
Grain SA is aware of the recent African armyworm outbreaks that started in Bronkhorstspruit in Gauteng, Carolina and Badplaas in Mpumalanga, and have since spread to the North West and Limpopo provinces. Because of their migratory nature, African armyworms have now been spotted in the Free State as well.
Kommandowurm (Spodoptera exempta) is ’n sporadiese, migrerende plaag wat Suid-Afrika af en toe vanuit lande van Sentraal-Afrika binnedring.
Hulle arriveer gewoonlik vanaf Januarie tot April wanneer windpatrone die vlieënde motte na die streek dra. Daar is tans uitbrekings in Zimbabwe en Malawi. Alhoewel kommandowurm aansienlike skade kan aanrig aan veldgraslande, kikoejoe-grasperke en mielies, is dit belangrik om daarop te let dat hierdie insekte tipies nie in Suid-Afrika aanteel nie as gevolg van die kouer klimaat en dat hulle populasies voor die winter afsterf.
Mielieprodusente in Mpumalanga en Gauteng wie se gewasse verby die pluimstadium is, hoef nie besonder besorg te wees nie aangesien die kommandowurm jonger, varser mielieplante verkies wanneer die weidingsvoedselbron uitgeput is. Indien die kommandowurm egter na jonger mielies in ander provinsies migreer, kan dit ’n groter bedreiging inhou. Die kommandowurmlarwes vreet die hele blaar en los net die are oor. Hulle beskadig ook die mieliebaard en punte van die mieliekoppe as daar is.

Veeprodusente word aangemoedig om hul weiding noukeurig te monitor vir skielike veranderinge wat deur kommandowurm-infestering veroorsaak word. Dit kan insluit verlaagde kwaliteit van beskikbare weiding sowel as moontlike toksisiteit van sommige kikoejoevariëteite wat veroorsaak word deur ’n chemiese reaksie van die plant teenoor die kommandowurm.
Wat mielieproduksie betref, moet produsente waaksaam bly vir enige tekens van die plaag. Na ’n paar interaksies met produsente blyk dit daar is gevalle waar kommandowurm met bolwurm verwar is. Kommandowurms het ’n gladde, silindriese lyf met duidelike strepe oor die lengte en ’n donker kopkapsule, terwyl bolwurms ’n meer robuuste, effens harige lyf het met veranderlike kleur en ’n minder duidelike streeppatroon.
Vir produsente wie se weidings erg geraak is, beveel CropLife SA geregistreerde piretroïed-insekdoders aan wat toegedien kan word om kommandowurm-uitbrekings op veld, weiding en verskeie gewasse te beheer.
Indien kolonies teëgekom word, rapporteer dit asseblief aan Graan SA (dr Godfrey Kgatle by godfrey@grainsa.co.za) en die Departement van Landbou se Direktoraat Rampbestuur en Klimaatsverandering (John Tladi by JohnTL@dalrrd.gov.za). Deurlopende monitering is van kritieke belang om uitbrekings te bestuur, en insigte word verskaf deur dr Shandukani Netshifhefhe, entomoloog van die Tshwane Universiteit van Tegnologie.