Saai met vasberadenheid, OES MET VISIE

Alzena Gomes, kommunikasie- en skakelwesebeampte, Graan SA

Gepubliseer: 15 April 2025

54

Die 2025 Graan SA-Kongres – ’n hoeksteengeleentheid op die landboukalender – het op 12 en 13 Maart op NAMPO Park plaasgevind, met die tema “’n Produsent se reis van oorlewing tot voorspoed”. Hierdie tema het die kern van hedendaagse landbou weerspieël – ’n landskap waarin produsente voortdurend hul veerkragtigheid en aanpasbaarheid moet toets te midde van uitdagende markte, klimaatsverandering en beleidsontwikkelings.

Met plaaslike sowel as internasionale graan- en oliesademarkte wat kommoditeitspryse onder druk plaas, is produsente gedwing om strategiese keuses te maak ten einde te oorleef – maar ook om vorentoe te kyk na geleenthede vir groei. Die Kongres het gefokus op hoe produsente deur innovering, doeltreffendheid en slim be­sluitneming dié uitdagings kan omskep in die fondament vir langtermynvoorspoed.

Die jaarlikse Kongres van die Graan SA Groep van Entiteite op NAMPO Park is gekenmerk deur stewige bywoning van afgevaardigdes uit die 33 streke van die land se graan- en oliesaadproduserende gebiede. Dit volg op ’n suksesvolle reeks van 44 streeksvergaderings wat landwyd in die aanloop na Kongres gehou is.

2025 se Kongres het gefunksioneer as ’n dinamiese platform waar produsente, beleidmakers, landboukundiges, bedryfsleiers en belanghebbendes saamgekom het om nie net kritieke kwessies te bespreek nie, maar ook om oplossings, kennis en hulpmiddels te deel wat produsente in staat stel om van oorlewing na voorspoed te beweeg.

Die agenda is in vier hoofsessies aangebied en het afgeskop met aanbiedings deur internasionale sprekers soos Paul Temple en insette van plaaslike kundiges soos prof Johan Willemse en dr Ferdi Meyer. Verder het die paneelbesprekings praktiese insigte gebied oor hoe produsente hul ondernemings kan stabiliseer en laat groei.

Derek Mathews, wat vanjaar na vyf jaar uitgetree het as voorsitter van Graan SA. In sy afskeidsboodskap het hy genoem dat die hoe­veelheid jong produsente wat by die organisasie aansluit vir hom ’n baie posi-
tiewe teken is.
Richard Krige van Caledon in die Wes-Kaap is onbestrede verkies as voorsitter. Hy dien sedert 2012 op die Graan SA-Raad; is sedert 2017 ’n Dagbestuurslid en was sedert 2020 ’n visevoorsitter van die organisasie. In sy intreeboodskap het hy ’n pleidooi gelewer dat alle produsente moet leer om uit ’n verenigde mond te praat. Hy sê die tyd het aangebreek dat Suid-Afrikaanse landbou verenig vanaf insetverskaffers tot by die einde van die waardeketting.

Uittredende voorsitter Derek Mathews kyk terug op 2024
In sy laaste toespraak as voorsitter van Graan SA (GSA) het Derek Mathews teruggekyk op ’n 2024 wat hy beskryf het as ’n “wisselvallige jaar” – gekenmerk deur uiterste klimaatstoestande, beleidsuitdagings, maar ook intense samewerking, navorsing en platforms wat die bedryf se uitnemendheid gevier het. Die jaar se dinamiek het volgens hom gewys dat doeltreffende samewerking nie bloot ’n ideaal is nie, maar ’n noodsaaklikheid vir ’n volhoubare toekoms.

