WEES GEREED om te PLANT wanneer dit REËN

Gepubliseer: 11 Desember 2024

101

Pa-en-seun-span Gerhard en Jan Botma boer saam in die Botma Boerdery op die plaas Dodmore buite Bothaville. Jan is die derde geslag wat hier sy liefde vir die grond en landbou uitleef.

Bayer se DEKALB-baster DKC76-77BR is al vir vyf jaar een van die mielieprodukte wat op die plaas geplant word en in die 2023/2024-seisoen het dié baster sowat twee derdes van die boerdery se mielie-aanplantings verteenwoordig. Op Dodmore word net DEKALB-basters geplant.

Tydens die stroopseisoen het Botma besef daar is ’n gedeelte wat regtig belofte toon en hy het besluit om in te skryf vir die Groei vir Goud-opbrengskompetisie. Dit was die tweede keer wat hy in die afdeling vir mielieverbouing op watertafelgronde deelgeneem het en in 2024 het hy met die eerste plek weggestap.

Jan en klein Gerhard Botma.

’n Wenopbrengs
Hulle wenopbrengs wat op die blok behaal is, was 12,459 t/ha teen ’n variërende insetkoste van R1 046,65/ton.

Die Botmas volg ’n treinspoorstelsel met ’n gemiddelde rywydte van 1,05 m tussen die dubbelrye. Dit word teen ’n plant­populasie van 35 000 plante/ha geplant. Die spesifieke blok wat vir die kompetisie ingeskryf is, is op 6 November geplant. Afhangende van die seisoen, plant hulle normaalweg tussen 6 November en 14 Desember.

Botma het met ’n Lemken Equalizer (SL II)-planter geplant en die mielies is op 24 April met ’n John Deere S770 gestroop. Die planters is toegerus met presisietegnologie.

Die afgelope paar jaar sedert Botma op die plaas by sy pa aangesluit het, het hulle spesifieke aandag gegee aan hoe hulle plant en die grond bewerk. “Ons het reeds ’n paar veranderinge aangebring aan ons bewerkingsmetodes asook plantertegnologie.”

Wanneer hulle moet besluit oor wat om in die komende seisoen te plant, kyk hulle veral na ’n baster wat aangepas is vir die omstandighede in hulle gebied, wat droogtetoestande kan hanteer maar wat ook die potensiaal toon om ’n goeie opbrengs te lewer. Hulle gebruik die data wat deur maatskappyproewe ingesamel en verwerk word as riglyn vir hul keuse. Boeredae word bygewoon om na die proewe te kyk en om te bepaal watter nuwe basters geskik sal wees vir hulle boerdery-opset.

Om die graanboerdery aan te vul, boer hulle met ’n Santa Gertrudis-stoetkudde met die naam Sombrero Santas. Na stroop bewei die beeste die oesreste om hul wintervoeding aan te vul. Daar is egter jare wat hulle nie die beeste in die lande laat oorwinter nie omdat hulle dit wil bewerk om gereed te wees om vroeg te plant.

Die afgelope seisoen se reënval van 460 mm was minder as die gemiddeld en volgens Botma het dit laat in die seisoen begin reën. Hy sê die min reën en vog het baie onsekerheid gebring.

Hulle plaas het hoofsaaklik Avalon-tipe sand- en leemgrond wat hulle bestuur deur minimumbewerking toe te pas. Hulle doen ’n tandbewerking en gebruik dan ’n rolstaaf om die saadbedvoorbereiding te doen.

Grondontledings word elke drie jaar gedoen en dan word die kalk uitgestrooi na aanleiding daarvan. As bemesting het hulle 116 N (stikstof), 28 P (fosfaat) en 35 K (kalium) toegedien.

Volgens Botma het die land wat die wenopbrengs gelewer het geen spesiale behandeling ontvang nie. Hulle het die normale bestuurspraktyke gevolg wat op die res van die plaas toegepas word.

Wat onkruidbeheer betref, het hulle voor plant Baseline 960, Armadillo en Kalach 510SL van Arysta asook TBZ 500 SC van Typhoon Plant Protection gespuit.

Raad aan jong produsente
Kritieke aspekte waarop Botma in die boerdery fokus, is vogbewa­ring en optimale opbrengs. Die raad wat hy aan ander jong produsente gee, sluit ook hierby aan. “Sorg dat die lande altyd betyds bewerk is sodat jy net kan begin plant as dit reën. Dit is ook uiters belangrik dat ’n mens die plantseisoen met skoon lande begin om die on­kruidkompetisie uit te skakel.”

Sy ander raad is om nie af te skeep as dit kom by gehalteprodukte nie. “Kies en gebruik altyd die beter produkte.”

Soos baie ander jong produsente is sy pa vir hom ’n inspirasie en ook sy mentor.