Vele rolspelers dra by tot wen

Gepubliseer: 11 Desember 2024

289

Hilton Megaw is die vierde geslag van sy familie wat op die plaas Zandbult naby Douglas boer. Hy is al 18 jaar op die plaas en boer saam met sy pa, Garth, as die besigheid Zandbult Farms CC. Hulle het ’n kommersiële Brangus-stoet en boer verder met mielies, lusern en grondbone.

Dit was die tweede keer dat hy ingeskryf het vir die Groei vir Goud-opbrengskompetisie, maar die vorige keer was dit in ’n ander afdeling. Vanjaar het hy met die prys weggestap vir die hoogste opbrengs in die nuwe kategorie vir koringverbouing onder besproeiing in die suidelike gebied. Met ’n Sensako-variëteit, SST 8205 van Syngenta Saad, het hy ’n opbrengs van 11,18 t/ha behaal.

Die Megaw-gesin van links: Nathan (oudste seun), Connor (middelkind), Johanita, Hilton en Gemma.

Spanpoging
Hy beklemtoon dat hierdie toekenning nie net aan sy vernuf toegeskryf kan word nie. “Daar is soveel rolspelers wat ’n bydrae maak tot elke suksesoomblik op die plaas. Ek moet ook my ouers, vrou en kinders, asook die plaaswerkers bedank. Elkeen lewer ’n groot bydrae tot elke jaar se oes.”

Op die 35 ha-blok wat hy ingeskryf het, het hy presies dieselfde praktyke gevolg as vir die res van die SST 8205-koringaanplantings. “Ek het niks anders gedoen as wat ek op die res van die hektare gedoen het nie. Ek het dieselfde water- en kunsmistoediening gegee. Net voor strooptyd het ons gesien hierdie blok lyk besonder goed en ek is oorreed om in te skryf.”

In totaal het hy 105 ha koring onder spilpunt verbou. Hy het ook Pannar 3497 geplant. Megaw probeer om jaarliks ’n pakket van produkte van verskillende maatskappye te plant om sy risiko te versprei.

Die son sak oor die goue koringland op die plaas.

Die verdeling van die wintergewasse was soos volg: een vyf­de SST 8205, twee vyfdes Pannar 3497 en twee vyfdes lusern. Die SST 8205 is op 4 Julie 2023 geplant in 6 duim-rye teen ’n plantpopulasie van 90 kg/ha, soos deur die maatskappy aanbeveel. “Ek het die variëteit teen ’n hoër plantdigtheid geplant omdat dit nie so ’n goeie stoelvermoë as van die ander variëteite het nie. Ek het Pannar 3479 heelwat vroeër teen 65 kg/ha geplant.”

’n John Deere S780 is op 30 November 2023 gebruik om die blok te stroop. “Ek maak gebruik van stroperkontrakteurs en al hul toerusting, maar het gelukkig ook toegang tot hulle stroperkaarte en die data wat op my lande van toepassing is,” verduidelik Megaw.

Wanneer hy moet besluit oor koringvariëteite om te plant, kyk hy na goeie stoelvermoë, siekteweerstand, staanvermoë en hoë opbrengs. “Ek maak staat op die proewe wat die landboubesighede en saadmaatskappye doen. Ongelukkig is daar nie so baie koring­proewe nie. Van die saadmaatskappye plant wel by my mielie­proewe.”

Megaw pas ’n wisselboustelsel toe: Hy roteer die lusern elke derde jaar. Daarna skakel hy oor na koring en dan mielies vir drie aaneenlopende seisoene, waarna hy weer lusern sal plant.

Die onderskeie boerderyvertakkings is geïntegreer en volgens hom dra die beesboerdery hulle in die maande wat die gewasse nog op die lande is. “Die lusern help ook met ’n gesonde kontant­vloei in die somermaande.”

Met die Sensako-variëteit, SST 8205 van Syngenta Saad, is ’n opbrengs van 11,18 t/ha behaal.