Wisselvallige produksieseisoene en markdruk
Mathews het die moeilike somergraanproduksieseisoen beklemtoon, met veral produsente in die westelike dele van die land wat swaar getref is. Terwyl sommige gebiede uitsonderlike oeste behaal het, het die oorgrote meerderheid produsente swak opbrengste gehad – met ’n gemiddelde afname van 20 tot 25% in somergraanproduksie. Wintergewasse het ook gebuk gegaan onder onvoorspelbare reënval, wat kwaliteit- en siekte-uitdagings meegebring het. Die grootste knelpunt was egter internasionale prysdruk, vererger deur tariefmeganismes wat nie betyds geaktiveer is nie. GSA het saam met die Suid-Afrikaanse Vereniging vir Graan- en Olie­sadehandelaars (SACOTA) daarop gereageer deur ’n aansoek by die Internasionale Handelsadministrasiekommissie (ITAC) in te dien vir die hersiening van die tariefaankondigingsmetodologie – iets wat volgens Mathews van kardinale belang is vir die oorlewing van die koringbedryf.

Danie Minnaar van Bothaville is vanjaar as visevoorsitter van die organisasie verkies. Hy is vanaf 2017 ’n Raadslid en is sedert 2019 die voorsitter van die NAMPO Oesdagkomitee.
Jeremia Mathebula is onbestrede herkies as visevoorsitter van Graan SA. Hy dien sedert 2022 in dié portefeulje.

Beleidsbetrokkenheid en strategie
Op beleidsvlak het GSA in 2024 sy invloed versterk, veral binne die Beleids- en Regulatoriese Werkgroep van die Landbou- en Agri-prosesseringsmeesterplan (AAMP). Mathews het verwys na die hersiening van Wet 36 van 1947, wat landbouchemikalieë, kunsmis en veevoerregistrasie reguleer. Hierdie prosesse plaas druk op die reguleringsraamwerk, en GSA het lede bygestaan met registrasies en gesprekvoering om toegang tot noodsaaklike chemikalieë te verseker. ’n Belangrike beleidsaangeleentheid was ook die wysi­ging van mieliegraadregulasies, wat GSA, die regering en SAGRA (South African Grain Farmers Association) in die hof laat beland het. Mathews het onderstreep dat GSA hierdie saak aktief opponeer om lede se belange te beskerm. Ander beleidsfokusareas sluit in die Petroleumwetsontwerp, elektrisiteitstariewe en BTW op sorghum. Laasgenoemde het gelei tot die Sorghumkluster-inisiatief, wat poog om BTW op hierdie basisvoedsel af te skaf en mededingendheid te bevorder.

Paul Temple, ’n graanprodusent van die Verenigde Koninkryk en visevoorsitter van die Global Farmer Network, het die Kongres as hoofspreker toegespreek.

Markontwikkeling en tegnologie
Die sojaboonbedryf het in 2024 sterk gegroei danksy liggingsdifferensiaalproewe wat nuwe markdeelnemers gelok het. Die aantal silo’s wat sojabone ontvang het, het van 84 in 2023 tot 130 in 2024 gestyg – ’n prestasie wat dui op die potensiaal vir markdiversifikasie. Die teling-en-tegnologie-heffing bly volgens Mathews ’n suksesverhaal, tesame met samewerking wat navorsing en produsentondersteu­ning aanwakker. Onderwerpe soos plantgesondheid, siektebe­stuur en biosekuriteit het sentraal gestaan, met spesifieke fokus op Sclerotinia en onkruidweerstand – probleme wat in die toekoms groter gaan word weens veranderende chemiese regulasies.

Ontwikkeling en erkenning op verskeie platforms
Onder leiding van die visionêre Jane McPherson, het die Phahama Grain Phakama-program in 2024 nuwe hoogtes bereik. Hierdie inisiatief bevorder die produktiewe gebruik van bewerkbare grond en skep ’n pad van subsidieproduksie na kommersiële skaal – ’n werklike voorbeeld van opheffing deur landbou.

