Viljee Crous het vanjaar die verhoog betree as wenner in die Groei vir Goud-opbrengskompetisie se afdeling vir sojaboonproduksie in die sentrale gedeelte van die land. Hy het ’n opbrengs van 5,03 t/ha met die Agricol-Don Mario-variëteit, DM 6.8iRR, behaal.
Hy is na sy oupa vernoem wat die boerdery saam met sy pa begin het, en vandag boer Viljee as vierde geslag Crous op die plaas Grootkuil tussen Kroonstad en Welkom in die Vrystaat.
Hy is verantwoordelik vir die aartappels en sojabone in die saaiboerdery. In die 2023/2024-seisoen het hulle besluit om sojabone tot die mandjie toe te voeg en het ’n 60 ha-proef geplant. Hierdie sojaboonproef was die moeite werd!
Dit was die eerste keer wat hy aan die kompetisie deelgeneem het. “Omdat hierdie sojaboonaanplanting ’n proef was, het dit nie eers by my opgekom om aan die kompetisie deel te neem nie. So ’n paar weke voor strooptyd het ek egter besef dat die aanplanting besonder goed lyk en het ek ons Agricol-Don Mario-agent, Izak Venter, gekontak en voorgestel dat ons die blok inskryf.”
Hy het 280 000 pitte/ha geplant met die hoop om 260 000 plantjies te realiseer. Die blok is op 10 November 2023 in 91 cm-rye geplant en is op 25 April 2024 gestroop. Sy variërende insetkoste het R855/ton beloop.
Kultivarkeuse
Wat kultivarkeuse betref, het hy gaan kers opsteek by ander produsente in die omgewing. “Ek het rondgevra wat ander produsente plant en ook gaan kyk na hulle aanplantings. Op die ou einde het ek besluit op DM 6.8iRR omdat dit ’n onbepaalde variëteit is wat goed in ons omgewing aard.”
Wanneer hulle oor nuwe mieliebasters moet besluit, kyk die Crouse wat maatskappye op boeredae ten toon stel. Hulle sal altyd eers nuwe basters in ’n klein proef plant om te sien hoe dit vergelyk met dit wat hulle reeds aanplant. “Ons sal so twee of drie sakkies saad by die saadmaatskappy kry om te toets en plant dit dan in ’n proef langs mekaar sodat ons die nuwe produkte met ons praktyke op ons grond teen mekaar kan vergelyk.”
2023/2024 se reënval het uitdagings gebring, sê Crous. “In November het ons goeie neerslag gehad, maar midsomer was dit droog en warm. Van ons mielies het swaar getrek in daardie tyd. Die mielie-aanplantings wat ons later in die seisoen gedoen het asook ons aartappels het darem nog by die reën wat ons in Maart ontvang het, gebaat. Omdat die sojaboonvariëteit ’n onbepaalde groeier is, kon dit nog na die laat neerslag ’n paar groen lote uitstoot wat bygedra het tot addisionele opbrengs.”
Die blok waar die sojabone geplant is, bestaan hoofsaaklik uit sanderige grond met ’n kleipersentasie wat wissel tussen 12% en 18%. “Ek het die sojabone op ’n land geplant waar daar in die vorige seisoen aartappels geplant was. Ek het geen ekstra bemesting gegee nie en slegs die land voorberei vir plant.”
Omdat die proef so ’n sukses was, gaan hulle in 2024/2025 weer 60 ha sojabone plant op ’n land waar dié jaar aartappels was. Crous sê egter dat hulle vanjaar meer gaan bemes met die oog op die 2025/2026-seisoen wanneer hy dan mielies na die sojabone wil plant.
In die verlede het hulle die aanplantings afgewissel tussen mielies en aartappels. Die wisselboustelsel het so gewerk: een jaar aartappels, twee seisoene mielies, opgevolg deur ’n rusjaar en dan weer aartappels. “Ons wil egter nou sojabone in die stelsel inbou en van die lande sal dan roteer tussen aartappels, sojabone, mielies, ’n rusjaar en dan weer aartappels,” verduidelik Crous.
