Wintergrane in Suid-Afrika – ’n perfekte storm vir produsente

Gepubliseer: 14 April 2025

181
Marguerite Pienaar, landbou-ekonoom, Graan SA

Die wintergraanbedryf in Suid-Afrika be­vind hom tans in ’n uitdagende posisie, met verskeie faktore wat saamwerk om produsente onder druk te plaas. Onvoor­spelbare weersomstandighede soos oornat toestande in dele van die Wes-Kaap het opbrengste nadelig beïnvloed. Dit terwyl invoere jaarliks toeneem en plaaslike produsente sukkel om met internasionale markpryse te kompeteer.

Die situasie word vererger deur lae produ­sentepryse weens lae internasionale koringpryse, en die feit dat plaaslike produsente kultivars met hoë kwaliteit maar laer opbrengspotensiaal moet aanplant. Internasionaal word veral koringprodusente deur hul regerings met subsidies ondersteun, wat plaaslike produsente nóg meer op ’n ongelyke speelveld plaas. Dit knou die winsgewendheid van boerdery ernstig en dwing produsente om hul oorlewingstrategieë te heroorweeg. Hierdie kombinasie van uitdagings skep wat dikwels beskryf word as ’n “perfekte storm” vir die bedryf.

Met die druk wat aanhoudend opbou, is die vraag wat dringend gevra moet word: Wat kan gedoen word om hierdie storm te trotseer en ’n meer volhoubare en wins­gewende toekoms vir Suid-Afrika se wintergraanbedryf te verseker?

Produksie-omgewing
Produksietoestande in die Wes-Kaap was die afge­lope seisoen wisselvallig: In die Swartland het die seisoen droog begin, met grondvog wat ’n groot uitdaging tydens planttyd was. Eers in Junie is noemens­waardige reën ontvang en in groot dele heeltemal te veel saam met die koue. Kanola het onderge­middeld in die Wes-Kaap presteer. Die Suid-Kaapse seisoen het belowend begin met goeie reënval deurentyd. Hoewel gars skade gely het, was dit minder ernstig as die vorige jaar. Ongewone rypskade is in September aangemeld. In die Overberg het die seisoen goed afgeskop, maar die Bredasdorp-vlakte het baie skade gely weens oornat toestande. Moutgars het beter resultate as die vorige jaar getoon.

Suid-Afrikaanse wintergraanproduksie oor die afgelope dekade vertoon wisselvallig. Koringaanplan­tings het van 482 000 ha in 2015/2016 tot 566 000 ha in 2022/2023 gestyg, maar word op 505 300 ha vir 2024/2025 ge­raam. Koringproduksie het ’n hoogtepunt van 2 285 miljoen ton in 2021/2022 bereik.

Garsaanplantings het toegeneem van 93 000 ha in 2015/2016 tot ’n geskatte 100 000 ha in 2024/2025, met ’n piekproduksie van 586 000 ton in 2020/2021. Kanola toon die grootste groei, met aanplantings wat van 74 000 ha in 2019/2020 tot 165 000 ha in 2024/2025 gestyg het, terwyl produksie na verwagting tot 295 000 ton sal toeneem.

Hawer bly die wintergraangewas wat die minste verbou word, met klein skommelinge in area en produksie. Die opbrengs van al die gewasse toon duidelike tendense van verbetering in sekere jare, soos die merkbaar verhoogde opbrengs van koring in 2021/2022 en gars in 2020/2021. Dit is ’n aanduiding dat tegnologiese en agronomiese vooruitgang ’n rol speel in die optimalisering van produksie ondanks uitdagende toestande.

Plaaslike wintergraanopbrengste oor die jare heen is uiters wisselvallig as gevolg van onder meer ongunstige weersomstandighede. Koringopbrengste het toegeneem van 3,02 t/ha in 2015/2016 tot ’n geskatte 3,89 t/ha in 2024/2025, met ’n maksimum opbrengs van 4,36 t/ha in 2021/2022. Garsopbrengste het van 3,54 t/ha in 2015/2016 tot ’n geraamde 3,82 t/ha in 2024/2025 gestyg, met ’n piek van 4,15 t/ha in 2020/2021.

Kanola-opbrengste het verbeter van 1,25 t/ha in 2015/2016 tot 2,23 t/ha in 2020/2021, maar word vir 2024/2025 op 1,78 t/ha geskat. Hawer­opbrengste toon groot variasie – van 0,74 t/ha in 2019/2020 tot 2,18 t/ha in 2020/2021. In vergelyking met tendense in internasionale wintergraan­gewasopbrengs is Suid-Afrika se groeitempo nie kompeterend nie.

Hoe vergelyk Suid-Afrika se kwaliteit met ingevoerde koring?
Suid-Afrikaanse koringproduksie word ge­kenmerk deur hoër kwaliteit met ’n laer opbrengspotensiaal, terwyl invoerders van koring meestal koring met laer kwaliteit maar hoër opbrengs invoer.

Grafiek 4 en 5 toon die verskil in bak- en uitmaalwaarde tussen Suid-Afrikaanse en ingevoerde koring. Grafiek 4 toon dat Suid-Afrika se bakwaarde gemiddeld die beste presteer het vanaf 2006/2007 tot 2022/2023. Grafiek 5 toon die maalwaarde aan en hier kompeteer Suid-Afrika goed met lande soos Australië, Finland en Litaue.

