Wegbreeksessies gee geleentheid vir indringende gesprekvoering

Mariëtta Cronjé, SA Graan/Grain-medewerker
Gepubliseer: 15 April 2025

63

Tydens Graan SA se jaarlikse Kongres op NAMPO Park word tyd ingeruim vir wegbreeksessies vir die onderskeie kommoditeite waartydens bedryfsaangeleenthede indringend bespreek word. Hier is van die sake wat aandag geniet het:

Somergraangewasse
Mielies
Logistiek en vervoer
Verwikkelinge rakende die privatisering van spoorlyne en die uitbreiding van hawens word verwelkom. Die goedkeuring wat verkry is dat graan nou in 51 ton-vragmotors vervoer mag word teenoor slegs 34 ton is verblydend. Graan SA het die Oos-Londen-hawe besoek om te praat oor die belangrikheid van dié hawe. Dr Dirk Strydom het gewys op die nasionale netwerkkomitee wat saamgestel is om die spoorwegkwessie te dryf as dit kom by lewensvatbaarheid. Die hoofdoel is om die privatisering van die spoorlyne te koördineer.

Uitvoermarkte
Graan SA het produsente aangemoedig om op die globale mark te fokus en hulle werk deurlopend daaraan om nuwe markte oop te maak. Die voorsitter het die vergadering bewus gemaak van AGOA (African Growth and Opportunity Act) en die impak daarvan op landbou indien dit gestaak word. Strydom het beklemtoon dat dit primêr ’n invloed op die hoenderbedryf in Suid-Afrika sal hê, spesifiek aan die verbruikerskant en ook op masjinerie. Graan SA is reeds in gesprekvoering met ’n afgevaardigde in Amerika rakende die masjineriekomponent.

Wegbreeksessie – mielies

Vraag en aanbod
Die seisoen se totale mielievraag begin met rekord- lae oordragvlakke. Die totale oppervlakte aangeplant vir mielies in Suid-Afrika is ongeveer 1,34 miljoen ha en het gedaal na minder as die vyfjaargemiddeld; dus ongeveer 45 000 ha minder as wat dit gewoonlik is.

Na die eerste produksieskatting word 15,5 miljoen ton mielievoorraad verwag. Die totale aanvraag beloop 14,2 miljoen ton. Eindvoorrade behoort te styg teenoor die vorige seisoen se 506 000 ton, maar bly steeds aansienlik laer as die vyfjaar- gemiddelde eindvoorraad van byna twee miljoen ton.

Verhoogde diereverbruik
Daar is ’n beduidende toename in geelmielieverbruik vir dierevoer in vergelyking met die driejaargemiddeld. In die 2024/2025-seisoen is ’n gemiddeld van 500 000 ton maandeliks gebruik. Aangesien Suid-Afrika geelmielies gaan moet invoer om die vraag en aanbod te stabiliseer, is die verwagting dat pryse nader aan invoerpariteit sal verhandel hierdie seisoen.

Biosekuriteit
Strydom wys daarop dat produsente bewus gemaak moet word van siektes in die land, onder meer die onlangse verwelksiekte. Biosekuriteit moet opgeskerp word in die graanbedryf en maatreëls moet in plek gestel word. Dit het ’n impak op produksie en ook op uitvoerbedrywe. ’n Biosekuriteitsplan vir graan word tans ontwikkel.

Springmielies
Daar is verskeie produsente wat teen die Oranjerivier, asook in Brits, Koedoeskop en ander areas springmielies produseer en wat versoek het om in te skakel by die Mieliewerkgroep. Hulle verlang onder meer bystand ten opsigte van navorsing en markte.