Die jaar is ook gekenmerk deur uitstaande bedryfsplatforms, met NAMPO as uitblinker. Of dit nou NAMPO Oesdag, NAMPO Kaap of NAMPO ALFA was, die ekspo’s het nie net nuwe rekordgetalle getrek nie, maar ook ’n ongeëwenaarde kwaliteit van uitstallers en besoekers gelewer. Die Groei vir Goud-kompetisie het weer eens tegnologie en innovasie beklemtoon as drywers van opbrengste en volhoubaarheid. Die Dag van Feesviering het ontwikkelende produsente se suksesse gevier, terwyl die Graan SA/Syngenta Graanprodusent van die Jaar erkenning gegee het aan leiers wat die bedryf se waardes beliggaam. Beide hierdie inisiatiewe weerspieël GSA se verbintenis tot produsentontwikkeling, innovasie en die benutting van maksimum opbrengspotensiaal.

’n Nalatenskap van aanpassing en volhoubaarheid
Met sy termyn op ’n einde, het Mathews met trots en dankbaarheid teruggekyk. Hy het die bedryf se vermoë geprys om by ekonomiese wisselvalligheid, klimaatuitdagings en ’n veranderende wetgewende omgewing aan te pas, terwyl hy GSA se toewyding tot produsentontwikkeling en nasionale voedselsekerheid herbevestig het. Sy wens vir GSA is dat hierdie aanpasbaarheid behoue bly en dat die organisasie altyd groter as enige individu sal wees.

“As produsente het ons veerkragtigheid getoon in die aangesig van talle uitdagings, maar ons moet aanhou saamwerk om ’n volhoubare toekoms vir graanproduksie in Suid-Afrika te verseker,” het hy verklaar, en sy dankbaarheid teenoor bedryfsvennote en die boerderygemeenskap uitgespreek vir hul ondersteuning gedurende sy termyn.

’n Paneelbespreking het die klem geplaas op sleutelstrategieë wat produsente kan help om ekonomiese storms te oorleef, maar om ook te floreer. Die gesprek is gelei deur Corné Louw van Graan SA (heel links) en dr Dirk Strydom, besturende direkteur van NAMPO (Pty) Ltd (heel regs). Die ander paneellede was (van links): Paul Temple, onafhanklike landbou-ekonoom dr Johan Willemse, dr Ferdi Meyer van die Buro vir Voedsel- en Landboubeleid (BFAP) en Pieter de Jager, Graanprodusent van die Jaar 2023.

Nuwe leierskap: Richard Krige verkies as voorsitter
GSA verwelkom met trots vir Richard Krige as die nuutverkose voorsitter, saam met die visevoorsitters Danie Minnaar en Jeremia Mathebula. Hierdie leierskapspan is toegewyd daaraan om voort te bou op die sterk grondslag van hul voorgangers en om te verse­ker dat GSA die betroubare stem van Suid-Afrikaanse graanprodusente bly.

Krige, ’n gerespekteerde graanprodusent, bring ’n rykdom van ondervinding en ’n passie vir vooruitgang in die bedryf. Saam met Minnaar en Mathebula het hy hom daartoe verbind om aan te hou voorspraak maak vir beleide wat volhoubare en winsgewende graanboerdery ondersteun, om met belanghebbendes saam te werk om bedryfsuitdagings aan te pak en om innovasie en groei binne die bedryf te dryf.

“Soos ons vorentoe beweeg, sal ons fokus daarop bly om te verseker dat graanprodusente goed verteenwoordig is, dat hul belange beskerm word en dat ons saamwerk om uitdagings te oorkom terwyl ons nuwe geleenthede benut,” het hy gesê.

John Steenhuisen,Minister van Landbou, aanlyn aan die woord tydens Kongres.

