Koring, die tweede belangrikste graangewas na mielies in Suid-Afrika, se 2023/2024-bemarkingsjaar het met ’n oes van 2,05 miljoen ton afgesluit. Ten spyte van ’n uitdagende produksieseisoen is dit net meer as die vyfjaar- gemiddelde oes van 1,98 miljoen ton. Daarenteen is 1,93 miljoen ton koring ingevoer, ietwat meer as die tienjaargemiddeld van 1 644 161 ton.
Die meeste van die ingevoerde koring word met plaaslike koring vermeng om ’n spesifieke samestelling vir maal- en bakkwaliteitsbehoeftes te realiseer. Suid-Afrikaanse koring staan geensins terug vir hierdie invoere vanaf Rusland, Oos-Europa en Australië nie. Inteendeel, volgens analises wat deur die Suider-Afrikaanse Graanlaboratorium (SAGL) op ingevoerde koring gedoen word, is dié besendings dikwels van laer gehalte as die plaaslike produk.
Plaaslik word daar jaarliks nuwe broodkoringkultivars vrygestel in ’n poging om die koringbedryf landswyd (Grafiek 1) te voorsien van nuwe kultivars wat agronomies goed presteer en oor geskikte reologiese, maal- en bakeienskappe beskik. Omdat Suid-Afrika in ’n vryemark- ekonomiese stelsel funksioneer, word deelname aan die proses vir die vrystelling van broodkoringvariëteite sterk aanbeveel.
Vanjaar is tien nuwe broodkoringkultivars vir finale vrystelling goedgekeur (Tabel 1) na aanleiding van verskeie kwaliteitsontledings deur die SAGL. Vyf van die tien kultivars is bedoel vir die suidelike produksiegebied met winterreënval en vyf vir besproeiingsgebiede. Geen nuwe kultivars is goedgekeur vir die noordelike droëlandgebied met somerreënval nie.
Die toetse deur SAGL verseker dat hierdie nuwe vrystellings van Agricol, Corteva, Limagrain SA en Syngenta nie net goed presteer wat groei en opbrengs betref nie, maar ook geskikte eienskappe vir maal en bak het. ’n Dokument met die kultivarevalueringsnorme sowel as die Koringforum-kultivarlys word op die SAGL-webwerf gepubliseer. Verkry toegang deur op die skakel te klik. https://sagl.co.za/wheat/industry-information/
Analitiese prosedures en vrystellingsnorme
Analitiese prosedures en vrystellingsnorme word saamgestel in samewerking met verteenwoordigers van koringtelers, produsente, meulenaars, bakkers en bergingsmaatskappye om markgerigte en kwaliteitsgedrewe koringproduksie in belang van koringprodusente en -verwerkers te verseker. Hierdie proses, soos in die vooruitsig gestel deur die koringherlewingstrategie wat in 2012 begin is, behels onder meer verslapte kriteria wat ’n wyer reeks gehaltespesifikasies vir die vrystelling van broodkoringlyne moontlik maak. Hierdie vrystellingsnorme word slegs toegepas indien die nuwe lyne wat vrygestel word ’n opbrengs van minstens 5% hoër as die huidige kommersiële broodkoringkultivars het.
Produsente, telers, meulenaars en bakkers het gesamentlik op die norme besluit met ’n spesifieke stel kwaliteitsparameters wat boonste en onderste perke het, wat bepaal word deur ’n stel primêre en sekondêre kwaliteitsnorme. Vrystellingsnorme gebruik bestaande kultivars as biologiese kwaliteitstandaarde om ’n verwysingsraamwerk te verskaf waarteen nuwe teellyne geëvalueer word. Slegs kultivars wat suksesvol kommersieel verbou word en oor aanvaarbare agronomiese en kwaliteitseienskappe beskik, mag as biologiese kwaliteitstandaarde oorweeg word.
Behalwe hoë opbrengs, let die telers ook op na verdraagsaamheid teen siektes soos roes en Fusarium, asook ’n hoë toleransie vir droogte.
SACTA
Die Suid-Afrikaanse Kultivar- en Tegnologie-agentskap (SACTA) wat in 2016 gestig is om heffings op verskeie selfbestuifde gewasse in te samel ten einde teelpogings in Suid-Afrika te ondersteun en te verbeter, is die dryfveer agter die vrystelling van nuwe graan- en oliesaadkultivars. Koring is die eerste gewas wat by hierdie ingryping baat gevind het.
Selfbestuifde gewasse stel produsente in staat om saad terug te hou vir hul nuwe aanplantings. Hierdie gewoonte spaar dalk aanvanklik geld met betrekking tot nuwesaadaankope, maar mettertyd lei dit daartoe dat produsente met verouderde genetika meeding op die wêreldmark, waar oorsese produsente met die nuutste saad en moderne tegnologie ’n beter produk lewer.
SAGL
Die SAGL voer verskillende ontledings uit om te verifieer dat nuwe koringvariëteite aan hierdie kwaliteitsparameters voldoen en hou ook die langtermynkwaliteitdata in ’n sentrale databasis. Sodoende kan historiese data verskaf word vir vergelyking. Die koste van hierdie ontledings sal in die toekoms gedek word deur die nuutgestigte Suid-Afrikaanse Wintergraanbedryfsagentskap (SAWCIA), wat statutêre heffings op koring insamel.
