibokkraal in die
Limpopo-provinsie.

“Die groot hoeveelheid graan wat vernietig is en die skade wat etlike jare gaan neem om herstel te word, gaan ’n definitiewe impak op ons voedselsekerheid hê. Al die vroeë kontrakte se mielies en sojabone is vernietig. Daar word bereken dat daar in totaal ongeveer 6 000 ha witmielies teen ’n gemiddelde oes van 13 t/ha en ’n gemiddelde prys van R5 900/ton verlore gegaan het. Die geraamde verlies vir geelmielies is 6 000 ha teen ’n gemiddelde oes van 15 t/ha en ’n gemiddelde prys van R 4 900/ton. Die sojaboonverlies beloop 3 500 ha teen ’n gemiddelde oes van 3,5 t/ha met ’n gemid­delde prys van R8 000/ton. Die skade ten opsigte van sonneblom en droë bone moet nog bepaal word,” sê Joseph Swanepoel, ’n Graan SA-Raadslid van die plaas Rooi­sloot in die Brits-distrik en voorsitter van die Krokodilrivier-Wes-besproeiingsraad.

Miljoene rand se skade is aan infrastruktuur aangerig.
(Foto: J. Swanepoel)

Die vloed het geweldig baie skade aangerig aan infrastruktuur, waaronder paaie en brûe waarmee produsente oeste moet lewer, kragpale, besproeiings- en sonkragstelsels, heinings, voertuie, implemente, geboue en Eskom-kragmeters. Duisende stuks vee en wild het ook versuip. Bogrond wat graanprodusente deur die jare met groot onkoste verwerk het om graan meer winsgewend te produseer, het weggespoel en dit sal etlike jare neem om dit weer te herstel.

’n Bydraende faktor tot die skade was die feit dat die Swartklip-dam se wal gebreek het weens die oorvloed water vanaf ander reënvalgebiede wat bygedra het tot die styging van die Krokodil- en Limpopo-riviere se vlakke. Dit het veral skade veroorsaak aan paaie, brûe en toegangsroetes, wat daartoe gelei het dat mense in nood nie maklik bereik kon word. Diegene wat mediese sorg nodig gehad het is per heli­kopter hospitaal toe geneem.

Richard Krige (voorsitter van Graan SA) het die vloedgeteisterde gebiede in Limpopo en Noordwes besoek. Hier staan hy in een van die vele sojaboonlande waar die water enorme skade aangerig het.
(Foto: Dr Tobias Doyer)

Die skade aan boerderye beloop honderde miljoene rand wat tot ernstige ekonomiese gevolge vir die streek gaan lei. Die vloed volg op vernietigende brande wat die voorloper was van ’n verlammende droogte wat tot middel Desember 2024 geduur het. ’n Groot hartseer is dat twee produsente ook tydens die vloed hul lewens verloor het as gevolg van elektriese foute.

Aangesien die vloede te kort voor die winter plaasgevind het, kon ’n someroes nie hervestig word nie. Dit was ook te vroeg om ’n winteroes te vestig. Voorbereiding vir die plant van wintergraan word verder gekniehalter as gevolg van te nat gronde en ’n gebrek aan kapitale insette weens die finansiële verliese wat gely is. Die taak waarmee produsente hulle nou met erns bemoei is om beskadigde infrastruktuur te herstel en lande skoon en gelyk te maak.

Alhoewel al die nodige inligting ten opsigte van die vloedskade deur die onderskeie boereverenigings deurgegee is, het die Departement van Water en Sanitasie nog geen terugvoer gegee nie. Te oordeel aan die gebrek aan staatsondersteuning tydens landbourampe en met inagneming dat die staatskas leeg is, word daar ook nie verwag dat hulp verleen sal word nie.

Volgens Swanepoel word daar wel tans onderhandel dat produsente moontlik vir ’n jaar lank van waterbelasting vrygestel kan word ten einde hulle kans te gee om weer op hulle voete te kom. Daar word verder met koöperasies, saadmaatskappye, versekeringsmaatskappye en banke onderhandel om produsente tege­moet te kom en te ondersteun waar moontlik. “In dié verband is Graan SA uiters behulpsaam,” sê hy.

Behalwe vir die ongeveer 17 000 ha lande en 20 000 ha weiding wat deur die vloedwater vernietig is, het duisende stuks vee en wild versuip.
(Foto: Dr Tobias Doyer)

“Daar word al jare gespook om kruinsluise vir die Klipvoor- en Vaalkop-damme te kry. Kruinsluisstelsels is ’n kritieke deel van vloedwaterbeheer, maar die Departement van Water en Sanitasie, wat direkte verantwoordelikheid in dié verband dra, beskou dit nie as ’n prioriteit nie. Die sluise sou nie die vloede as gevolg van die reën kon voorkom het nie, maar dit sou wel die plaaslike impak met 50% verminder het. Dit sal ook dien as ’n belangrike hulpmiddel om toekomstige vloede vanaf stedelike gebiede te beheer.

“Die twee damme is ontwerp vir die oprig van sluise en turbines wat nie alleen hulle kapasiteit sal verdubbel nie, maar ook die hele omgewing van krag sal kan voorsien aangesien verskeie kragstasies naby geleë is. Ons as produsente het aangebied om behulpsaam te wees met die ontwikkeling daarvan en ook om te help dra aan die koste. Dit sal verder ondersteunend wees in die vestiging en ontwikkeling van nuwe en opkomende boere. Ongelukkig beskou die departement dit nie as ’n prioriteit nie.

“Daar is ook al onsuksesvolle samesprekings met die departement gehou vir die bou van ’n dam met sluise vir die Medupi-kragstasie. Dit sal kan lei tot 12 000 ha se addisionele besproeiing. Ter wille van voedselsekerheid in Suid-Afrika en met ’n klimaat wat gekenmerk word deur droogtes, kan die vermorsing van water wat net in die see inloop, nie geregverdig word nie.

“Dit is betreurenswaardig dat daar dus jaarliks duisende liters water verlore gaan weens die onvermoë van die departement om water as ’n kosbare hulpbron te beskerm en te bestuur. ’n Sprekende voorbeeld daarvan is onder andere die vermorsing van water by die Roodekopjes-, Klipvoor- en Vaalkop-damme.

“Sedert 2017 en tot op hede was die vermorsing van water sodanig dat dit gelykstaande is aan 34,9 keer die kapasiteit van 43 000 000 m3 wat die Klipvoor-dam kan akkommodeer asook 39,3 keer die kapasiteit van 110 000 000 m3 wat die Roodekopjes-dam kan akkommodeer. Gemeet by die Paul Hugo-meetwal is die skema se gesamentlike kapasiteit 135,4 keer oorskry. Daar moet dus dring­end vergrote stoorkapasiteit bewerkstellig word deur kruinsluise op die walle te plaas om hulle inhoudsmaat te verdubbel.

“Ten spyte van die verwoesting wat die vloed gebring het, het die boerdery­gemeenskap se ware krag egter na vore gekom in hul reaksie op die ramp. Met merkwaardige deursettingsvermoë het hulle nie net hul eie verliese aangepak nie, maar ook met hul tyd, hulpbronne en ondersteuning uitgereik na ander wat dit nodiger gehad het. Daar is toegesien dat almal versorg is en geen arbeiders het hul werk verloor nie. In ’n tyd van onsekerheid en verlies het die gemeenskap soos een man opgetree – met harte vol omgee en hande wat bereid was om te help,” sê Swanepoel.