Minister praat oor kritieke kwessies in die SA graanbedryf
Tydens Kongres het die Minister van Landbou, John Steenhuisen, aanlyn op ’n direkte en openhartige wyse met afgevaardigdes gesels oor sleutelkwessies wat die graanbedryf beïnvloed. Hy het die bedryf se veerkragtigheid geloof te midde van uiterste weersomstandighede, stygende insetkoste en wêreldwye markdruk, en het die regering se verbintenis bevestig om volhoubare beleid te bevorder, produktiwiteit te verhoog en ondersteuning aan beide kommersiële en opkomende produsente te bied. Hy het klimaatsveranderlikheid as ’n kritieke uitdaging uitgelig, met verwysing na onlangse vloede en droogtes wat opbrengste en plantskedules ontwrig het, en ’n beroep op rampversekeringsmodelle gedoen om onmiddellike verligting te bied en voedselse­kerheid te verseker.

Die minister het kommer oor grondhervorming, restitusie-eise en die Onteienings­wetsontwerp bespreek en die belangrikheid van regsduidelikheid en beleggersvertroue beklemtoon. Hy het geargumenteer om wetgewing in lyn te bring met die Grondwet en benadruk dat grondhervorming nie voedselsekerheid in gedrang mag bring nie. Wat biosekuriteit betref, het Steenhuisen die dringendheid beklemtoon om bek-en-klouseer in samewerking met belanghebbendes deur middel van ’n nasionale opspoorstelsel te beheer om uitvoerpotensiaal te ontsluit.

Afgevaardigdes het bekommernisse uitgespreek oor invoertariewe en vertra­gings in landboumiddelregistrasies, waarop die minister gesê het dat stappe gedoen word om prosesse te moderniseer en regulasies te hersien en dat hy kennis geneem het van pogings om prosesse te stroomlyn en regulatoriese stelsels soos Wet 36 van 1947 te moderniseer. Hy het GSA geloof vir hul bedryfsgedrewe bemagtigingsinisiatiewe, veral in die ondersteuning van opkomende produsente, en die regering se ondersteu­ning bevestig vir die afskaffing van BTW op sorghum om mededingendheid van dié
stapelvoedsel te bevorder.

Ten slotte het Steenhuisen produsente se volharding geloof en beklemtoon dat samewerking tussen die regering, nywerhede en finansiële instellings die sleutel is tot die bou van ’n veerkragtige, wêreldwyd mededingende landbousektor. Hy het hom verbind tot oop kommunikasie, vinnige optrede oor wrywingspunte, en die benutting van vennootskappe om ’n voorspoedige toekoms vir Suid-Afrikaanse graanprodu­sente te verseker.

Todd Heap, hoof van Bayer Global Corn Strategy, aan die woord.

’n Internasionale perspektief: lesse uit Brexit vir SA landbou
Paul Temple, ’n graanprodusent van die Verenigde Koninkryk (VK) en visevoorsitter van die Global Farmer Network, het tydens sy hoofrede die belangrikheid van aanpasbaarheid in ’n veranderende globale landbou-omgewing beklemtoon. Deur Brexit as gevallestudie te gebruik, het Temple Suid-Afrikaanse produsente aangemoedig om proaktief voor te berei op mark- en beleidsverskuiwings.

Hy het die waarde van bewaringslandbou uitgelig, en sy persoonlike oorgang van intensiewe bewerking na minimumbewerking en dekgewasverbouing gedeel. Deur hierdie volhoubare praktyke aan te neem, het hy insetkoste aansienlik verminder en grondgesondheid verbeter. Hy het Suid-Afrikaanse graanprodusente aangemoedig om soortgelyke praktyke te oorweeg en het beklemtoon dat grondherstel ’n belangrike belegging is in langtermynproduktiwiteit. Temple het ook aangedui dat ’n plaas-spesifieke ontleding noodsaaklik is om die beste praktyke vir elke boerdery ekonomies te bepaal.

As ’n sterk voorstander van wetenskapgebaseerde innovasie, het Temple gewaarsku teen beperkende regulasies wat produsente se toegang tot moderne genetika en gewasbeskermingstegnologieë inperk. Hy het ook klem daarop gelê dat Suid-Afrikaanse landbou oop moet bly vir tegnologiese vooruitgang om produktiwiteit te behou en mededingend in globale markte te bly.