Grafiek 1: Koring, gars, kanola en hawer: Aangeplante area
Grafiek 2: Koring, gars, kanola en hawer: Produksie
Grafiek 3: Koring, gars, kanola en hawer: Opbrengs
Grafiek 4: Bakwaarde
Bron: SAGL
Grafiek 5: Maalwaarde
Bron: SAGL
Grafiek 6: Kosteknyptang

Werklike produksiekoste
Op watter insette spandeer wintergraanprodusente die grootste gedeelte van hulle begroting? Figuur 1 tot 4 (vier verskillende jare) toon die persentasies wat koringprodusente aan die verskeie insette spandeer het.

Volgens Graan SA se werklike produksiekoste is daar ’n toename in die persentasie wat produsente aan kunsmis en kalk asook diesel spandeer as daar gekyk word na die insetmandjie as ’n geheel.

Met hierdie inligting in gedagte, toon Tabel 1 hoe wintergraanprodusente in die Suid-Kaap se begroting vir die 2024/2025-produksieseisoen lyk.

Die inkomste per ton en per hektaar wys dat die netto plaas­hekprys soortgelyk is in beide streke, maar die Suid-Kaap toon ’n effens hoër inkomste per hektaar (R4 920 versus R4 910). Die totale ver­anderlike koste is beduidend hoër in die Suid-Kaap (R10 593/ha) as in die Swartland (R8 854/ha). Dieselfde patroon geld vir die totale veran­derlike en vaste koste. Hoewel die Suid-Kaap ’n bruto marge van R4 167/ha toon, is dit laer as die Swartland se R5 876/ha. Die netto marge is egter veel laer in die Suid-Kaap (R893/ha) in vergelyking met die Swartland (R2 115/ha).

Gelykbreekopbrengste in die Suid-Kaap is hoër (2,82 t/ha teenoor 2,57 t/ha)­
en daar is ’n hoër gelykbreek-Safex-prys (R5 502,33 teenoor R5 095) om beide
veranderlike en vaste koste te dek. Die Suid-Kaap het hoër veranderlike en totale koste, wat sy winsmarge nadelig beïn­vloed. Die Swartland bied beter netto winsmarges en laer gelykbreek­vlakke, maar dit is ’n area met ’n laer gemiddelde opbrengspoten­siaal as die Suid-Kaap.

Uit die begrotings kan waargeneem word dat in ’n jaar waar die gemiddelde tot bogemiddelde opbrengs nie behaal word nie, koringprodusente nie winsgewend is nie.

Kosteknyptang
Koringprodusente in Suid-Afrika bevind hulle in ’n kosteknyptang waar die gaping tussen die koringprysindeks en insetkoste-indekse soos kunsmis, saad, masjinerie en diesel al hoe groter raak. Terwyl insetkoste skerp gestyg het, bly die koringprysindeks relatief laag, wat produsente se winsmarges onder druk plaas en die volhoubaarheid van koring­produksie bedreig.

Wat doen Graan SA om die wintergraanbedryf te ondersteun?
Graan SA speel ’n sleutelrol in die bevorde­ring van die koringbedryf in Suid-Afrika deur strategiese samewerking en inisiatiewe. In vennootskap met die Suid-Afrikaanse
Vereniging vir Graan- en Oliesadehandelaars (SACOTA) het Graan SA ’n aansoek by die Internasionale Handelsadministrasie­kommissie van Suid-Afrika (ITAC) ingedien om die basisverwysingsprys vir koring aan te pas na $289/ton en om die aankondi­gingsmetodiek te verbeter. Laasgenoemde is gedoen deur ’n meganisme voor te stel wat soortgelyk is aan die maandelikse dieselprysaankondiging.

Verder is Graan SA aktief betrokke by ’n voorteelprogram vir koring, sowel as by verskeie navorsingsprojekte in samewerking met die Suid-Afrikaanse Wintergraanbedryfs­agentskap (SAWCIA) wat daarop gemik is om innovasie en volhoubare praktyke in die bedryf te ondersteun.

Samevatting
Die wintergraanbedryf in Suid-Afrika staan voor groot uitdagings wat die volhoubaarheid daarvan bedreig. Die impak van stygende insetkoste wat produsente se winsmarges al hoe meer onder druk plaas en die kosteknyptang – waar produksiekoste aanhou styg terwyl produsentepryse nie teen ’n gelyke tempo groei nie – is van die grootste bedreigings vir plaaslike produsente.

Daarbenewens is die markomgewing waarin wintergrane geproduseer en verhandel word nie maklik nie. Produsente ondervind toenemend mededinging van invoere, terwyl ongunstige weerstoestande dikwels plaaslike opbrengste belemmer. Hierdie faktore dra by tot ’n uitdagende ekonomiese klimaat vir die bedryf. Die bedryf benodig dringend strategieë om hierdie uitdagings te oorkom en ’n meer mededingende en volhoubare toekoms vir Suid-Afrikaanse wintergrane te verseker.

Vrywaring
Die inligting hierin is verkry uit verskeie bronne, waarvan die akkuraatheid en/of volledigheid nie deur Graan SA gewaarborg word nie en waarvoor Graan SA geen aanspreeklikheid aanvaar nie. Enige pryse of vlakke hierin vervat is voorlopig en slegs aanduidend en verteenwoordig nie bod of aanbod nie. Hierdie aanduidings word uitsluitlik vir inligting en oorweging verskaf.