Om aan die Groei vir Goud-opbrengskompetisie deel te neem, bied die ideale geleentheid om jouself te meet. So meen Danie Bester, voormalige dubbelgoud-wenner in dié kompetisie.
“Die kompetisie nooi jou as’t ware uit om jouself te toets. Jy kan aan die een kant bepaal wat die potensiaal van ’n spesifieke gewas op jou plaas onder jou bestuurspraktyke is en aan die ander kant kan jy jouself met ander produsente vergelyk. So kan jy ’n goeie aanduiding kry of jou praktyke werk en waar en hoe jy nog kan verbeter deur jaarliks klein verstellings te doen,” sê Bester.
Hy produseer sojabone en geelmielies onder droëlandtoestande in ’n minimumbewerkingstelsel op Rietbult Estates in die Balfour-omgewing. Hy plant 55% mielies, 45% sojabone en elke tweede jaar sonneblom om ’n gedeelte van die sojaboonhektare te vervang. Na strooptyd bewei die beeste die oesreste, maar hy maak seker dat daar genoeg materiaal op die lande gelaat word om steeds die grondoppervlak te bedek en teen die natuurelemente te beskerm.
’n Wenopbrengs
Bester het vanjaar die eerste posisie beklee in die afdeling vir sojaboonproduksie in die oostelike Hoëveld met ’n opbrengs van 5,470 t/ha met ’n Agricol-Don Mario-kultivar, DM 5351 RSF. Hy het 175 000 plante/ha in die grond gesit en ’n finale plantestand van 155 000 gerealiseer. Hy plant die sojabone in ’n minimumbewerkingstelsel in 76 cm-rye omdat hy oortuig is dat dit vir hom ’n mikroklimaat in die lande skep tot voordeel van die sojabone se opbrengspotensiaal.
“Na jare se toets en probeer met proewe, het ek nou al baie kennis opgedoen om te weet wat ek moet doen om my plante gelukkig te hou. Ek gebruik die inligting wat ek terugkry met elke blaarontleding en raai nie meer oor wat kort nie. Ek maak ’n berekende besluit. Die weer het natuurlik die laaste sê, maar ek kon uit twee vorige seisoene ’n patroon optel om die angel se byt effens te demp.”
Die gedeelte wat hy ingeskryf het, is op 2 November 2023 met ’n Case Earlyriser 2150-planter geplant.
Volgens Bester is plantdatum deurslaggewend, veral as dit by sojaboonproduksie kom. “Ek hou daarvan om vroeg in die seisoen te plant. Ek hou egter steeds die grondtemperatuur dop omdat dit ’n invloed kan hê op die plant se vermoë om die res van die seisoen te presteer. Deur vroeër te plant, maak ek seker dat die plante meer sonlig ontvang, wat hulle meer tyd bied om te blom en meer peule te vorm,” verduidelik hy.
Hy bepaal reeds voor planttyd watter land hy vir die kompetisie gaan inskryf. “Ek wil weet hoe ek die opbrengs bereik het en ek wil seker maak dat ek dit elke jaar kan herhaal of daarop verbeter.”
’n Tweejaarwisselbousisteem word gevolg waarin die mielies en sojabone of sonneblom afgewissel word. Hy het nie oorlêlande nie, maar plant wel dekgewasse tussen seisoene as die tyd en seisoen dit toelaat.
Liefde vir grond en natuur
Bester benader sy boerdery met ’n liefde vir die grond en natuur, maar ook wetenskaplik – hy plaas klem op presisieboerdery, grondgesondheid en wisselbou. Vorige jare se inligting is nuttig in die beplanning vir die komende seisoen; so verbeter hy produksie. Om winsgewend en volhoubaar te produseer, is kennis en inligting noodsaaklik vir beplanning. “Hoe meer sinvolle data jy op jou plaas versamel, hoe beter prentjie het jy van wat werklik aangaan.”
Hy is oortuig daarvan dat 80% van ’n gewas se opbrengs deur die toestand van die grond bepaal word. “Produktiwiteit is vasgelê in die grond. Hoewel ’n variëteit ’n sekere opbrengspotensiaal het, word opbrengs ook bepaal deur vog en die beskikbaarheid en opneem van voedingstowwe. Dit hang saam met die grondpraktyke wat gevolg word. Slegs wanneer daar biologiese aktiwiteit in die grond is wat voedingstowwe beskikbaar stel, kan die plante dit opneem. Die oorblywende 20% van die opbrengspotensiaal word deur die kultivar, implemente en plantpresisie bepaal,” verduidelik hy.
Die teoretiese potensiaal van elke stukkie grond moet bepaal word. “Bestuursones vorm die basis van presisieboerdery omdat dit ’n aanduiding gee van die verskillende variasies. As die inligting saam met die stroper se opbrengsdata gebruik word, is dit moontlik om vas te stel hoe ’n mens elke stuk grond optimaal kan benut.”