Hy het verder die groeiende vraag na proteïene bespreek, wat geleenthede bied vir sojaboon- en veeprodusente in Suid-Afrika. Hy het produsente aangemoedig om op volhoubare intensivering te fokus – meer produseer met minder hulpbronne – terwyl hulle risiko bestuur deur diversifikasie en sterker integrasie in die voorsie­ningsketting.

Op grond van sy ervaring in die VK het Temple die belangrikheid van samewerking en deelname aan globale produsentenet­werke beklemtoon. Hy het plaaslike produsente aangemoedig om betrokke te raak by koöperatiewe ondernemings wat marktoegang verbeter, koste verminder en kennisdeling oor grense heen bevorder.

Van oorlewing tot voorspoed: paneelbespreking bied praktiese insigte vir volhoubare groei
Een van die Kongres-hoogtepunte was die insiggewende paneelbespreking gelei deur GSA se dr Dirk Strydom en Corné Louw. Gesoute kundiges en produsente van formaat het saamgewerk om die sleutelstrategieë te bespreek wat produsente kan help om nie net ekonomiese storms te oorleef nie, maar werklik te floreer. Die gesprek het ’n reeks praktiese temas hanteer, wat kollektief ’n padkaart bied vir volhoubare boerdery te midde van uitdagende marktoestande.

Ekonomiese swaartekrag en produksiekoste
Die paneel het afgeskop met ’n ontleding van die huidige afwaartse pryssiklus in die graan- en oliesadebedryf, waar laer kommoditeitspryse gekombineer met hoë insetkoste ernstige kostedruk veroorsaak. Volgens die paneel is dit noodsaaklik dat produsente hierdie landbousiklusse verstaan en hul bestuurstrategieë aanpas om dit effektief te navigeer. Produsente wat hul produksiekoste akkuraat bepaal, is beter geposisioneer om bemarkingsbesluite te neem en risiko’s te bestuur – veral in ’n omgewing waar finansiële instellings toenemend kos­tedeursigtigheid vereis.

Langtermynbeplanning en tegnologiebelegging
Die fokus van baie produsente om net die volgende seisoen te oorleef moet verander na langtermynbeplanning. Strategiese beleggings, veral in tegnologie wat doeltreffendheid verhoog, moet met ’n langtermynvisie gemaak word. Tegnologie alleen is egter nie ’n toweroplossing nie – dit moet pas by die boerdery se potensiaal, finansiële vermoë en omgewingskonteks. Die paneel het produsente aangemoedig om nie bloot tegnologie aan te skaf nie, maar doelgerig te belê in oplossings wat werklik die koste per eenheid verlaag.

Emosies, besluitneming en data
Die gevaar van emosionele besluitneming is beklemtoon, met voorbeelde van produsente wat sonder deeglike analise na ander bedrywe geskuif het en finansieel verloor het. Die paneel het gepleit vir ’n feitelike, datagedrewe benadering tot besluitneming en het die belang van akkurate data en konsekwente boodskappe aan beleggers en finansiële instellings beklemtoon. Swak of misleidende data skep paniek en ondermyn vertroue – balans is dus nodig tussen die realiteite van uitdagings en die veerkragtigheid en potensiaal van die bedryf.

Samewerking en die waardeketting
Produsente kan nie in isolasie floreer nie. Samewerking met insetverskaffers, banke, verwerkers en kleinhandelaars is noodsaaklik vir ’n volhoubare waardeketting. Deur deursigtige kommunikasie en gedeelde strategiese beplanning kan die bedryf sterker deur ekonomiese laagtepunte beweeg. Anders as in Europa, waar subsidies skokke versag, moet Suid-Afrikaanse produsente staatmaak op doeltreffendheid, aanpasbaarheid en slim finansiële bestuur.