Volgens Megaw pas hy presisieboerdery tot ’n sekere mate toe. “Ek maak gebruik van stroperkontrakteurs se stroperkaarte as een van die fondamente van my beplanning. My trekkers is almal met GPS-stelsels toegerus met outomatiese stuurtoestelle. Om water presies te bestuur, is vir my belangrik – daarom het ek belê in spoedbeheerders op die pompe (VSD). Elke spilpunt is toegerus met ’n satelliet- en internetkonneksie. As daar fout is met ’n spilpunt, kan ek dit afskakel. Dit help ook dat ek die water kan bestuur volgens die grondtipe in die land. Ek kan die spilpunt in sektore verdeel wat beteken dat ek op ’n duin of sandgedeelte van die land meer water kan toedien.”

Hy verduidelik verder dat hulle grondvogmeters gebruik om die vog in die grond te bepaal en dan die watertoediening aan die hand van die behoefte van die plante skeduleer. “Ons lees die meters ge­reeld en bestuur dan die water volgens die gewas se waterverbruik. Met besproeiing probeer ons maksimum opbrengs produseer met die water wat ons toedien.”

Hulle het laat reën gekry in die 2023/2024-plantseisoen, maar kon gelukkig ten spyte van beurtkrag voorbly met watertoediening. Die noukeurige waterbestuur het hiertoe bygedra. Hulle dien gemiddeld 25 mm/siklus toe en mik na 50 mm/week.

Die blok wat ingeskryf is, is ’n kombinasie van sand- en leemgrond.

Grondbewerking
Wat grondbewerking betref, doen hy ’n skeurtandbewerking van 500 mm diep waarna hy ’n ferm saadbed voorberei. Voordat hy plant, sal hy probeer om die land se waterprofiel vol te maak. “Ek probeer om in vogtige grond te plant sodat die saad so gou moontlik na plant kan ontkiem. Ek maak ook seker dat die land nie te nat is nie.”

Onkruidbeheer word met ’n sleepspuit gedoen. Hy het Starmax (14 g/ha) en Ramatrex (550 ml/ha) toegedien.

Siektebeheer is dieselfde op al die lande en dit doen hy deur middel van lugbespuitings. Hy het ’n swamdoder, Artea, teen 500 ml/ha toegedien. Die eerste bespuiting het Karate teen 70 ml/ha en Mulan teen 70 g/ha ingesluit. Die tweede bespuiting het Imidor 350 SC teen 190 ml/ha en Karate teen 60 ml/ha ingesluit.

Megaw sê hy dien ook ’n vloeibare silikaproduk toe om die plante se selwande dikker en sterker te maak. Sodoende het hy gesonder plante. Die silika-aanvulling verbeter gewasse se verdraagsaamheid teen biotiese en abiotiese stresverskynsels. “Ek dien AgrisilK van Andermatt Madumbi toe teen 1,5 liter/ha. Ons gebruik dit nou al jare met positiewe resultate. Ons dien dit deur die spilpunt toe so vyf tot ses weke na opkoms, sodra die eerste internode verskyn.”

Hy doen jaarlikse grondontledings en neem ook die inligting wat bekom is uit die stroperdata in ag om sy bemesting aan te pas.

Verder strooi hy standaard hoendermis (1 t/ha) en kalk (1 t/ha) op al sy lande drie weke na opkoms.

Hy sê dat hy deur sy hele lewe baie by sy pa geleer het. “My pa is vir seker my mentor. Ek het by hom geleer om vas te byt, sodat ’n mens van niks af kan groei om sukses te bereik. Hy het my geleer om altyd positief te bly, al gaan dit partykeer maar moeilik.”

Verder is hy gelukkig om in die Douglas-omgewing tussen wonderlike medeprodusente te boer. “Net soos wat ek altyd bereid is om te help waar ek kan, glo ek dat ander produsente in ons gemeenskap ook so voel. Ons sien boerdery nie as ’n kompetisie nie en medeprodusente ondersteun mekaar en gee raad waar hulle kan. Alles wat ons al bereik het, is net moontlik deur die Here se genade. Sonder Hom kan ons nie boer nie.”

Die Groei vir Goud-toekenning behoort aan al die rolspelers wat in die 2023/2024-seisoen ’n bydrae gemaak het tot sy opbrengs, sê Hilton Megaw. Van die belangrike mense op die plaas en waarsonder hy nie kan boer nie, is agter van links: Hilton se pa, Garth Megaw, Donald Seruwe, George Ayton (voorman), Gert Williams, Mannetjie Benade (tweede in bevel). Voor van links is Neels Riet, Willie Haai, Israel Seruwe en Megaw.