Blink toekoms vir kanola in die noorde

Gepubliseer: 6 Februarie 2025

329
Valerie Cilliers,
SA Graan/Grain-medewerker

Kanola is ’n veelsydige en waardevolle gewas wat wêreldwyd gewild geword het vir sy olieryke sade. In Suid-Afrika word kanola hoofsaaklik in die Wes-Kaap as ’n wintergewas verbou. Onlangse ontwikkelinge het egter belowende potensiaal getoon vir die verbouing van kanola onder besproeiing in die noordelike dele van die land gedurende die wintermaande.

“Die potensiaal van kanola onder besproeiing in dele waar dit tradisioneel nie voorheen verbou is nie, is beduidend, veral in die lig van die dalende winsgewendheid van koring,” sê Heleen Viljoen, landbou-ekonoom by Graan SA. Sy voeg by dat die kanolamark in die noorde nog besig is om te ontwikkel. “Die samewerking en inisiatiewe van die hele landbousektor sal verseker dat kanola onder besproeiing ’n haalbare alternatiewe gewas word.”

Jaco Strauss van Strauss Seed & Co sê sy maatskappy werk al die afgelope drie jaar nou saam met die Wes-Kaapse Departement van Landbou om boeredae in die noorde van die land aan te bied. Met blomtyd in Augustus sal daar weer ’n groot boeredag in Lydenburg aangebied word en hierdie jaar is die fokus op variëteite en variëteits­proewe vir die area.

Jaco Strauss van Strauss Seed & Co by ’n kanola-aanplanting op Badfontein naby Lydenburg.

Waarom kanola plant?
Kanola floreer in koel, vogtige toestande, wat die wintermaande in die noordelike dele van Suid-Afrika ideaal maak vir sy verbouing onder besproeiing. Kanola is om verskeie redes ’n aantreklike gewas:

  • Wisselbou: Kanola kan in wisselboustelsels gebruik word, wat help om plaag- en siektesiklusse te breek en grondgesondheid te verbeter.
  • Hoë olie-inhoud: Kanolasade bevat ongeveer 40 tot 45% olie, wat dit ’n waardevolle gewas vir olieproduksie maak.
  • Voedingsvoordele: Kanola-olie is laag in versadigde vette en hoog in omega-3-vetsure, wat dit ’n gesonde keuse vir verbrui­kers maak. Oliekoek is ’n byproduk wat as proteïenbron in veevoer gebruik word.

Strauss meen die feit dat kanola vroeër van die lande af kan kom beteken dat die spilpunt vinniger beskikbaar is vir die opvolggewas. “Ons wil vroeg of middel April die kanola reeds in die grond hê om middel of einde Oktober te oes. Sodoende kan jy vroeg in November reeds begin mielies of katoen plant,” verduidelik hy.

’n Verdere voordeel van kanola onder besproeiing is dat die opvolggewas se potensiaal gemiddeld ’n opbrengsverhoging van 10 tot 15% toon. Daar is dus ’n definitiewe verbetering in die grond.

Volgens Viljoen kan die aanplant van kanola in die noorde voordelig wees vir die verspreiding van inkomste, grondgesondheid en winsgewendheid. “Oliesade behaal oor die algemeen hoër pryse as gevolg van olie-inhoud en die proteïenwaarde vir dierevoeding.”

Hoe lyk die mark in die noorde?
Daar is ’n groeiende vraag na kanola-olie, beide plaaslik en internasionaal, wat produ­sente ’n winsgewende mark bied.

Die twee kanolaperse in Krugersdorp en Marble Hall het tans saam die kapasiteit om 60 000 ton kanola te pers. Volgens Strauss word ’n ekonomiese eenheid as 3 t/ha be­skou. Daar is dus ruimte vir die aanplant van 20 000 ha kanola om aan die twee perse in die noorde te voorsien. Tans word daar sowat 3 000 ha kanola onder besproeiing in die noorde aangeplant. Strauss glo dat daar meer perskapasiteit sal wees sodra hektare begin groei en meer perse tot stand kom.

Daar is ook ’n groot poging om kanolahektare onder besproeiing in die Noord-Kaap te laat groei. Die Wes-Kaapse Departement van Landbou was in 2024 hierby betrokke en het verskeie boeredae aangebied en plaasbesoeke afgelê. “Die voordeel vir produsente in die noorde is dat enige surpluskanola in die Wes-Kaap uit Kaapstad uitgevoer word. Die mark in die noorde sal dus nie deur Kaapse kanola oorversadig word nie. Jy gaan altyd ’n afset hê,” voeg Strauss by.

“Sodra die voorraad sterk is, is dit moontlik om beter pryse te beding. Ons het meer hektare daarvoor nodig. Ons werk tans nou saam met Graan SA vir die ontwikkeling van die gewas in die noorde.”

Insetkoste
Volgens Strauss klop die somme tans beter met kanola as met koring. Insetkoste vir kanola onder besproeiing beloop R17 000/ha in vergelyking met koring se R34 000/ha. “Dit beteken nie dat produsente koring uit hul produksiestelsel moet haal nie. Met kanola kan hulle beter diversifiseer en risiko versprei.”

