OORPLANT – WANNEER MAAK DIT SIN?

Gepubliseer: 3 Maart 2025

103
Dr Aart-Jan Verschoor, LNR-Agrimetrie

Dit gebeur soms aan die begin van ’n groeiseisoen dat ’n produsent se harde werk om die saad in die grond te kry, op min uitloop. ’n Aanplanting kan skade kry – soms tot so ’n mate dat ’n misoes dreig. Die rede is meestal ’n natuurverskynsel: ’n periode van besonderse hitte en droogte, ’n pes soos sprinkane of wurms wat groot skade veroorsaak of ’n storm met hael, kwaai wind of selfs verspoeling.

Op hierdie stadium moet die produsent besluit of daar nog tyd in die groeiseisoen is om ’n oes te kan kry met die bestaande stand en of dit sin maak om oor te plant. Die vraag is verder of dit ekonomies sin maak; of koste verhaal en wins steeds gemaak kan word. Dit kan ook meer kompleks wees: As daar nie geplant word nie, kan die verlies aan inkomste die produsent se reputasie en kanse op finansiering dalk in die toekoms knou.

In hierdie kort artikel word die faktore wat die produsent in gedagte moet hou vlugtig bespreek. Omdat elke produsent se situasie uniek is as dit kom by grond, klimaat, ander hulpbronne en die spesifieke ondernemings en gewasse, is hierdie nie ’n diepgaande ekonomiese analise nie, maar ’n bespreking oor die beginsels wat in ag geneem behoort te word.

Faktore van belang
Die produsent kan begin deur ’n paar belangrike punte te oorweeg:

  • Stel vas wat die huidige beskadigde stand se opbrengspotensiaal en waarde is.
  • Bepaal ’n oorgeplante stand se opbrengspoten­siaal en waarde.
  • Bereken die verskil.
  • Bepaal die addisionele oorplantkoste en vergelyk dit met koste reeds aangegaan.

Dit is in wese dus ’n kostevoordeelsom, wat maklik klink maar natuurlik nie so eenvoudig is nie.

Die produsent kan redeneer dat hy reeds aansienlik in die spesifieke land belê het deur grondvoorbereiding, pes- en plaagbeheer en voedingstatus. Gaan hierdie belegging in die volgende seisoen nog van waarde wees of moet dit verkieslik nou benut word? ’n Ander oorweging is watter koste weer aangegaan moet word – en hier is die belangrikste koste natuurlik saad. Afhangend van die gewas, is insetkoste seker een van die grootste kopsere van ’n produsent – en saad is beslis nie ’n geringe deel hiervan nie. Die beskikbaarheid, prys en aard van die saad (korter groeiseisoen) sal hier bepalend wees.

Dan moet die produsent ander verdere koste oorweeg soos meganisasie, brandstof en arbeid. Tyd is ook ’n belangrike faktor. Is daar nog voldoende tyd om met die beskikbare kultivar, wat mededingend geprys is, ’n oes te behaal?

Kortliks gestel: ’n Persentasie van die tipiese insetkoste vir ’n aanplanting verdubbel eenvoudig. Die hoofoorweging is of daardie geskatte verdere koste steeds ’n gelykbreekpunt en wins moontlik maak.

Slotsom
Twee beginsels staan uit: Eerstens moet die reken­kunde reg wees – akkurate somme is deurslag­gewend. Ja, daar sal aannames wees oor opbrengs, koste en prys, maar hierdie is tog ingeligte skattings. Die tweede beginsel is dat die produsent sy plaas, sy grond en sy hulpbronne (natuurlik, fisies en menslik) moet ken. Hierdie kennis van die potensiaal van gegewe hulpbronne is bepalend. Verder is dit be­langrik om te weet hoe lank die vensterperiode vir vestiging is – dit help nie om oor te plant as die opbrengs waarskynlik suboptimaal gaan wees nie.

Om oor te plant of nie is duidelik nie ’n maklike besluit nie. ’n Ingeligte besluit, gebaseer op goeie data en kennis, is egter noodsaaklik en kan die verskil beteken tussen ’n misoes en ’n redelike oes – of selfs ’n goeie resultaat. Sterkte aan al die produsente – mag die laat reëns voldoende wees.