MEGANIESE BESTUUR VAN WINTERONKRUID

Gepubliseer: 3 Maart 2025

164
Richard Krige, produsent en visevoorsitter,
Graan SA

Die grootste bedreiging vir droëlandgraanverbouing in die Wes- en Suid-Kaap bly die bestuur van weerstandbiedende onkruide en hul effek op die opbrengs en kwaliteit van graan geproduseer.

Daar word algemeen aanvaar dat 98% van raaigrasonkruide beheer kan word deur onkruiddoders, gewaskompetisie en natuurlike saadverrotting. Weerstandige onkruide is egter besig om hierdie prentjie vinnig te verander. SA Graan/Grain het al verskeie artikels hieroor gepubliseer. Die gebruik van meganiese alternatiewe raak al hoe belangriker vir volhoubare, winsgewende produksie.

Klimaatsverandering en wisselvallige reënval is van die bedreigings wat graanprodusente moet trotseer. Moderne landboupraktyke en bewaringslandbou help om hierdie situasie en sy risiko’s te bestuur, maar die volhoubaarheid van die stelsel word grootliks beïnvloed en bedreig deur onkruidweerstand en die kompleksiteit van onkruidbestuur.

Belangrike areas vir die bevordering van volhoubare bewa­ringsboerderypraktyke is die gebruik van chemie asook meganiese en bewerkingsaksies.

Volgens navorsing gedoen deur Weedsmart® in Australië is daar ses fokusareas as dit kom by onkruidbestuur en die vermindering van die saadbank in die grond tot volhoubare en aanvaarbare vlakke. Alhoewel hierdie artikel fokus op die meganiese bestuur van onkruid op plaasvlak, is die volgende ses areas deel van ’n holistiese benadering:

  1. Gewasrotasie en vestiging van weidingsgewasse
  2. Verhoging van gewaskompetisie
  3. Meng en rotasie van onkruiddoders
  4. Optimalisering van onkruidbespuitings
  5. Voorkoming van onkruidsaadset
  6. Implementering van oestydonkruidbestuur

Daar kan heelwat oor elkeen van die aspekte uitgebrei word. Meganiese bestuur en beheer kan wel meer as een van die ses areas insluit.

Verskeie opsies met gevolglike verskille in koste bestaan. Plase verskil ook as dit kom by die bestuur en die insluiting van ’n veekomponent.

Meganiese bestuursopsies vir onkruidbestuur
In die wintergraanproduksiegebiede word ’n toename in die bewerking van grond met tandimplemente waargeneem. Met bewa­ringsboerderybeginsels in ag geneem, waar minimum bewerking as ’n hoeksteen gesien word in ’n poging om die struktuur en waterhouvermoë van die grond te verbeter, is hierdie bewerkings grootliks daarop gemik om onkruide te stimuleer om te ontkiem. Sekere gronde het ook van tyd tot tyd diep bewerking nodig afhangende van die grondtipes en grondprofiele.

Daar is egter risiko’s van erosie wat terugkruip in die sisteem met enige bewerking en dat onvoldoende reënval voor plant veroorsaak dat onkruide ontkiem saam met die gewas wat geplant word. Dit plaas weer druk op die chemiese middels wat gebruik word. Daar is nie meer ’n enkele onkruiddoder wat 100% doeltreffende werking gee nie.

Gaan die ploeg se terugkeer gesien word? Produsente begin terugkeer na dié implement en doen plaasproewe met die ploeg! Dit bly ’n opsie vir ’n vars en nuwe begin waar onkruidpopulasies noemenswaardig is en dit nodig is om ’n herstelknoppie te druk! Topografie en grondtipes sal die uitkoms hier beïnvloed, maar dit is beslis ’n opsie om sekere onkruidspesies diep te begrawe.

Om kaf in ’n nou band of op die wielspore te plaas is ’n goedkoop en effektiewe opsie waar spoorverkeer toegepas word en geen vee aanwesig is nie. Al die materiaal wat oor die siwwe beweeg word in een ry of op die twee spore geplaas. Die verrotting van die materiaal vernietig onkruidsade. Dit is maklik om te implementeer en navorsinghet getoon dat waar 2 200 raaigrassade per lineêre meter geoes deur die stroper beweeg het, gemiddeld net 7 sade/m2 met dié metode ontkiem het. In dié stelsel het die beweiding van die reste met skape vir vier maande die materiaal met 38% verminder en die toename in ontkieming van onkruidsade na 84/m2 verhoog. Die windrye kan egter die nutriëntelading naby die spoor verhoog en onegalige stand en rypwording tot gevolg hê. Die brand van die windrye kan ook oorweeg word. Waar beheerdeverkeer-ryspoorgebruik toegepas word, trap die implementbande onkruide dood. Verder kan aanpas­sings aan onkruidspuittoerusting gemaak word om hierdie spoorrye met chemiese middels te bespuit.

In die verlede het elke produsent na oestyd ’n pakkie Lion-­vuurhoutjies gehad wat voor in die bakkie gelê het – die brand van oesreste het algemeen plaasgevind. Dit was hoofsaaklik die bestuur van oesreste wat die praktyk bevorder het. Met die koms van bewa­ringsboerdery het die brand van reste gestop. Die behoud van reste en die opbou van koolstof in die grond is as prioriteit gesien en moderne masjiene het gehelp om die oesreste beter te bestuur. Met die behoud van die reste het naak- en dopslakke egter hul verskyning gemaak. As deel van die bestuur van dié plae is daar weer selektief lande gebrand veral waar breëblaargewasse geplant sou word, aangesien dié gewasse veral vatbaar is vir slakskade.