Wat bemesting betref, sê Strauss hulle het met die aanplant van proewe bemes vir 3 ton en sommige plekke 3,8 en 4 ton geoes. “Die potensiaal is beslis daar om geld te maak.” Hy voeg by dat die noorde van die land meer hitte-eenhede in die dag verskaf, wat vir kanola voordelig is. “Deur besproeiing het jy ook beter beheer oor water­hoeveelhede. Ryp in die blomstadium is wel ’n probleem en kan kanola knou, maar selfs deur dit het ons goeie resultate gesien,” voeg hy by.

Volgens Strauss is kanola ’n maklik bestuurbare gewas. “Met die regte kultivar kan siekte- en insekdruk maklik bestuur word.” Hy noem dat dit belangrik is om te bepaal wat die opvolggewas gaan wees voordat ’n onkruidbeheerprogram gekies word. “Jou opvolg­gewas bepaal of jy geneties aangepaste kultivars soos Cl Clearfield® (imasamoks-tolerant), TT-kultivars (triasien-tolerant) of konvensionele kultivars moet plant.”

“Hoewel dit reeds wêreldwyd aangeplant word, is daar ongelukkig nog nie in Suid-Afrika ’n Roundup Ready-variëteit (RR) beskikbaar nie. Daar is egter tans groot onderhandeling om RR-variëteite die land in te bring. Die meeste tegnologie en genetika word in Australië, Pole en Kanada ontwikkel en dit lyk tog of daar ’n poging is om plaaslike saadproduksie onder ’n lisensie te doen,” voeg hy by.

Strauss waarsku dat produsente vroeg saad moet bestel. “Teen einde Maart moet ’n produsent reeds die saad hê om te plant. Jy moet vroeg bestel aangesien voorraad soms tot meer as ’n maand in die hawe lê voor dit by die produsent uitkom.”

Lewering en infrastruktuur
Lewering word tans in Lydenburg by die Klipfonteinsilo’s gedoen en TWK doen die bemarking. “Deur verdere gesprekke met landboubesighede hoop ons om plekke soos Delareyville, Lichtenburg en Sannieshof te oormerk vir lewerings. Dit hang af van wat in die volgende paar jaar gaan gebeur. Die grootste uitdaging wat lewering betref is die feit dat die oes einde Oktober reeds inkom. Die afset is Desember of Januarie en die stoor van opbrengste raak dus ’n probleem.”

Strauss sê hulle beoog om binne die volgende drie tot vier jaar genoeg data bymekaar te maak om ’n handleiding oor kanola­produksie onder besproeiing beskikbaar te stel. Hy verduidelik dat daar in die verlede nie baie ontwikkeling en navorsing oor kanola onder besproeiing gedoen is nie. Die fokus was altyd grotendeels op droëlandkanolaverbouing in die Wes-Kaap.

Kanola onder besproeiing in die Lydenburg-omgewing.

Uitdagings en oplossings
Alhoewel die potensiaal vir kanolaverbouing in die noordelike streke belowend is, is daar ’n paar uitdagings om te oorweeg:

  • Plaag- en siektebestuur: Kanola is vatbaar vir plae soos plantluise en siektes soos swartstam en Sclerotinia. Geïntegreerde plaagbestuurspraktyke en weerstandbiedende variëteite kan help om hierdie probleme te mitigeer.
  • Waterbestuur: Doeltreffende watergebruik is noodsaaklik om versuiping te voorkom en optimale gewasgroei te verseker. Die implementering van gevorderde besproeiingstegnologieë en -praktyke kan hier help.
  • Grondbestuur: Grondontledings is belangrik om die regte bemestingsprogram op te stel. Die meet van grondvog voorkom oorbesproeiing. Laasgenoemde het loging van voedingstowwe tot gevolg en kan opbrengsverwagtings benadeel.

Gevolgtrekking
Die verbouing van kanola onder besproeiing gedurende die winter in die noordelike dele van Suid-Afrika hou aansienlike potensiaal vir produsente in. Met die regte praktyke en bestuurstrategieë kan kanola ’n waardevolle toevoeging tot die landboulandskap word, wat ekonomiese voordele bied en bydra tot volhoubare boerderypraktyke. Soos meer produsente hierdie geleentheid verken, lyk die toekoms van kanola in Suid-Afrika blink.

Groot voordeel vir byepopulasies
Jaco Prinsloo van Blossom Valley-byeboerdery in die Groblersdal-omgewing sê die toenemende aantal hektare kanola onder besproeiing verseker dat byeboere genoeg kos vir hul bye gedurende die winter het. “Ek het self vier jaar gelede begin om kanola aan te plant omdat daar te min kos was vir die oorwintering van ons bye. Die aantal hektare aalwyn in die omgewing is te min en die risiko te hoog omdat byekaste gesteel word. Daar is tans ’n hele paar produ­sente wat kanola aanplant, en ons werk nou saam met hulle om te verseker dat ons bye nie doodgespuit word nie.

Die bye wat op kanola oorwinter, is baie sterker, aangesien die stuifmeel se proteïeninhoud hoog is. Dit stel ons in staat om hoë­kwaliteitbestuiwingseenhede aan sitrus- en vrugteboere in die omgewing te bied vir boorde wat van middel Augustus tot Oktober bestuif moet word,” voeg hy by.

Vir meer inligting oor kanola onder besproeiing kontak Jaco Strauss by 071 440 2167.