Deur vrystellingskriteria vir koringkultivars te verslap word hoë-opbrengskultivars wat steeds aan spesifieke kwaliteitstandaarde voldoen, nou aanvaar. Aangesien koringkwaliteit egter deur faktore soos klimaat, reënval en verbouingspraktyke beïnvloed word, is vaste kriteria onprakties. In plaas daarvan word bestaande suksesvolle koringkultivars as maatstawwe vir kwaliteit gebruik waarteen nuwe teellyne geëvalueer word.
Wanneer ’n biologiese standaard nie meer kommersieel geplant word nie, moet ’n vervangingskultivar geïdentifiseer word deur ’n streng seleksieproses wat minstens twee seisoene se data vereis. Bestaande kultivars kan deur maatskappye wat koring teel of die koringbedryf voorgestel word om as nuwe biologiese standaarde geëvalueer te word.
Dit is belangrik dat die agronomiese prestasie en opbrengspotensiaal van die gekose kwaliteitstandaard vergelykbaar is met dié van die telerslyne, aangesien hoër opbrengste in sommige gevalle dikwels gekoppel word aan laer proteïeninhoud. Groot verskille in die proteïeninhoud van telerslyne en die kwaliteitstandaard veroorsaak afwykings, veral in reologiese ontledingsresultate, wat die interpretasie en evaluering van telerslyne bemoeilik.
Enige veranderinge aan hierdie vrystellingsnorme en kwaliteitstandaarde moet deeglik nagevors en noukeurig oorweeg word. Dit word gedoen deur die Kultivar- en Tegniese Komitee van die Koringforum volgens die dokument “Analiseprosedure en Evaluasienorme vir die Vrystelling van Broodkoringteellyne vir die RSA” om by die langtermyndoelwitte van die teelprogramme te pas (Tabel 2). Die voorgestelde kultivar word teen die huidige standaard getoets en moet aan vasgestelde kriteria voldoen. Die SAGL doen die nodige ontledings.
Suid-Afrika se koringbedryfherlewingstrategie hang af van die handhawing van langtermyngehaltedata, die uitvoer van noodsaaklike ontledings en die versekering van stabiele vrystellingsnorme en kwaliteitstandaarde. Die SAGL is sentraal in hierdie proses en ondersteun die teel van hoëgehaltekoringkultivars wat aan markvereistes voldoen en die plaaslike koringbedryf ’n hupstoot gee. Die SAGL doen aansoek om befondsing om koringtelers se lyne tydens die eerstejaar-, voorlopige en finalejaarvrystellings te ontleed en reël ook elke jaar voorvergaderings, waar saadtelers kwaliteit en agronomiese resultate met produsente, bergingsmaatskappye en die maal- en bakbedrywe bespreek. Hierdie vergaderings, wat vertroulik gehou word en sonder besluitnemingsbevoegdheid is, betrek verskeie saadmaatskappye. Konsekwentheid is een van die belangrikste kwaliteitsfaktore.
Enige kultivar wat vrygestel word, moet in die eerste instansie van so ’n kwaliteit wees dat dit die plaaslike mark kan bevredig as dit as die dominante kultivar verbou word. Die relatiewe kommersiële waarde daarvan behoort vergelykbaar te wees met graan wat op die wêreldmark beskikbaar is. Tans word slegs rooi kultivars met medium-harde tot harde morfologiese eienskappe in die broodkoringklas toegelaat.
Volgens onlangse gesprekke by die jaarlikse Koringforum in Oktober, sal wit broodkoring egter moontlik binne die volgende jaar of twee in Suid-Afrika vrygestel word, maar dit sal eers na twee tot drie jaar kommersieel beskikbaar wees. Indien produsente dit aanplant, sal daar indringend na die graderingsregulasies vir broodkoring gekyk moet word. Daarby moet besluit word of dit met rooi koring vermeng sal word en of dit apart opgeberg moet word. Sodanige identiteitspreservering sal die toekenning van spasie by graanopbergingsfasiliteite bemoeilik aangesien dit die vraag na koringopberging teoreties sal verdubbel. Aangesien witkoringsemels heelwat ligter van kleur is, sal dit die voorkoms van volkoringbrood affekteer. Verbruikers sal dus aanvanklik ingelig en opgevoed moet word oor die kleurverskil sodat dit aanvaarbaar is vir die publiek.
CenGen
CenGen, ’n plaaslike plantgenetika-platform wat gespesialiseerde navorsing- en ontwikkelingsdienste verskaf aan planttelers en die Suid-Afrikaanse landbousektor, het ook ’n belang by die heel nuutste tendense in koringteling. Om meer te leer hieroor, het dr Renée Prins, direkteur van CenGen, van 22 tot 27 September 2024 die derde Internasionale Koringkongres in Perth bygewoon waar 850 wetenskaplikes van 52 lande hul kundigheid gedeel het. Die hoofboodskap was dat groot koringproduserende lande tans die diversiteit in koring en sy wilde spesies in diepte bestudeer en ook daarop fokus om die waarde van kiemplasmabanke wêreldwyd te ontsluit. Al die groot koringteelprogramme in die wêreld rapporteer dat hulle nie meer met genomiese seleksie en geenredigering eksperimenteer nie, maar dat hierdie nuwe tegnologie nou roetinegewys aangewend word. Plantgenoomredigering het die potensiaal om die impak van klimaatsverandering en plantsiektes te versag. In die lig van klimaatsverandering word daar ook aandag geskenk aan droogtetolerante koring om voedselsekerheid te bied.