Impak van grysblaarvlek en noordelike blaarskroei

Gepubliseer: 27 Maart 2025

147
Dr Godfrey Kgatle, navorsingskoör-dineerder, Graan SA

Noordelike blaarskroei en grysblaarvlek is twee beduidende blaarsiektes wat mielies in Suid-Afrika affekteer. Opbrengs word gewoonlik nie noemenswaardig deur hierdie siektes beïnvloed indien infeksie na fisiologiese volwassenheid voorkom
nie (R5 tot R6).

Grysblaarvlek floreer in warm, vogtige toestande en veroorsaak grys letsels wat fotosintese verminder, terwyl noordelike blaarskroei wat in koel, klam omgewings ontwikkel sigaarvormige letsels produseer wat die plant se weerstand verswak. Beide siektes word bevoordeel deur reënval laat in die seisoen en vereis geïntegreerde bestuurspraktyke, insluitend die gebruik van weerstandbiedende basters, wisselbou en swamdodertoedienings om potensiële opbrengsverliese te minimaliseer.

In Suid-Afrika is grysblaarvlek en noordelike blaarskroei veral in KwaZulu-Natal (KZN) kommerwekkend, waar die siektes al groot skade aangerig het. Onlangs is ’n toenemende voorkoms van die siektes egter in die Piet Retief-area waargeneem en dit lyk nou of dit aan die toeneem is op die Hoëveld.

Noordelike blaarskroei (links) en grysblaarvlek (regs).
Foto: Dr David Nsibo, Universiteit van Pretoria

Die toename in siektevoorkoms kan aan verskeie faktore toegeskryf word:

  1. Omgewingstoestande wat bevorderlik is vir siekte-ontwikkeling.
  2. Kultivarkeuse: As produsente bewus is van siektedruk in ’n sekere streek, moet hulle dit oorweeg om weerstandbiedende kultivars saam met opbrengsprestasie te gebruik.
  3. Die opbou van inokulum as gevolg van die verbouing van mielies in dieselfde area vir opeenvolgende jare kan siektedruk verhoog.
  4. Opslagmielies en -onkruid: Mielies en onkruid soos Johnsongras van vorige oeste kan bydra tot die opbou van inokulum.
  5. Spuitprogramme: Produsente in KZN implementeer dikwels tot drie spuitprogramme per seisoen, terwyl ander streke slegs een keer swamdoder toedien op sesblaarstadium.

Hoë vlakke van inokulum kan lei tot wydverspreide infeksies. In sulke gevalle, waar produsente ’n hoëropbrengskultivar wat minder weerstandbiedend is gebruik het, kan ’n tweede bespuiting nodig wees, alhoewel dit gespesialiseerde toerusting vereis.

Noordelike blaarskroei en grysblaarvlek is siektes wat goed verstaan word en hanteerbaar is in Suid-Afrika, en hul verhoogde voorkoms op die Hoëveld sal waarskynlik nie ’n noemenswaardige impak op totale mielieproduksie hê nie. Ernstige infeksies tydens die kritieke stadiums van pluimvorming (VT) tot graanvul (R2 tot R3) kan egter individuele produsente beïnvloed, veral deur verminderde opbrengs of kwaliteit. Ekstra spuitprogramme dra ook aansienlik by tot die produksiekoste om mielies in hierdie gebiede te produseer.

’n Land in KwaZulu-Natal wat geïnfekteer is met noordelike blaarskroei en grysblaarvlek.
Foto: Dr David Nsibo, Universiteit van Pretoria