Sojabone
Alternatiewe liggingsdifferensiaal
Chris Sturgess van die Johannesburgse Aandelebeurs (JSE) het terugvoer gegee oor die alternatiewe liggingsdifferensiaal wat tans getoets word. Markdeelname het af­geneem, met die aantal aktiewe reke­ninghouers wat van 377 tot 107 gedaal het. Die persentasie van die sojaboonoes wat verskans is, het van 24% tot 6% gedaal. Die JSE se verskuiwing van ’n 50 ton-kontrak na ’n 100 ton-kontrak het toeganklikheid verder beïnvloed, veral vir kleinskaalse produsente.

Produsente het frustrasie uitgespreek oor die gebrek aan konsultasie oor die verandering. ’n Verdere aspek wat ’n rol gespeel het in die herlewerings op die alternatiewe kontrak is die sluit van perse weens lae en negatiewe marges. Daar is versoek dat ’n skrywe aan die JSE-bestuur gestuur word oor die invloed van beide aangeleent­hede op die liggingsdifferensiaal.

Wegbreeksessie – sojabone

Navorsing
Die Landbounavorsingsraad (LNR) se driejaarstudie oor sojaboonkultivars het prestasieverskille in verskillende klimaatstreke gevind. Roundup-kultivars het goed presteer, maar sukkel in koeler gebiede. ’n Belangrike bevinding is die verbeterde aalwurmverdraagsaamheid wat langtermyngewasweerstand bevorder. Navorsing dui aan dat blaardakbedekking opbrengs kan verhoog.

Intacta-toevlugsarea
Bayer het in sy aanbieding gemaan dat produsente die rentmeesters van tegnologie is en daarop gewys dat toevlugsareas tydens die gebruik van Intacta RR2 Pro van uiterste belang is en dat saadvermenging vermy moet word.

Tegnologie
Corteva verwag om in 2025 vrystelling vir die Conkesta E3-tegno­logie te kry wat insek- en onkruidbeheer insluit. Veldproewe sal in 2026 gedoen word en die tegnologie sal waarskynlik in 2027 vryge­stel word.

Sorghum
Sorghumverwerkerterugvoer
Daar was goeie gesprekvoering met die sorghumverwerkers Tiger­ Brands en RCL Foods tydens die wegbreeksessie. Die bou van goeie verhoudings en kommunikasie kan help om ’n volhoubare sorghumbedryf te verseker. Sorghum word as ’n nisgewas beskou, wat dit moeilik maak om produksie uit te brei. Strategieë word ontwikkel om sorghum meer doeltreffend in stapelvoedselmarkte te integreer.

Bedryfsaangeleenthede
Verwerkers evalueer nuwe kultivars sorgvuldig, veral vir mout, maar bly versigtig oor GMO’s weens heersende markpersepsies. Daar het goeie gesprekke uit die wegbreeksessie gekom. Onder andere is daar genoem dat Tiger Brands gemeenskapsuitreike implementeer asook bemarkingsveldtogte loods om sorghum en sorghumprodukte te bemark. ’n Vraag oor die beskikbaarheid van sorghumprodukte in groot maat het uit die gehoor gekom. Dit is iets waarna RCL Foods en Tiger Brands kyk.

Genetiese ontwikkeling
Navorsingsprojekte word goed by universiteite gedryf en daar is uitstekende genetika in die pyplyn. Die Sorghumkluster-inisiatief se voorteelprogram dra ook by tot die ontwikkeling van nuwe kultivars wat aangepas is vir Suid-Afrika se klimaat en spesifiek spreek tot die behoeftes van plaaslike produsente.

Afskaffing van BTW
Daar is ’n groot dryf van die Sorghumkluster-inisiatief om die BTW op sorghum afgeskaf te kry. Daar was die afgelope ruk wye mediadekking op verskeie platforms sodat die boodskap by die regte individue kan uitkom. Die boodskap om BTW op sorghum af te skaf, is ook tydens Kongres aan die Minister van Landbou oorgedra.