Ten slotte het die paneelbespreking saamgevat dat die pad van oorlewing na voorspoed gebou word op kennis, strategie en gemeenskapsamewerking. Deur emosionele besluite te vermy, tegnologie verstandig aan te wend en die landbousiklus as ’n geleentheid tot groei te sien, kan produsente hulself nie net stabiliseer nie, maar ook posisioneer vir volhoubare voorspoed in ’n dinamiese wêreldmark.

Innovasie en die toekoms van mielieproduksie
Todd Heap, hoof van Bayer Global Corn Strategy, het insigte gedeel oor gevorderde innovasies in mielieproduksie en die belangrikheid van volgehoue investering in landboutegnologie. Hy het beklemtoon dat tegnologiese vooruitgang, insluitend saadgenetika, presisieteling en digitale landbou, noodsaaklik is om opbrengste te verbeter en omgewings­impak te verminder.

Heap het die ontwikkeling van mieliebasters van korter statuur beklemtoon, wat ontwerp is om droogtebestandheid te verbeter deur wortelmassa en waterretensie te verhoog. Hierdie innovasie, het hy opgemerk, verteenwoordig ’n belangrike stap in die rigting van toekomsbestande boer­dery in die lig van klimaatsveranderlikheid.

Elektroniese stemaksies via afgevaardigdes se slimfone is weer ingespan vir konstruktiewe terugvoer en om terselfdertyd die insette en opinies van Kongresgangers in te win.

Van passiewe volharding na aktiewe groei
Kongresgangers se interaktiewe deelname is aangemoedig om besprekingsgeleenthede te bevorder. Die gebruik van elektroniese stemaksies het die weg gebaan vir konstruktiewe terugvoer na elke sessie en die geleentheid geskep om belangrike insette en opinies van lede in te win. Kongresgangers het verder die geleentheid gehad om te netwerk, ervarings uit te ruil en bydraes te lewer in GSA se spesialiswerkgroepsessies vir mielies, koring, sojabone, sonneblom, gars, sorghum, kanola en grondbone.

Die Kongres het afgesluit met ’n kragtige boodskap van minister John Steenhuisen, wat die regering se visie vir landbou gedeel het en onderneem het om beleidsraamwerke te skep wat produsente sal ondersteun in hul strewe na voorspoed.

Waar 2024 se vraag – “Wat laat produsente snags wakker lê?” – gehandel het oor bekommernisse en oplos­sings, het 2025 se Kongres daarop gefokus om produsente proaktief toe te rus om nie net die storms te trotseer nie, maar om te floreer te midde van verandering. Die reis van oorlewing na voorspoed vereis visie, planmatigheid en samewerking – iets wat die Kongres ten volle beliggaam het.

Die pad vorentoe: van oorlewing tot voorspoed
GSA spreek opregte dank uit aan al sy lede, vennote, rolspe­lers en borge wie se deelname die 2025 Kongres op NAMPO Park ’n waardevolle en suksesvolle gebeurtenis gemaak het. In die komende seisoen gaan ons voort om as planmakers van formaat saam te werk en die stem van georganiseerde landbou te rig op dit wat wérklik saak maak: die ekonomies volhoubare en suksesvolle produksie van graan.

Ons verbind ons daartoe om die insette en prioriteite wat tydens die Kongres bespreek is strategies aan te pak, oplossings te be­vorder en die organisasie verder te laat groei tot voordeel van alle produsente. Terselfdertyd wil ons aan produsente ’n bemoedigende en doelgerigte boodskap van hoop oordra: Deur saam te staan en te beplan, kan ons as bedryf die uitdagings van vandag omskep in die geleenthede van môre. Die reis van oorlewing na voorspoed is nie net moontlik nie – dit is reeds aan die gang. GSA sal hierdie reis aktief lei deur planmatigheid, samewerking en ’n on­wrikbare toewyding aan Suid-Afrikaanse produsente.

Van agter die skerms tot op die voorgrond … Graan SA se personeelspan het vanjaar weer eens hul kant gebring om die Kongres glad te laat verloop.