Beste Grootneef
Die Voortrekker-gene loop nog diep in die meeste van die Suidlanders. Vandat die grense na die noorde weer oop is, het vele die roetes daarheen met ’n 4×4 en ’n sleepwa verken. Zambië, Namibië, Angola, Zimbabwe en Botswana bly gewilde bestemmings. In die 80’s was besoeke aan Angola meestal met Ratels en Casspirs. In dese dae steek bakkies met snorkels en swaar gelaaide sleepwaens egter die grens by Ruacana oor om “onthou-jy-nog”-plekke te gaan opsoek.
Ons spannetjie is ook een jaar deur Botswana tot by Nata, en van daar tot by Kasane. Daarna is die bakkie se neus in die rigting van die Delta gerig, waarna ons deur die Caprivi tot by Katima Mulilo gevorder het en oor die brug Zambië in is.
Les een was dat ’n padkaart wel mag aandui dat ’n hoofroete daarlangs loop, maar in praktyk skaal die teerpad af tot tweespoorpaadjies deur die bosse. Die tweede les was dat dit net beter was om die nuutste tweespoorpad te volg, synde dat die vloedwater uit Angola steeds nuwe grense vir die rivierloop bepaal. Die plaaslike bevolking weet waar en wanneer om ’n nuwe paadjie met hul voertuie oop te trap – volg dit net.
Die rit was nietemin aangenaam en ons kon stadig maar seker vorder tot by ’n kampplek teen die Zambezi waar ons met vriendelikheid oorval is. Soos Oubaas van 7de Laan sou opmerk – hartlikheid uit die boonste gestoeltes. Ons is gou tuisgemaak in die kampplek waar ons as enigste kampers kon kies en keur onder watter boom ons tent wou opslaan. Soggens het ons gasheer ’n bakkie vol hout kom aflaai om die donkie te stook, en natuurlik om in die aande ’n behoorlike kampvuur te maak.
Snags kon ons die seekoeie digby ons deur die rivier hoor plas met bromgeluide. In die oggende was hul spore vars in die Zambezi-modderbank afgeëts. Soggens het ons bosvriende se boot ons kom optel om tiervis te gaan soek. As die getande blinklywe egter nie lepel wou vat nie, is ons geneem tot naby ’n rietbank om Zambezi-babers te vang. Ou Neef, babers so dik soos Os du Randt se voorarm en as hulle voor vat, voel dit soos ’n Springbokspan se voorry wat sak. ’n Zambezi-baber laat ’n katrol sing soos min ander blinklywe in die waters van moederaarde.
In ’n ander deel van die rivier kon ons hengel vir kleiner kurpers, waarna dit met ’n boog en ’n plas terug op die water gegooi is om die visarende te lok. Die visarende het vinnig ingeswiep om die meevallers te benut, somtyds so digby die boot dat jy hul vlerke se suis kon hoor.
Die Zambezi-dae het in ’n rivier van tyd saamgevloei en toe ons weer ons oë uitvee, was dit tyd om kamp op te slaan en ons bosvriende te groet. Op pad terug het ons weer die resep gevolg dat nuwe bospaadjies beter is, veral omdat die rivier steeds op sekere plekke hoër ingestoot het. Hier en daar het ons wel die water getoets om te kyk hoe diep die deurloop is en of die pad op vaste bodem is.
Alles het goed gevorder tot ons ’n sandbank raakgery het. Dis soos om met kleintyd se lilo met branderkrag agter jou stoom teen die strand te verloor. Die bakkie se gees was gewillig en hy het dapper gegrou, maar die wa was eenvoudig te swaar, met die gevolg dat ons ingemaal het tot die bakkie op sy pens loop lê het.
Nou ja, tweespoorpaadjies dra nie baie verkeer nie. Gelukkig was tyd aan ons kant en die koelsak was vol. Dit is net beter om ’n probleem te bedink met ’n koue bier in die hand. Ek het al begin kyk onder watter boom ons kamp gaan opslaan, toe ons ’n dreuning deur die bos hoor aankom.
Die blye sig was ’n ou Jeep wat gelyk het of dit by die Afrika Korps van Rommel gebuit is, met ’n windskerm wat vorentoe lê en ’n spaarwiel op die enjinkap. Daar was ’n drywer agter die stuur en ’n Indiana Jones op die passasiersitplek uitgestrek met sy voete gekruis waar daar gewoonlik ’n voorruit is. Songebrand met ’n breërandhoed, en aan sy loop kon jy sien hy is rateltaai. Na die kennismaak het Indiana, alias John Smit, drie keer om ons bakkie en slaapwa geloop, en elke keer met ’n kopskud en ’n fluit die boodskap gedra dat ons behoorlik ingegrawe is. Die enigste raad was om sy Jeep verby te trek, te anker aan ’n boom, en ons met katrol en kabel uit die dryfsand tot op vaste grond te trek.
En toe drink ons nog ’n bier, want daar was tyd en daar was ’n vol koelsak. Op my vraag wat op aarde hy so diep in die bos loop soek, het John vertel dat hy ’n tree spotter is. Hy kon duidelik sien dat ek geen begrip het waarvan hy praat nie. Dit was eintlik eenvoudig, met sy Jeep en drywer verken hy die suide van Zambië op soek na groot bome. Wanneer hy ’n groot boom met edelhout identifiseer, begin hy met die plaaslike kaptein onderhandel oor ’n prys om die boom te koop. Soms neem dit ’n dag of twee, maar wanneer die ooreenkoms beklink is, word die boom afgesaag en aangesleep tot by die Zambezi, waarna dit per boot tot by ’n saagmeule gedryf word. Hy het kop geskud oor mense wat bosreuse laat val, nie om die wonderlike hout te gebruik nie maar om houtskool daarvan te maak.
Met die groetslag het ons nommers geruil en die pad gevat. Ons op pad na die suide, en hy soek-soek in ’n westelike rigting om ’n bosreus op te spoor waarvan die plaaslike bevolking hom vertel het.
Ons het nooit weer kontak met mekaar gemaak nie. Maar soms wanneer ek ’n biertjie vat, gedenk ek die dag van die groot vassit, en dink aan John Smit wat ons uit die moeilikheid gesleep het. En dan wonder ek waar hy hom bevind en of daar nog bosreuse oor is. En of die era van tree spotters en bosreuse dalk vir ewig verby is.
Groete
Lesers kan ’n e-pos vir Kleinneef stuur na kleinneef@graingrowers.co.za.