Navorsing toon nou egter die waarde daarvan om lande te brand vir onkruidbestuur.

Die baal van oesreste agter die stroper, insluitend die kaf, is nog ’n meganiese opsie beskikbaar aan produsente. Die verwydering van nutriënte vind wel met dié metode plaas, maar dit kan vir dierevoeding en verskeie ander aanwendings gebruik word. Ongeveer 70 kW word egter benodig vir die baler. Die baal van alle reste is baie meer effektief om onkruidsade te verwyder as om na die tyd te baal of windryplasing van die kaf. Waar daar ’n mark is vir strooi bly hierdie ’n goeie opsie, maar dit is duur as daar geen mark beskikbaar is vir die gebaalde materiaal nie. Beddegoed vir byvoorbeeld hoenders is ’n verdere moontlikheid. Na gebruik kan dit gekomposteer word en die kompos kan weer op lande versprei word.

Kafkarre wat agter stropers gesleep word, is soortgelyk aan die baal van die materiaal. Al die kaf word vanaf die land verwyder, in ’n kafkar geplaas en langs die land gestort. Dit kan in rye gedoen word om dit maklik te brand of dit kan vir dierevoeding gebruik word. Die kaf sal gebreekte pitte en onkruidsade insluit en goeie voeding wees. Minder as 3% van raaigrasonkruidsade wat deur skape se verteringstelsel beweeg is nog groeikragtig. By beeste is die syfer 40%.

Nuwe tegnologie
’n Kafmeule is een van die effektiefste meganiese beheermaatreëls vir onkruidbestuur. Dit is egter nie goedkoop nie! Die meeste vervaardigers het beweeg na beltaangedrewe stelsels, met aandrywing direk vanaf die enjin van die stroper. Hierdie stelsel voer al die kaf wat oor die siwwe kom tydens die oesproses in ’n tipe vinnig bewegende meule (so hoog as 4 000 omwentelings per minuut) wat die saad me­ganies beskadig.

Die tegnologie verbeter elke jaar met meer ekonomiese en effektiewe eenhede wat mark toe kom. Vervaardigers van stropers begin die tegnologie aanvaar en sommige stropers is reeds aangepas vir die toevoeging van hierdie meulens. Die vernie­tiging van die onkruidsaad word deur verskeie faktore beïnvloed, soos die ontwerp, spoed, deurvloei, spesie van onkruid, saadgewig en vog. Die effektiwiteit word gemeet ten opsigte van raaigras omdat dit histories die grassoort is wat die moeilikste is om te vernietig. In onafhanklik toetse is bevind dat tussen 95 en 99% van raaigrassade wat deur sekere meulens beweeg, vernietig word.

Die kapasiteit van die meulens wissel en hulle benodig omtrent 72 kW. Dit kan die oestempo aansienlik verlaag omdat meer krag gebruik word vir die meule wat die kapasiteit van die stroper wegneem. Dit sal weer langer staantye van graan veroorsaak wat beteken dat minder sade deur die stroper beweeg vir vernietiging. Tussen 50 en 90% van onkruidsade (raaigras en wilde radys) beweeg deur ’n stroper tydens die oesproses afhangende van die tyd van oes. Enjinherkartering is een manier wat gebruik word om die ekstra krag te voorsien wat benodig word vir die meule. Die aankoop van ’n groter stroper as wat benodig word, is ook ’n opsie.

Die koste van die toerusting en krag benodig bly die grootste nadele van hierdie tegnologie. Verskillende gewasse beïnvloed ook die kapasiteit van die meule anders. Die meeste blokkasies word by kanola gerapporteer – veral groen kanola. Koring het die hoogste vlak kaf teenoor opbrengs, terwyl gars ’n effens hoër oes­residuverhouding teenoor opbrengs het. Die strooikomponent is egter hoër, so die kapasiteit is hoër met gars as met koring.

2019-navorsing deur die Kondinin Group, gebaseer op 2019 se nasionale landbousensus in Australië, het getoon dat die vlak van implementering van sommige van die bogenoemde metodes van mekaar verskil, maar dat 42% van produsente op daardie stadium ten minste twee metodes geïmplementeer het.

Slotopmerking
Wat hulpbronne betref, is die ontwikkeling van nuwe onkruiddoders beperk omdat dit in sekere groepe val, afhangend van die metode van werking. Terwyl navorsing nuwe metodes van werking ondersoek en nuwe middels wat in nuwe groepe geklassifiseer word probeer ontwikkel, is dit belangrik om hierdie middels en groepe middels te probeer beskerm met die implementering van alternatiewe benaderings.

Produsente sal noodgedwonge meganiese oplossings moet oorweeg en implementeer volgens hul bestuur en omstandighede. On­kruidweerstand gaan mettertyd ’n al hoe groter uitdaging word, en alle hulpmiddels sal aanvaar en ingespan moet word!

Bron
https://www.weedsmart.org.au/