Hy verduidelik as hierdie praktyk gevolg word, is dit moontlik om vas te stel of daar optimaal op elke stukkie grond geproduseer word. Sou ’n mens dan nie die verwagte opbrengs behaal nie, begin die naspeurwerk daar, meen hy. “Dit is die verskil tussen data en inligting. Die data moet so geïnterpreteer word dat dit vir jou iets beteken.”
Met gereelde tussenposes neem Bester grond- en blaarmonsters deur die jaar. So kan hy die beskikbare vlakke van voedingstowwe bepaal. Weer eens gebruik hy sy stroperdata om die opbrengs wat hy op ’n bepaalde land behaal het met die resultate van die blaar- en grondmonsters te vergelyk.
Deur die monsters met mekaar en met vorige seisoene se stroperdata te vergelyk, kan hy bepaal of swak wortelontwikkeling, stres, tekorte in die grond of verdigtingslae die oorsaak was van swakker prestasie. Regstellings word op grond hiervan gedoen. Die inligting help verder om bewerkingsfoute te identifiseer en gevolglik kan implemente reg gekalibreer word. “As die probleem geïdentifiseer is, kan regstellende stappe gedoen word,” beklemtoon hy.
Die inligting en resultate van die monsters bepaal in ’n groot mate die varieerbare plantestand en ander chemiese toedienings. “Grondbestuur is nie ’n bestuurspraktyk wat op sy eie bene staan nie – dit vorm deel van my totale bestuursingesteldheid.”
Hy beklemtoon verder dat vogbestuur hand aan hand met grondgesondheid gaan. “Ons moet ons beskikbare waterbronne so doeltreffend en optimaal as moontlik bestuur. Vir gewasse om te gedy benodig hulle genoeg grondvog, en om vog in die grond vas te vang, het ons gesonde grond nodig. “Gesonde grond vol voedingstowwe is die sleutel tot my sukses. Genoeg organiese materiaal en die regte verhouding tussen die mikro-elemente dra daartoe by dat die plante die sonlig beter kan benut en deur fotosintese in opbrengs kan omsit.”
Onkruidbeheer vorm ’n belangrike deel van Bester se produksiesiklus en hy glo tydige bespuitings is uiters belangrik. “As jy te laat spuit, gaan jy die res van die seisoen sukkel.” Voordat hy sojabone plant, doen hy ’n algehele bespuiting en volg dit op na opkoms. Vir hom is glifosaat die veiligste produk om op sojabone te gebruik.
Hy vertel dat die 2023/2024-seisoen natterig begin het, maar dat die laat somerreëns weggebly het. “Maart-maand was senutergend. Hoewel ons deur die groeiseisoen 268 mm reën ontvang het, het dié warm en droë maand wel veroorsaak dat ek opbrengs ingeboet het. Dit het egter net weer bevestig dat my benadering om vog te bewaar en op plantgesondheid te fokus, die moeite werd is. Bewaarde vog het gehelp om die enkele buie se tussenposes te oorbrug.”
Benewens die data wat Bester jaarliks opbou, glo hy ook aan proewe. “Ek toets eers nuwe kultivars, bestuurstegnieke, implemente en bewerkings op klein skaal. As dit in die proewe werk, sal ek dit met aanpassings op groter skaal implementeer.”
In die proewe vergelyk hy nuwe kultivars met mekaar en ook met ouer kultivars om te bepaal watter kultivar vir sy plaas en omstandighede geskik sal wees. Hy kyk ook na die uitwerking wat stand op opbrengs het. Verder toets hy verskillende maatskappye se chemiese produkte en voedingstowwe op die kultivars. In die sojaboonkultivar- en -standproewe vergelyk hy die opbrengs in strookproewe met ’n stand van 60 000 tot 300 000 plante/ha.
Raad vir hoër opbrengste
Bester hou daarvan om gedagtes en planne met ander produsente uit te ruil. Hy gaan jaarliks op ’n besoek aan die VSA om ook daar met produsente te gesels.
Tog waarsku hy daarteen om jou ore vir enigiemand uit te leen. “Ek het met baie produsente te doen – ook in my konsultasiegroep – en dikwels word daar te maklik rondgespring deur te veel na bemarkingstories te luister. Hou by ’n konstante plan, maar probeer ’n paar dinge.”
Volgens hom is dit nodig om die volgende in gedagte te hou wanneer jy op opbrengs fokus:
- Hou altyd die oog op winsgewendheid ook – moenie net opbrengs najaag nie.
- Kompeteer met jouself.
- Hou noukeurig rekord van alles sodat jy elke jaar jou data met vorige jare kan vergelyk. Dit is al manier hoe jy kan sien waar en in watter mate jy verbeter.
- Bly ingelig deur te lees en met ander produsente te gesels. Woon ook inligtingsdae by.
- Fokus daarop om jou opbrengs te beskerm.