Hulle pas minimumbewerking toe, maar kyk ook na die toestand van die grond voor elke plantseisoen. Grondgesondheid is vir hulle uiters belangrik, daarom doen hulle jaarliks grondontledings. Hierdie resultate bepaal die hoeveelheid kalk en gips wat hulle per land sal toedien. Die kalk word variërend toegedien sodat daardie gedeeltes op die land wat ’n swakker opbrengs gelewer het, met meer kalk reggestel kan word.
Ammoniakgas word diep in die stroke geplaas waar hulle ’n skeurtandbewerking doen. Die gas bind met die gronddeeltjies en is dan later in die seisoen as stikstof in die grond beskikbaar. Korrelkunsmis word saam met plant toegedien.
Op die sojaboonland het Crous na plant ’n vooropkomsonkruiddoder gespuit en dit op die tweeblaarstadium opgevolg met Roundup (glifosaat). Hy het ’n tweede bespuiting glifosaat ’n paar weke later met ’n insekdoder gekombineer wat hy spesifiek gespuit het om bolwurm te beheer. Hy het die sojabone een keer geënt en ook ’n blaarvoeding gespuit. Die plaagbeheerprogram op mielies behels ook ’n vooropkomsonkruiddoder wat na plant gespuit en met Roundup opgevolg word.
’n Kommersiële Bonsmara-kudde en wildboerdery vul die gewasverbouing aan. Hulle doen stoppelbeweiding in die winter. “Die beeste word na stroop in die mielielande gejaag om vir drie tot vier maande op die oesreste te oorwinter. Net voordat ons met grondvoorbereiding vir die nuwe seisoen begin, word die beeste teruggeneem veld toe.”
“Elke vertakking word apart bestuur, maar alles vorm tog deel van die groter boerdery. Gedurende sekere seisoene sal sekere van die afdelings ’n groter rol speel as dit by kontantvloei kom,” verduidelik Crous.
“Hoewel opbrengs belangrik is en ’n produsent altyd kyk hoe hy sy opbrengs kan verbeter, is dit belangrik dat ons ook ’n oog hou op ons insetkoste en uitgawes. Daardie goue balans tussen opbrengs en wins is deurslaggewend. Alles wat jy doen en al die beleggings wat in jou boerdery gemaak word, moet sin maak,” beklemtoon hy.
Dit bring hom by die rede waarom hy boer. “Daar is niks lekkerder om te sien as hoe die natuur sy werk doen nie. Om te sien hoe jy saad plant, hoe elk van daardie saadjies opkom en gedy tot ’n plant totdat jy in die stroper sit en die vrug op jou arbeid van die lande afhaal, bly ’n ongelooflike gevoel. Natuurlik moet ’n mens bereid wees om hard te werk. Dit bly ook belangrik om te weet wat op die plaas en in die lande gebeur.”
Sy raad aan jong mense wat dit oorweeg om ook te boer, sluit hierby aan. Hy meen dit is belangrik om seker te maak dat ’n mens ’n liefde vir boerdery het. “Boerdery is nie vir almal nie. As jy nie lief is vir die natuur en die grond nie, sal jy nie ’n sukses maak van boerdery nie. Jy moet bereid wees om hard te werk, om in die lande te loop en alles noukeurig dop te hou. Verder moet jy bereid wees om die uitdagings in die pakkie saam met die goed en lekker te aanvaar.”
Net soos sy pa vir hom ’n mentor is, hoop hy dat hy ook vir die jonger geslag in die familie as ’n mentor optree. Crous sê dat hy ongelooflik baie by sy pa geleer het en nog steeds leer. “Ons is gelukkig dat hier ’n magdom kennis binne die familie opgesluit lê.”
Wat die toekoms betref, beplan hy om verder in presisietoerusting te belê. “Ek wil ook meer proewe doen om te kyk wat die invloed van rywydtes en plantspasiëring op insetkoste en bemesting is.”
Daar is nie veel wat hy in die landbou sal wil verander nie. Trouens, hy beklemtoon die uiters goeie diens wat hulle van insetverskaffers ontvang. “As ons vanoggend oor iets bel, is daar vanmiddag iemand op die plaas om met ons te kom gesels. Ons put waarde uit die proewe wat die landboumaatskappye plant.”