Sonneblom
Navorsing en siektebeheer
Volgens dr Godfrey Kgatle is beduidende vordering gemaak in die opsporing en verslagdoening van Sclerotinia-uitbrekings. ’n 2022-studie het gelei tot verbeterde siektebestuurstrategieë maar geen nuwe chemiese behandelings is ontwikkel nie. Produsente behoort veldkwarantyn, die gebruik van higiëniese toerusting en diep ploeg om siektetipes te ontwrig, toe te pas.

Optimale plantdatums
Dr Safiah Ma’ali van die LNR het beklemtoon dat Suid-Afrikaanse sonneblomopbrengste onder die wêreldgemiddeld is, hoofsaaklik as gevolg van suboptimale planttye. Laat plant kan die saadopbrengs met 28% en die olie-opbrengs met 25% verminder. Die optimale plantvenster vir ’n hoë olie-opbrengs (42% of meer) is November tot Desember. Produsente word aangeraai om die LNR-spesialiste te raadpleeg vir kultivarkeuses en tydsberekening gebaseer op hul streek.

Epko se premie op olie-inhoud
Op hierdie stadium is die premie op die olie-inhoud R150/ton vir elke persentasie bo 40%. Produsente hoop om dit vanjaar in die praktyk te toets om volgende jaar goeie terugvoer daaroor te kan gee.

Grondbone
Afgeleide prysmodel
Daar is ’n groot behoefte aan ’n deursigtige manier om vir produ­sente ’n aanduiding te gee van prystendense. Daar kan slegs met historiese pryse gewerk word. Dit is amper dieselfde as Graan SA en die Suid-Afrikaanse Graaninligtingsdiens (SAGIS) se invoer- en uit­voerpariteite, sonder vervoerkoste. Invoer­pariteit word verwerk vanaf Argentinië se prys en uitvoerpariteit word verwerk vanaf die VSA se prys. Die model gaan elke maand opgedateer en gepubliseer word deur die Grondboonforum.

Navorsing
SA Peanut doen tans goeie navorsing ten opsigte van verbeterde saad. Daar word baie aandag gegee aan die invloed van chemieprodukte in dié verband.

Die LNR doen tans kultivarproewe wat bestaan uit drie eliteproewe. Aandag word veral gegee aan siekteweerstand.

Wintergraangewasse
Koring
Markte
Die koringbedryf trek swaar en die winsgewendheid daarvan is onder geweldige druk. Produsente sukkel om kop bo water te hou.

Kultivarvrystellingskriteria
Die verslapping van die vrystellingskriteria is bespreek en verdere ondersoek na die verbouing van wit koring is aangevra, juis omdat wit koring ’n hoër opbrengsalternatief is. Dit is egter ook gestel dat daar gewaak moet word teen die benadeling van die intrinsieke waarde van Suid-Afrikaans geproduseerde koring deur van alternatiewe kultivars gebruik te wil maak ten einde hoër opbrengs te verkry.

Koringtarief
Die sloering met die afkondiging van die koringtarief het koringprodusente se winsgewendheid ernstig benadeel. Ondersoek word tans ingestel dat die koringtarief op ’n maandelikse grondslag, soortgelyk aan die dieseltarief, aangekondig moet word. Lede vra dat daar gepoog word om hierdie aangeleentheid so dringend as moontlik af te handel.

Wegbreeksessie – wintergraan

Kanola
Produksie-uitbreiding
Kanolaproduksie onder besproeiing het uitgebrei na omgewings soos Bergville, Mashishing (Lydenburg) en Ohrigstad en aandag sal daaraan gegee word om hulle by die Kanolawerkgroep te betrek.

Gars
Chemikalieë
Kommer heers oor die onttrekking van chemiese middels wat deur alternatiewe middels vervang word wat gepaard gaan met ’n streng paspoortsisteem. Dit beïnvloed die winsgewendheid van die produsent.

Alternatiewe gewasse
Alhoewel daar verskeie gesprekke plaasvind in die bedryf om alternatiewe gewasse daar te stel, is daar nog onvoldoende sukses bereik. Die versoek is gerig dat die aangeleentheid verdere aandag moet geniet.