Plaaslike of ingevoerde grondbone – WAT LÊ OP JOU BORD?

Marguerite Pienaar, landbou-ekonoom, Graan SA
Gerhard Burger, landbou-ekonoom intern, Graan SA
Gepubliseer: 6 Februarie 2025

317

Suid-Afrika produseer sedert die 19de eeu grondbone, met die eer­ste aangetekende produksie wat in 1843 begin het. Plaaslike grondbone word hoofsaaklik verbou in die Vrystaat, Limpopo en Noord-Kaap, wat deel uitmaak van die somerreënvalgebiede.

In Suid-Afrika word meestal die Spaanse variëteit verbou. Verskeie kultivarteelprogramme word egter gebruik om nuwe kultivars te ontwikkel om in die bedryf se behoeftes te voorsien. Grondbone maak ’n uitstekende wisselbougewas aangesien dit as ’n peulgewas beskou word. Peulgewasse het ’n unieke vermoë om ’n simbiotiese verhouding met bakterieë in hul wortelknoppies te vorm, wat stikstof vanuit die lug in die grond bind. Daardeur word die grond weer verryk met stikstof. Hierdie voordeel kan veral in mie­lierotasies gebruik word.

Grondbone word wêreldwyd as peuselhappies verbruik, waarvan die gewildste geroosterde en gesoute grondbone asook grondboontjiebotter is. Dit word ook gekook en is gewild om gepers te word, aangesien dit ’n proteïenryke olie produseer.

Plaaslike produksie en verbruik
Plaaslike produksie van grondbone het die afgelope 20 jaar afgeneem van 71 500 ha aangeplant in die 2004/2005-seisoen tot 31 000 ha in die 2023/2024-seisoen.

Baie word deur die Suid-Afrikaanse Grondboonforum gedoen om produksie te bevorder aangesien grondbone goeie opbrengs­te lewer en omdat dit ’n uitstekende wisselbougewas vir mieliewisselbou kan wees.

Die vraag na grondbone het die afgelope 20 jaar relatief stabiel gebly en gewissel tussen 100 600 t/jaar en 68 800 t/jaar. Die grondboonvoorraad was egter meer wisselvallig en het van meer as 140 000 ton in die 2004/2005-seisoen tot ’n laagtepunt van 38 700 ton in 2021/2022 gedaal. Hierdie wisselvalligheid in die plaaslike aanbod van grondbone bring onsekerhede vir verwer­kers en kan veroorsaak dat hulle ingevoerde produkte verkies.

Grafiek 1: Totale kommersiële vraag en aangeplante hektare
Bron: Graan SA
Grafiek 2: Vraag en aanbod van grondbone
Bron: Graan SA
Grafiek 3: Invoere en uitvoere van grondbone per jaar
Bron: SAGIS
Grafiek 4: Hoeveelheid keurgraadgrondbone geproduseer sowel as ingevoer (ton)
Bron: SAGIS

Grondboonkwaliteit
In Suid-Afrika word die gradering van grondbone gelei deur standaarde wat deur die Departement van Landbou ingestel word. Die graderingsproses neem die grootte en vorm, voginhoud, defekte en aflatoksien­vlakke van die pitte in ag. Faktore soos die hoeveelheid vreemde materiaal (klippe, doppe en onsuiwerhede asook variëteits­onsuiwerhede) kan ook die gradering van grondbone beïnvloed.

Vergelyking van grondbone (invoere, uitvoere en die globale mark)
Uitgevoerde grondbone
Suid-Afrika voer hoofsaaklik grondbone van hoë gehalte uit na Europa, Asië en ander streke. Uitgevoerde grondbone moet voldoen aan streng aflatoksienstandaarde van die Europese Unie (EU). Uitvoerprodukte het dikwels ’n hoë doppersentasie, wat dui op groter pitte en min­der defekte.

Ingevoerde grondbone
Suid-Afrika voer hoofsaaklik grondbone in om plaaslike voorraad tydens tekorte aan te vul om in die vraag te voorsien. Sommige ingevoerde grondbone, veral uit streke met minder streng regulasies, kan hoër vlakke van aflatoksiene of swakker grade hê. Ingevoerde bone is dikwels goedkoper weens laer kwaliteitstandaarde in vergelyking met plaaslik verboude variëteite.

Grafiek 4 toon die hoeveelheid inge­voerde grondbone teenoor die hoeveelheid plaaslik gelewerde grondbone vanaf produsente vir Suid-Afrika. Dit is duidelik dat die meeste produsentelewerings ’n keurgraadgrondboon van hoë gehalte is. Invoere van keur­graadgrondbone was laag in 2022, maar het spoedig herstel in 2023. Grondboonprodusentelewerings ervaar tans ’n afname nadat dit in 2017 ’n hoogtepunt van meer as 52 000 ton bereik het. In 2023 is slegs 28 000 ton gelewer. Grafiek 4 bevestig die wisselvallige aard van grondboonproduksie.

In die internasionale grondboonbedryf is die Verenigde State die voorloperprodusent, met Indië en die VSA die grootste uitvoerders van grondbone. Grondboonproduksie het mettertyd toegeneem, hoofsaaklik as gevolg van die ontwikkeling van nuwe kultivars. Daarteenoor is Suid-Afrika ’n netto invoer­der van grondbone weens die afname in produksie soos hierbo gesien. Suid-Afrika voer hoofsaaklik sy grondbone uit Brasilië in. Grondboonperse en grondboonolieproduksie vorm ’n baie klein deel van die Suid-Afrikaanse mark. Grondbone van hoë gehalte, geklassifiseer as Keurgraad 1 en Keurgraad 2, word hoofsaaklik na markte soos Japan en Nederland uitgevoer of plaaslik verkoop vir gebruik in die peuselhappiebedryf, soos ge­roosterde of gegeurde produkte. Vanaf Maart 2024 tot Augustus 2024 het Suid-Afrika ’n groot tonnemaat na België en Japan uitgevoer.

Die handhawing van konsekwentheid in beide die kwaliteit en hoeveelheid grondbone wat aan internasionale markte verskaf word, soos Japan en Nederland, is noodsaaklik om plaaslike pryse te ondersteun en die langtermynvolhoubaarheid van die grondboonbedryf te verseker.

Ten slotte word Suid-Afrikaanse grondbone hoog aangeslaan vir hul voortreflike gehalte en veiligheid, wat dikwels die meeste ingevoerde variëteite oortref. Uitgevoerde grondbone uit Suid-Afrika geniet ook ’n reputasie dat hulle aan streng internasio­nale standaarde voldoen, wat hulle ’n voorkeurkeuse in premiummarkte maak.