Sestien jaar gelede was wind- en watererosie die rede hoekom Danie Slabbert, produsent in die Reitz-omgewing, besluit het om sy konvensionele boerderypraktyk van koers te laat verander. Dit was die begin van skoon word: skoon grond en – as uitvloeisel hiervan – skoon skaap, skoon bees en skoon hoender, soos die verskillende produkreekse ook bekendstaan onder sy handelsnaam, Sewe Slabberts, wat na hom, sy vrou, Via, en hul vyf kinders verwys.
Hierdie ommeswaai het ’n leefstyl geword wat geduld en tyd geverg het, maar vandag pluk sy boerdery én gesin die vrugte van diep gewortelde herlewingslandboupraktyke.
Om weg te breek van metodes wat deur drie generasies voor hom gevolg is en om bewerking en toediening van chemikalieë te staak, gebeur nie oornag nie. “Ek het saam met die mielies met sojabone begin boer toe ek na bewaringslandbou oorgeskakel het, hoofsaaklik omdat dit goed is vir wisselbou en omdat dit stikstof in die grond kan bind, iets wat mielies nie kan doen nie. Saam met die somer- en winterdekgewasse bied dit ook verdere diversiteit. Na tien jaar het ek egter ervaar dat die grond se gesondheid ’n plato bereik het. Navorsing het my laat besef dat die ontbrekende skakel in my boerdery die vee-aspek was. Ek het eers beeste en later skape en hoenders ingebring wat vir ’n ander dinamika sorg omdat alles in simbiose saam met die natuur werk; van hulle mis, speeksel en urine tot hulle hoefaksie. Die wisselwerking wat die vee met insekte soos byvoorbeeld miskruiers het, dra alles by tot beter grondgesondheid.”
Die suksesvolle toepassing van herlewingslandbou vra die inkoop van alle partye wat by die boerdery betrokke is. Die plaas het verskillende afdelings wat geïntegreerd saamwerk om die oorkoepelende doel te bereik. Tydens Landbouweekblad en die Riemland-studiegroep se Herlewingskonferensie in Maart by Reitz kon hierdie verskillende afdelings op Slabbert (Foto 2) se plaas besoek word. Professor Cornie van Huyssteen (Foto 3), grondwetenskaplike van realIPM, het gedemonstreer wat die waarde van ontledings met behulp van ’n profielgat in ’n sojaboonland is. Pieter Rademeyer (Foto 4) van Delta Saad het gewys hoe DE 308 met sy breë blare onder bewaringslandbou presteer. ’n Demonstrasie deur XAG het gewys hoe ’n hommeltuig (Foto 5) vir graangewasse ingespan kan word. Behalwe vir mielies en sojabone, wat die grootste deel van die boerdery uitmaak, het die ander afdelings groot belangstelling gelok.




Vee
Daar word ’n metode van ultrahoëdrukbeweiding (Foto 1) gevolg waar die plaas in tydelike kampe van ongeveer 20 m x 100 m elk met behulp van elektriese draadjies opgedeel word en 500 Drakensberger-beeste uurliks na ‘n volgende kamp geskuif word. Daarna kry die kamp ’n jaar lank kans om te rus en tot volle potensiaal terug te keer. Hierdie metode verseker dat die beeste die hele dag optimale voeding inkry, wat ’n groot invloed op hul gesondheid en algemene kondisie het. Die weidingsprogram word met die beskikbaarheid van water beplan en geen antibiotika, groeihormone, GMO-voer, plaagdoders, preserveermiddels, swamdoders of chemikalieë word op die beeste of die weiding gebruik nie. Op ’n kleiner skaal is daar ook skape wat op dieselfde manier bestuur word, maar wat slegs drie keer per dag geskuif word.

Abattoir
Ses maande gelede is die eerste bees in die abattoir op die plaas geslag. Beeste word nie deur die drukgang wat teen ’n helling gebou is aangejaag nie. Nee, hulle stap rustig teen hulle eie tempo om so min as moontlik stres, wat ’n negatiewe uitwerking op vleisgehalte het, by die diere te veroorsaak. Daar word tans slegs twee beeste per week geslag in ’n ten volle toegeruste abattoir wat van A tot Z op gehalte gemik is. Koelkamers (Foto 6) word gereguleer volgens die 10/10-reël, wat bepaal dat die temperatuur van ’n karkas nie in minder as tien ure onder 10 °C mag val nie. Wat veral uniek is tydens die verwerkingsproses, is dat beesderms van hul eie beeste gebruik word om die wors mee te stop.

Hoenders
Hoenders word in mobiele hoenderhokke grootgemaak oor ’n sesweeksiklus waar kuikens van dag een af op die grond leef. Na twee weke is hulle groot genoeg om na die mobiele hokke te skuif waar hulle baie vars lug en sonlig kry (Foto 7). Hierdie hokke word een maal per dag na ’n onbeweide stuk veld geskuif, soos in die geval van die beeste. Ekstra voeding word gegee met mielies wat op die plaas self geproduseer word. Wanneer die hoenders slaggereed is, word hulle na die abattoir geskuif waar die hele proses tot en met verpakking plaasvind.

Produkte word direk aan die verbruiker gelewer sonder enige middelman. Daar is ook twee afsetpunte in Gauteng wat op Sewe Slabberts se gehalte ingekoop het. “Afrique Boutique Hotel in Johannesburg hou slegs ons hoender, wors, maalvleis en patties aan, en Jackson’s Real Food Market in Bryanston en Kyalami, wat gesonde plaaslike, chemikalieëvrye produkte aan die verbruiker verskaf, verkoop ons hoender. Ons hart is egter daarin om direk aan families te lewer.”
Die wiskunde is eenvoudig: gesonde grond = die basis vir groei. Die moeiliker deel is egter om die natuur sy gang te laat gaan sódat jou grond gesond kan word, wat ’n wetenskap van ’n heel ander soort is, veral omdat die meeste prosesse plaasvind sonder dat die blote oog dit kan sien. Geloof speel natuurlik ’n groot rol en hierdie produsent met ’n voorliefde vir die natuur haal graag sy pa aan: “As jy boer en jy is nie ’n Christen nie, sal jy nooit een wees nie.”


In Suid-Afrika is die meeste produsente onder druk. Die kosteknyptang – duurder insette en kleiner marges – is ’n realiteit. Vir Slabbert hou herlewingslandbou egter die voordeel in dat insetkoste asook meganisasie-, diesel-, arbeids- en slytasiekoste aansienlik minder is as wat die geval by konvensionele boerdery is. “Die nadeel is wel dat dit tyd vat vir grond om weer aan te skakel en tot lewe terug te keer – en omdat dit ’n leerskool is, maak jy foute, wat baie produsente nie kan bekostig nie. Dit is hoekom jy op klein skaal moet begin. Landbou was nog altyd ’n langtermynspel. Op kort termyn het dit baie uitdagings, maar volgens my is dit op lang termyn die enigste manier om volhoubaar te boer.”
Herlewingslandbou is nie ’n vinnige oplossing nie. Dit het hom R500 000 gekos om sy infrastruktuur aan te pas sodat hy sy drakrag kon vervierdubbel. “As ek aangehou het om konvensioneel te boer met die hoeveelheid beeste waarmee ek nou boer, sou ek R25 miljoen se ekstra weiding moes bykoop. Dink só daaraan: As jy jou drakrag volhoubaar kan verdubbel, kry jy ’n plaas by.”
Dít plaas herlewingslandbou in perspektief. ’n Opname onder konferensiegangers het getoon dat 71% voel dat bewaringslandbou meer winsgewend is as konvensionele landbou.